PERSPEKTIEF OP DIE TOEKOMS MET PSALM 119

alternate textDie laaste oktaaf van Psalm 119 fokus baie sterk op die toekoms. In Hebreeus is dit gebruiklik om die letter Tau vooraan ‘n werkwoord te plaas om aan te dui dat daardie werkwoord nie oor die verlede of oor die hede gaan nie, maar oor die toekoms: dit wat nog moet gebeur; dit wat sal wees; dit waarop ‘n mens hoop; dit wat jy begeer en dit waarvoor jy bid en smeek. Daarom gebruik die skrywer vyf maal in hierdie oktaaf die woord “laat …” om sy diepste begeertes met die oog op die toekoms aan Yahweh bekend te maak: “laat my geroep nader kom voor u aangesig” (169); “laat my smeking voor u aangesig kom” (170); “laat u hand my tot hulp wees” (173); “laat my siel lewe” (175) en “laat u uitsprake my help” (175).

As ‘n mens na die letter Tau kyk, lê daar ‘n besondere simboliek opgesluit, bloot in die vorm en die voorkoms van hierdie letter. Wanneer ‘n Tau aan die begin van ‘n sin voorkom (wat die geval is in elkeen van die 8 sinne van hierdie oktaaf) moet dit ‘n kolletjie aan die binnekant hê, soos in die voorstelling hier langsaan. Dink aan hierdie kolletjie as ‘n indiwidu wat in ‘n verhouding met die Almagtige staan en wat sy of haar vertroue in Hom geplaas het vir beskerming en voorsiening vir die toekoms. Die vorm van hierdie letter dui aan dat hierdie indiwidu seker kan wees van Yahweh se beskerming – van bo en van agter en van voor. Wanneer ‘n mens die onbekende toekoms tegemoet gaan, is dit ‘n onbeskryflike stuk gemoedsrus om te weet dat jy op só ‘n manier deur die hand van die Vader bedek word en dat geen lewensgevaar van buite af jou kan bereik nie.

Verder is dit opvallend dat die vorm van die letter Tau aan die linkerkant nie heeltemal dieselfde is as aan die regterkant nie. ‘n Mens kry die idee dat die letter vir iets staan wat nie staties is nie, maar wat beweging of aktiwiteit voorstaan – in hierdie geval: beweging of aktiwiteit na die linkerkant toe. In Hebreeus lees ‘n mens van regs na links en daarom is enige beweging of aktiwiteit aan die linkerkant, beweging of aktiwiteit wat met die toekoms te make het. As gelowiges kan ons gemoedsrus vind in die wete dat Yahweh ons van alle kante af bedek, maar dat dit ons hoegenaamd nie tot stilstand bring nie. Nee, in ‘n sekere sin is ons swanger met verwagting en hoop en kennis met die oog op die toekoms. Dis ‘n verwagting wat ons in alle omstandighede laat vorentoe kyk en vorentoe verlang. Dis ‘n hoop wat maak dat ons nie in ons gemak-sones wil bly sit totdat ons later soos siek mense deur aambeie en bed-sere tot stilstand gedwing word nie. Dis kennis wat op vaste, geloofwaardige beloftes gegrond is en wat ons vorentoe dryf en vorentoe trek ten spyte van die negatiewe dinge wat ons hier op aarde so kan terughou en kan platslaan.

Baie mense lees vir jare lank die Skrif, sonder om die onbeskryflike impak wat toekomshoop en verwagting op ‘n mens se lewe behoort te hê, daarin raak te lees. Dis nie net die laaste oktaaf van Psalm 119 wat hierdie aspek uitlig nie. Lees ons dan nie in Psalm 37 dat daar ‘n toekoms vir die man van vrede is, maar dat die toekoms van die afvallige mens afgesny word nie? En in Mieshleh (Spreuke) 24 dat mense wat ware wysheid gevind het, ‘n toekoms gevind het en ‘n hoop wat nie verydel sal word nie? En in YermeYahu (Jeremia) 29 dat Yahweh nie gedagtes van rampspoed koester nie, maar van vrede en dat Hy vir sy volk ‘n hoopvolle toekoms wil gee nie? Die skrywers van die Nuwe Verbond het nie ‘n enkele duimbreedte afgewyk van hierdie sterk toekomsverwagting nie en het veral baie sterk op die aspek van HOOP gefokus en hoedat hoop in tye van swaarkry die een, vaste, onbeweeglike beton-struktuur is wat niemand of niks van jou kan wegneem nie. Soos Shaúl behoort ons vandag nog steeds te bid vir verligte oë van die verstand sodat ons TEN VOLLE kan weet watter HOOP dit vir ons inhou dat Yahweh ons geroep het en hoe voortreflik die erfdeel is wat ons saam met andere ontvang het (Efes 1:18). En in die woorde van Kefa (Petrus) moet ons nugter wees en VOLKOME HOOP op die guns wat ons deel sal word by die openbaring van Y’shua die Messias (1 Pet 1:13). Psalm 119 se laaste oktaaf gee ‘n paar praktiese riglyne hoe om juis dit te doen.

Die eerste deel van vers 169 (“laat my smeking nader kom voor u aangesig”) en die eerste deel van vers 170 (“laat my smeking voor u aangesig kom”) lyk in sommige vertalings byna identies dieselfde. Daar is egter ‘n verskil. Die teks van vers 169 dui meer op ‘n geroep as ‘n smeking. Soms, as mens in die nood is, roep jy bloot uit na Yahweh, sonder om vir iets spesifiek te vra. Dikwels is jy so oorweldig deur wat met jou gebeur het, en só getraumatiseerd, dat jy aanvanklik net kan roep. Jy het nie die woorde of die insig om ‘n spesifieke versoek uit te spreek of ‘n gebed te verwoord nie. Al wat jy kan doen, is om te roep, en al wat jy hoor, is jou eie stem. Maar jy weet, diep in jou binneste: Yahweh kan jou geroep hoor en Hy kan enige oomblik van nou af (m.a.w. enige oomblik in die toekoms) iets aan jou geroep doen. Daarom is die versugting in hierdie vers: “Laat my geroep nader kom voor u aangesig.” Op die oomblik voel dit nie of enige iemand my geroep hoor nie. Maar omdat ek weet dat U teenwoordig is in elke sekonde van die toekoms, het ek nou net hierdie een, basiese begeerte: Laat my geroep nader kom, totdat dit reg voor u aangesig is en U nie anders kan as om ag te slaan op my nood nie.

Die versugting van vers 173 is net so betekenisvol: “Laat u hand my tot hulp wees.” Yahweh se hand is ‘n werklikheid, al kan ons dit nie sien nie. Net soos wat die toekoms ‘n werklikheid is, al kan ons dit nie sien nie. Ek dink nie daar is vir die gelowige ‘n beter of ‘n sterker waarborg vir die toekoms as die kennis van die kragtige hand van Yahweh nie. In YeshaYahu (Jesaja) 66:14 word iets hiervan verwoord as die profeet in daardie vers duidelik oor die toekoms praat en sê: “Die hand van Yahweh sal bekend word aan sy knegte …”. As ons gedink het ons ken reeds die hand van Yahweh, dan het ons nog niks gesien nie! In die toekoms sal sy hand nog baie meer bekend word – soos wat Hy uitkoms gee en deurbrake bring en wonders doen in die lewens van almal wat hulle vertroue in Hom stel. Die profeet YermeYahu (Jeremia) sluit hierby aan: “Ek sal hulle my hand en my mag laat voel; en hulle sal weet dat my Naam Yahweh is (Jer 16:21).” Daar is dinge aangaande die toekoms wat ons eenvoudig nie weet nie. As Yahweh egter eers begin om met sy hand in ons lewens betrokke te raak, is daar minstens een ding wat ons sal weet, sonder om te twyfel: Dat sy Naam Yahweh is en dat Hy nooit aan sy Naam ontrou is nie!

Die gebed van die eerste gedeelte van vers 175 is kort en kragtig: “Laat my siel lewe.” In die toekoms is daar baie dinge wat ons liggame en ons beursies en ons aardse sekuriteite kan skud en selfs kan vernietig. Daarom is die belangrikste gebed: Laat my siel lewe! Laat tog net my siel nie in die doderyk agtergelaat word nie. Dit was presies hierdie woorde wat die apostels in die Handelinge tyd gebruik het om die verrykende betekenis van Y’shua se opstanding te beklemtoon. Tydens daardie bekende Shavuot byeenkoms in Handelinge 2 het Kefa die woorde van Dawied in Psalm 16:10 aangehaal: “U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.” Teen hierdie agtergrond het hy die punt gemaak dat Y’shua uit die dood opgestaan het (dat sy siel uiteindelik herleef het) en dat hulle wat in Hom glo, ook uit die dood sal opstaan. Net iemand wat in Y’shua en in sy opstanding glo, kan waarlik die gebed bid: Laat my siel lewe! Nie op die manier wat valslik in baie kerke verkondig word en halsstarrig deