PITKOS UIT PSALM 119

alternate textTe midde van die populêre uitsprake deur leiers in die Christelike arena dat die Torah uitgedien en “slegs vir die Jode bedoel” is, troon Tehielliem (Psalm) 119 uit as ‘n banier vir Yahweh se geregtigheid en as ‘n teken wat die holruggeryde idees van mense weerspreek. Hoe ‘n mens Ps 119 met ‘n oop gemoed kan deurlees en dan omdraai en sê “dis nie die bedoeling dat alle gelowiges só oor die Torah moet voel nie” of “dis nie die bedoeling dat mense vandag nog só oor die Torah moet voel nie”, gaan my verstand te bowe! Daar is ‘n innerlike skoonheid aan hierdie psalm wat mense onder hulle voete vertrap wanneer hulle volhou met die leuen dat die Messias gekom het om die Torah te beëindig. In hierdie psalm tref ons ‘n passie en ‘n hunkering aan wat diep uit die binneste kamers van ‘n opregte mens se hart kom, ‘n passie wat Yahweh self in elke mens ingebou het en wat geen mens durf wegpraat of met ‘n goedkoop doktrine durf uitwis nie.

Wat hierdie psalm só merkwaardig maak, is dat dit nie bloot ‘n opdrag is om die Torah te onderhou nie. Ps 119 is die duidelikste kommentaar in die hele Skrif op die gedeeltes in Shaúl se briewe waar ons lees dat die gelowiges in die Messias nie ONDER die Torah is nie. Wil jy graag weet wat dit beteken dat jy nie ONDER die Torah is nie? Gaan lees dan Psalm 119. Daar sal jy die uitsprake ontdek van iemand wat geweet het dat hy nie ONDER die Torah is nie. Nee, die Torah was ONDER hom – rondom Hom, bo Hom, in Hom. Die Torah het hom gedra, geïnspireer, opgebou, versterk – maar NOOIT onderdruk nie. En as hy miskien met tye gevoel het dat hy met sy optrede ONDER die Torah gekom het en dat die Torah hom aankla en aanspreek, dan het hy juis dit gedoen wat die Torah sê hy moes doen: berou getoon, omgedraai en teruggekeer na Yahweh en na sy Torah. Dan het hy opnuut die Torah omhels en dit in sy hart gekoester – met die absolute sekerheid dat hierdie WOORD hom sou beskerm en sou lei en sou vervul.

Psalm 119 is onderverdeel in 22 dele of 22 paragrawe van ongeveer 8 verse elk – een deel of een paragraaf vir elke letter van die Hebreeuse “alef-bet” of alfabet. Elke vers van elkeen van die 22 dele begin met dieselfde letter van die Hebreeuse alfabet. Die eerste paragraaf is vanaf vers 1 tot vers 8. Elke vers in hierdie paragraaf begin met die letter “alef”. Elke vers in die tweede paragraaf (vers 9-16) begin met die tweede letter van die alfabet (“bet”), en so aan. Kom ons kyk kortliks na enkele hoogtepunte uit slegs die eerste gedeelte of eerste paragraaf van Ps 119.

Die eerste vers van hierdie psalm klink so: “Geseënd is die opregtes van weg, wat in die Torah van Yahweh wandel.” Hier sien ons al reeds die patroon wat in die res van die psalm gevolg word. Die Torah is nie iets waarna jy soms gaan kyk nie. Dis nie iets wat jy in ‘n boek of in ‘n biblioteek gaan naslaan nie. Dis nie iets wat jy nader trek en wegstoot soos jy lus het nie. Nee, dis iets waarin jy wandel, as jy ernstig is daaroor om ‘n opregte van weg oftewel ‘n OPREGTE VAN HART te wees. As jy volgens ‘n sekere patroon of volgens ‘n sekere reël wandel, dan beteken dit daardie patroon of daardie reël is met jou en in jou en rondom jou ORAL waar jy gaan – tot aan die einde van jou lewe. Dit ráák elke deeltjie van jou bestaan. Daarom het Yahweh vir die volk gesê: “Dit moet in jou hart wees; jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe” (Deut 6:6-9).

Die tweede vers van Psalm 119 is nog ‘n kragtige uitspraak: “Geseënd is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek.” Interessant dat Ps 119 met twee sinne begin wat albei die woord “geseënd” bevat. Kan jy jou voorstel hoeveel beswaar daar aangeteken sal word as ‘n mens dit sou waag om hierdie twee “saligsprekinge” by die nege van die Messias in Matteus 5 te voeg? Of beter nog: Kom ons begin met Psalm 1:1-2: “Geseënd is die man wie se behae in die Torah van Yahweh is”. Dán Psalm 119:1: “Geseënd is die opregtes van weg, wat in die Torah van Yahweh wandel”. Dán Psalm 119:2: “Geseënd is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek”. En dán die nege ander saligsprekinge van Matteus 5. Dan is daar mos twaalf, altesaam – wat juis ‘n betekenisvolle getal is wat dikwels in die Skrif voorkom!

Maar om terug te kom na Ps 119:2. Dit is duidelik dat om Yahweh se getuienisse te bewaar en Hom van ganser harte te soek, nie van mekaar losgemaak kan word nie. Jy kan nie sê jy soek Hom van ganser harte, maar jy is nie bereid om sy getuienisse te bewaar nie. En in die konteks van Ps 119 en die res van die Skrif is dit absoluut duidelik wat dit beteken om sy getuienisse te bewaar: Dis om sy Torah lief te hê, na te volg en in jou hart te bewaar. Interessant dat daar veral in die boek van Openbaring dikwels na die getuienis van Y’shua verwys word. Die getroue gelowiges van die laaste dae sal hieraan uitgeken word: Dat hulle vashou aan die Woord van Yahweh en die getuienis van Y’shua. Wat maak die getuienis van Y’shua so belangrik en so deurslaggewend? Antwoord: Die feit dat Y’shua altyd gesê het het dat sy eie getuienis nie in een opsig verskil van die getuienisse van sy Vader nie. Nog ‘n duidelike bewys dat Y’shua nie gekom het om ‘n einde aan die Torah te maak nie.

Kom ons kyk na die vierde vers van Psalm 119: “U het u bevele gegee om dit trou te onderhou”. Die Hebreeuse woord wat hier met “trou” vertaal word, is “me’od”. Die betekenis van hierdie woord word in Engels aangegee as: “vehemently, diligently, utterly”. Vir sommiges mag hierdie vers as ‘n groot verrassing kom. Die Vader het nie sy bevele gegee met die idee om dit later weer te onttrek nie. Hy het ook nie sy bevele gegee as ‘n breë riglyn vir mense om in ag te neem as dit nie aanstoot vir ander gee nie. Hy het nie sy bevele gegee met die toegewing dat mense dit maar sporadies en halfhartig en onakkuraat kan uitvoer nie. Nee, hy gee sy bevele met die bedoeling dat dit met toewyding en stiptelik en met elke greintjie energie uitgevoer sal word. En hier moet ons nie vinger wys na hulle wat nie die Torah ernstig opneem nie. Hier moet ons kyk na onsself en na ons eie gesindheid teenoor die Torah. As ons sê dat ons die Torah liefhet, moet ons optrede dit bewys. Dan moet ons nie links en regs toegewings maak met die Shabbat, of met die feeste, of die nuwemane of met die gee van tiendes of met die bywoning van die byeenkomste van die gelowiges nie. Yahweh het sy opdragte gegee met die bedoeling dat dit met ‘n volkome hart uitgevoer sal word.

Terwyl die eerste twee verse van die eerste paragraaf van Psalm 119 albei met die woord “geseënd” begin, begin die laaste twee verse van die eerste paragraaf albei met die woorde “Ek sal …”. In vers 7 verklaar hy: “Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer” en in vers 8: “Ek sal u insettinge onderhou”. Die skrywer is dus nie net diep onder die indruk van hoe geseënd ‘n mens is as jy die Torah in jou lewe het nie; hy is ook vasberade om die Torah beter te leer ken en dit al die dae van sy lewe te onderhou. Vers 7 is basies ‘n verklaring dat hy die Torah sal bestudeer (“Ek sal u regverdige verordeninge leer”). Vers 8 is ‘n verklaring dat hy die Torah sal onderhou. Om dit bloot te bestudeer, is nie genoeg nie. Die hele punt is om dit te onderhou, dit wil sê te doen. Omdat baie gelowiges só gekondisioneer is om te glo dat Y’shua die Torah vervul het en dat sy volgelinge dus nie meer die Torah nodig het nie, hoor hulle nie wat Y’shua self gesê het nie: “Ek het nie gekom om die Torah te ontbind nie, maar om dit te vervul” (Hierdie “vervul” moet verstaan word soos die “vervul” in Num 8:24: “hy moet kom om sy plig te vervul by die dienswerk van die tent van byeenkoms”). Y’shua het gekom om die Torah te bestudeer (dink aan die keer toe sy ouers Hom as 12-jarige in die tempel aangetref het), maar Hy het ook gekom om die Torah te vervul, d.w.s. te onderhou, sodat ons wat sê dat ons sy volgelinge is, ook die Torah kan onderhou.

Wat is die gevolg wanneer iemand, soos hierdie skrywer van Psalm 119, daarop uit is om die Torah te bestudeer en te onderhou? Die antwoord kom na ons in die sewende vers: “Ek sal U loof in opregtheid van hart …”. Meeste gelowiges wil die Vader loof in opregtheid van hart. Maar wie is bereid om Yahweh se eie kriterium vir ‘n opregte hart te aanvaar? Wie is bereid om te erken dat die mens nie sy eie beoordelaar kan wees van wat ‘n opregte hart is en wat nie ‘n opregte hart is nie? Wie is bereid om Yahweh se Woord te aanvaar en op te staan en te sê: Ek het nog altyd gedink ek loof U met ‘n opregte hart, maar nou verstaan ek dat geen hart voor U opreg kan wees as dit nie ‘n hart is wat erns maak met u Torah nie.

No tags for this post.

One Response to PITKOS UIT PSALM 119

  1. Francois says:

    Amein & baie dankie.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »