PESAG, FEES VAN HOOP

alternate textTerwyl ‘n mens deesdae kort-kort hoor van allerhande nuwe soorte feeste wat gehou word – kunste-feeste, bier-feeste, jazz-feeste, kreef-feeste, olyf-feeste, oester-feeste, film-feeste en nog baie meer, is daar nie baie mense wat notisie neem van Pesag, een van die mees betekenisvolle en oudste gedokumenteerde feeste in die wêreld nie. Baie meer as ‘n miljoen mense het deelgeneem aan die eerste Pesach toe die Israeliete voor hulle uittog uit Egipte lammers geslag het, ongesuurde brode geëet het en die bloed van die lammers aan hulle deurkosyne gesmeer het. Omtrent 500 jaar later, toe GiezkiYah (Hiskia) koning van die Yehudah was, was daar weer so ‘n gedokumenteerde Pesag wat volgens 2 Kron 30:13 deur ‘n “baie groot vergadering” – moontlik soveel as 200 000 mense – bygewoon is (op daardie stadium was die tien Noordelike stamme reeds in ballingskap na Assirië weggevoer en was die land se bevolking baie kleiner). Ongeveer 800 jaar later, in die eerste eeu ná die Messias se geboorte, skat die bekende historikus Josephus (wat in die jaar 37 n.M. in Jerusalem gebore is) dat die jaarlikse Pesag fees in Jerusalem deur meer as 2 miljoen mense bygewoon is.

Daar moet iets baie spesiaals aan hierdie fees wees. Nie net omdat dit in die verlede deur duisende mense bygewoon is nie, maar ook omdat hierdie fees deur al die eeue heen nog altyd te midde van stryd en verdrukking en teenkanting plaasgevind het. Die eerste Pesag het plaasgevind in die konteks van meer as 400 jaar se swaarkry in Egipte – 430 jaar van verdrukking en slawerny en onreg onder die ysterjuk van Egipte. Die Pesag in GiezkiYah se tyd het met net soveel drama gepaard gegaan. GiezkiYah se voorganger was Agaz wat die gereedskap in tempel stukkend geslaan het, afgodediens in elke dorp bevorder het en Yahweh op elke denkbare manier teëgegaan het. En in Josephus se tyd was dinge nie veel beter nie. Met Pesag in die jaar 50 n.M. was Cumanus die Romeinse prokurator in Jerusalem. Hier is Josephus se beskrywing van daardie jaar se Pesag vieringe:

“Cumanus was afraid lest an attempt at resolution be prompted by (the multitudes who came to Jerusalem for the feast), so he ordered one company of soldiers to take their weapons and stand guard in the porticoes of the Temple to repress any attempts of rebellion that might begin. Indeed, this was what previous procurators of Judaea had done at such festivals. But on the fourth day of the festival, a certain soldier displayed his uncovered genitals to the multitude. This action put those that saw him into a furious rage, and made them cry out that it was not an insult to them, but an impiety against God. Some of them even reproached Cumanus, and asserted that the soldier was prompted by him. When Cumanus heard this he was himself not a little provoked at such reproaches laid upon him, yet he merely advised them to cease their desire for revolution and not to ignite a riot during the festival. But when he could not induce them to be quiet, for they continued their insults toward him, he ordered the whole army to take full armor and come to Antonia, which was a fortress that overlooked the Temple. The multitude, when they saw the soldiers, became frightened and hastened to flee; but as the passages of the exits were narrow, and as they thought their enemies were pursuing them, they were crowded together in their flight, and a great number were pressed to death in those narrow passages. Indeed, the number that perished in this tumult was calculated to be twenty thousand. So they had mourning instead of festivities; and all of them forgot their prayers and sacrifices, and took themselves instead to lamentation and weeping. Such were the sufferings produced by the lewdness of a single soldier” (Flavius Josephus, Antiquities of the Jews, 94 CE).

‘n Mens kan met reg wonder waarom Pesag al die eeue nog met soveel stryd gepaard gaan het en waarom daar, in plaas van feesvreugde, dikwels ‘n wolk van somberheid rondom hierdie fees hang. Selfs vandag nog. Meer as een persoon het al vanjaar vir my gesê dat dit lyk of al die magte van die duisternis losgelaat word, hoe nader ons aan Pesag kom. Miskien verstaan ‘n mens dit beter as jy gaan lees wat geskryf staan in YermeYahu (Jeremia) 7 – wat normaalweg saam met hierdie week se Torah porsie gelees word: “Van die dag af dat julle vaders uit Mietsrayiem uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders … daarom … sal Ek uit die stede van Yehudah en uit die strate van Yerushalayiem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid” (Jer 7:25,26 en 34).

Let veral op die woorde: “Van die dag af dat julle vaders uit Mietsrayiem uitgetrek het …”. Daardie dag was dit die dag van Pesag. Pesag het simbolies geword van Yahweh se volk wat hulle nek teen Hom verhard het. Ek dink nie daar was ooit ‘n Pesag ná daardie eerste een in Egipte waarop die volk nie herinner is aan hulle eie rebelsheid en ongehoorsaamheid nie. Toe GiezkiYah begin regmaak het vir een van die grootste Pesag byeenkomste wat in die Skrif beskryf word, het die klem hoofsaaklik op reiniging en suiwering geval. In die twee hoofstukke waarin hierdie proses van voorbereiding beskryf word (2 Kron 29 en 30), word daar sewe keer woorde gebruik wat met reinheid of reiniging te make het. Verder ook woorde soos “afsonder” en “herstel” en “verootmoedig” en “bekeer”. Alles en almal moes gereinig en gesuiwer word. Hulle wat van Yahweh af weg gebeur het en afgestomp geraak het, moes weer terugkeer na Hom toe. Die rede hiervoor word in 2 Kron 29:6 gegee: “Want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van Yahweh onse Elohiem, en hulle het Hom verlaat …”.

Vanjaar met Pesag om die draai word ons weer herinner aan al die dinge rondom ons wat ons van Yahweh afgestomp en weggetrek het. Daar is sommiges van ons wat dalk begin moed verloor het. Daar is sommiges wat sukkel om te glo dat dit nog enige waarde het om ‘n fees soos Pesag te vier. Nie net in die strate van Jerusalem nie, maar ook in die strate van Suid-Afrika, hoor ‘n mens deesdae nie meer stemme van vreugde en stemme van vrolikheid nie. Die stem van die bruidegom en die stem van die bruid het plek gemaak vir die stemme van mense wat kla dat ons land in ‘n nuwe soort wildernis verander het – waar geregtigheid, respek en integriteit onbekende begrippe geword het en waar vrede en rustigheid totaal ontbreek.

Hoe moet ons ons voorberei vir Pesag? As ons kyk na hoe dit rondom ons lyk, het ons geen ander keuse nie. Die profeet YermeYahu het die spyker op die kop geslaan. Die rede waarom ons strate en ons huise en ons gemeenskappe lyk soos wat dit lyk, is omdat die Woord van Yahweh nie meer gehoor word nie en omdat so baie mense hulle nekke teen die Almagtige verhard. As Israel ‘n hardnekkige en hardkoppige en ongehoorsame volk was, wil ek nie weet watter soort nasie ons hier in Suid-Afrika is nie. Maar elke jaar kom Pesag om weer vir ons ‘n kans te gee om deur Yahweh se proses van reiniging en restourasie en bekering en afsondering te gaan, sodat ons ons koppe kan oplig en moed kan skep in hierdie wêreld. Pesag doen twee dinge op een slag: Dit herinner ons aan hoe die wêreld (en ons ook!) van Yahweh af weggedraai het en dit bring terselfdertyd vir ons hoop. Elke jaar met Pesag hoor ons opnuut hierdie boodskap van hoop: Vir die een wat besoedel is deur die onsuiwerhede van hierdie wêreld, is daar die moontlikheid van reiniging. Vir die een wat opgeslurp is deur die gees van korrupsie in hierdie wêreld, is daar die moontlikheid van restourasie. Vir die een wat besef dat sy lewe nie meer ‘n getuienis in hierdie wêreld is nie, is daar die moontlikheid van afsondering. Vir die een wat hom op ‘n weg bevind wat op ‘n afgrond afstuur, is daar die moontlikheid van bekering (omkering). En vir ons almal wat gefrustreerd en moedeloos en kwaad is omdat die wêreld lyk soos wat hy lyk, is daar die moontlikheid van verkwikking en nuwe perspektief. Pesag is waarlik ‘n fees van hoop en ons behoort met alles wat ons het, te gryp na hierdie geleentheid wat een keer ‘n jaar oor ons pad kom.

Pesag kan waarlik ‘n verskil maak in ‘n land waar die geluide van vreugde en vrolikheid nie meer vrylik weerklink nie en waar die stemme van die bruid en bruidegom nie meer gehoor word nie. Want in sy wese is Pesag ‘n fees. Niks kan vreugde en vrolikheid méér laat opvlam as ‘n fees soos hierdie nie. Ná die dood en opstanding van Y’shua het die fees van Pesag juis die dimensie van ‘n bruilof. Hy is die Lam wat geslag is, deur wie se bloed ons losgekoop is van die vloek wat sonde en ongeregtigheid oor ons gebring het. Elke keer as ons nou Pesag vier, word ons hieraan herinner en aan die vooruitsig dat ons eendag sal aansit aan ‘n groot maaltyd waarby Y’shua self teenwoordig sal wees en ons saam met duisende ander die woorde van Openbaring 5:12 sal uitroep: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en grootheid en lof.”

No tags for this post.

2 Responses to PESAG, FEES VAN HOOP

  1. Dries van Zyl says:

    kan mens anders as om die hoogtes uit te klim en uit die diepte van jou wese en uit volle bors “Halleluyah”uit te basuin. Abba Yaweh, hoe onnaspeurlik is U Weë en onbegrens U Liefde

  2. Gideon Rossouw says:

    Ja dis jammer dat Pesach jarliks deur Easter “oorskadu” word en die eintlike fees verduister word met hierdie idoliese gebruik elke jaar tydens Pesach. Ek bid dat die werklike boodskap sal deurdring tot die mensdom, en Easter verdwyn. Mag die koms v Messias spoedig wees. :wink:

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »