PESAG EN NUWE LEWE

alternate textDaar is soveel simboliek van nuwe lewe wat na vore kom as ‘n mens na die gebeure kyk wat met die Israeliete se uittog uit Egipte gepaard gegaan het. Dieselfde bonatuurlike ingryping van Yahweh wat gelei het tot die dood van die eersgeborenes van Egipte, het gelei tot LEWE (of die behoud/bewaring van lewe) van die eersgeborenes van Israel. Die geweldige klem op die eersgeborenes herinner ‘n mens juis aan nuwe lewe. Die Hebreeuse woord vir eersgeborene beteken, onder meer, om die eerste vrug of nuwe vrug of nuwe lewe na vore te bring. Die onderliggende tema van die hele exodus is ‘n tema van die wisselwerking tussen dood en nuwe lewe. Die slawerny en verdrukking in Egipte word met DOOD geassosieer, terwyl die uittog of die exodus met LEWE geassosieer word.

Aanvanklik het die volk maar min hiervan verstaan en terwyl hulle in die woestyn was, ná die exodus of die uittog, het hulle dikwels by Mosheh gekla dat hulle wens dat hulle maar liewer in Egipte gesterf het. Hulle kon nie verby die swaarkry in die wildernis kyk na die beloofde land en die potensiaal van LEWE wat daarin vir hulle opgesluit was nie. Met duisende van hulle wat in die woestyn gesterf het, het hulle begin dink dis Mosheh en die uittog uit Egipte wat die dood oor hulle gebring het. Snaaks hoe geneig ‘n mens is om alewig te dink dat dit vir jou beter sal wees om terug te gaan Egipte toe, waar jy voorheen was. In die tyd van die profeet YermeYahu (Jeremia) het presies dieselfde ding gebeur. Omstandighede was baie moeilik in Israel en die volk het gemeen dit sal vir hulle beter wees om na Mietsrayiem (Egipte) toe te gaan. Maar die woord van Yahweh was baie duidelik:

“As julle werklik julle aangesig rig om na Mietsrayiem te trek en weggaan om daar as vreemdelinge te vertoef, dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Mietsrayiem inhaal; en die honger waar julle voor bang is, sal daar in Mietsrayiem kort agter julle aankom, en julle sal daar sterf. Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Mietsrayiem te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterf deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vrykom of ontvlug van die rampspoed wat Ek oor hulle bring nie” (Jer 42:15-17).

Deel van hierdie week se Torah leesprogram is Shemot (Exodus) 34:18-19 waar ons lees: “Die Fees van die Ongesuurde Brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Aviev; want in die maand Aviev het jy uit Mietsrayiem uitgetrek. Alles wat die moederskoot open, is myne; ook al jou vee wat manlik is, die eerstelinge van beeste en kleinvee.” Baie opvallend is die feit dat die Fees van Ongesuurde Brode en die Beginsel van Eerstelinge hier direk langs mekaar staan. Die rede hiervoor is heel waarskynlik die feit dat die eerstelinge so ‘n groot rol gespeel het in die hele gebeurtenis in Egipte wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Fees van Ongesuurde Brode. Die eerstelinge van Egipte wat gesterf het en die eerstelinge van Israel wat bly lewe het.

As mens nou gaan lees in Wayyiekra (Levitikus) 23 waarin daar ‘n lang beskrywing van al die feeste gegee word, sien jy dat daar in vers 5-8 ‘n taamlike volledige beskrywing van die Fees van Ongesuurde Brode gegee word. En, dan direk daarna, in vers 9-11 lees ons die volgende woorde: “En Yahweh het met Mosheh gepraat en gesê: Spreek met die kinders van Yiesraél en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle ‘n omer van die eersteling van julle oes na die priester bring. En hy moet die omer voor die aangesig van Yahweh beweeg, sodat julle aanvaarbaar kan wees; die dag na die Shabbat moet die priester dit beweeg.” Hier staan Ongesuurde Brode en Eerstelinge weer reg langs mekaar. Die Fees van Ongesuurde Brode is baie duidelik ‘n fees wat met Eerstelinge te make het. Nie net eerstelinge van mense en diere (eersgeborenes) nie, maar ook eerstelinge van plante en gewasse. Daarom hierdie bykomende bepaling van die fees van Ongesuurde Brode dat op die dag ná die Shabbat wat val in die sewe dae van Ongesuurde Brode, die priester ‘n omer of ‘n bondel van die eerstelinge van die garsoes voor die aangesig van Yahweh moes beweeg.

Nadat die volk in die Beloofde Land ingegaan het, moes hierdie simboliese gewuif van ‘n gerf van die eerstelinge van die garsoes dien as ‘n herinnering dat Yahweh die eerstelinge in Egipte gespaar het. Dit het egter ook as herinnering gedien dat Yahweh sy belofte gestand gedoen het en sy volk in ‘n nuwe land ingelei het, soos hy belowe het, en dat hy hulle en hulle land geseën het, soos Hy belowe het. As Hy nie hulle oes geseën het nie, sou hulle immers nie hulle eersteling na Hom kon bring nie. Elke jaar, met die Fees van Ongesuurde Brode was daar dus ‘n viering (Engels: “celebration”) wat minstens uit twee dele bestaan het: ‘n viering omdat Yahweh die volk in Egipte só geseën het, dat die eersgeborenes bly lewe het EN ‘n viering omdat Yahweh die volk in hulle eie, nuwe land só geseën het dat hulle die eerstelinge van die oes na Hom toe kon bring. Min het hulle tóé geweet dat daar ook ‘n derde aspek sou bykom: Nie net die eersgeborenes in Egipte en die eerstelinge van die oes nie, maar ook die eersgeborene van Yahweh, sy Seun Y’shua, wat op presies dieselfde dag (die Dag van die Eersteling Beweegoffer) as eersteling uit die dood sou opstaan. Eersteling, omdat Yahweh besluit het om die wêreld te seën en ‘n groot oes te bewerkstellig van mense wat gered sal word, maar eers moes daar ‘n koringkorrel in die grond val en sterf, sodat dit veel vrug kan dra. Eers moes Y’shua as eersteling uit die dood opstaan om die opstanding te waarborg van hulle wat in die laaste dae deel sal uitmaak van hierdie groot oes wat Yahweh al reeds in gedagte gehad het toe Hy in Mosheh se tyd die volk begin leer het om die feeste te onderhou.

Iets wat besonder merkwaardig is, is dat die volle Torah lesing (Haftarah of profetiese lesings ingesluit) van die weeklikse Shabbat wat in die Week van Ongesuurde Brode val, van die vroegste tye af Yegeskel (Esegiël) 37 ingesluit het, wat die vallei van doodsbeendere beskryf. In hierdie gedeelte word die vraag aan die profeet gestel: “Kan hierdie bene weer lewendig word?” en Yegeskel wat daarop antwoord “Meester, u alleen weet of dit kan lewendig word.” Daarop het die profeet opdrag gekry om teenoor die doodsbeendere te profeteer – onder andere deur hierdie woorde: “Kyk, Ek bring gees in julle dat julle weer lewendig kan word.” Later in die hoofstuk lees ons hierdie woorde: “So sê die Meester Yahweh: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word” (vers 9). Nog later hoor ons: “So sê die Meester Yahweh: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Yiesraél. En julle sal weet dat Ek Yahweh is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk!” (vers 12-13).

Hierdie profesie het duidelik twee fasette. Aan die een kant wou Yahweh deur die profeet bekend maak dat Hy die doodsheid wou wegneem waarin die volk hulleself bevind het omdat hulle so ver van Hom af weggedwaal het. Maar aan die ander kant bevat hierdie profesie ‘n duidelike aanduiding dat daar êrens in die geskiedenis ‘n tyd sal aanbreek waarop Yahweh mense op ‘n groot skaal uit hulle grafte sal laat opstaan. Is só ‘n verwagting geregverdig, in die lig van wat ons in die res van die Skrif lees? Ja beslis, en wat meer is, omtrent 600 jaar nadat Yegeskel hierdie profesie uitgespreek het, het Y’shua uit die dood opgestaan, as EERSTELING, dit wil sê as WAARBORG dat daar ná Hom nog baie ander uit die dood sal opstaan.

‘n Mens wonder hoe dit gebeur het dat juis hierdie hoofstuk deel geword het van die Joodse Torah lesing van die Shabbat wat in die Week van Ongesuurde Brode val. Volgens alle aanduidings is dit ‘n gevestigde patroon wat al baie eeue lank bestaan. Het die Jode nog altyd geweet dat Pesag nie net met die dood van die Eersgeborenes te make het nie, maar ook met die opstanding uit die dood? As hulle dit geweet het, waarom weier hulle om die Een as Messias te aanvaar wat nie net op Pesag gesterf het nie, maar ook op die die Dag van die Eerstelingoffer opgestaan het, volgens die getuienis van meer as 500 mense aan wie Y’shua ná sy opstanding op verskillende plekke verskyn het? Niemand ken die simboliek van die eersteling beter as die Yehudiem nie. Niemand weet beter as hulle dat ‘n eersteling maar net die eerste van baie meer is wat nog gaan volg nie. ‘n Mens kan maar net hoop, en bid en getuig, dat nie net die Yehudiem nie, maar ook andere se oë daarvoor sal oopgaan en Y’shua sal erken as die ware en volkome vervulling van die profesieë en as die Een wat vir ons die verwagting van nuwe lewe gegee het.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »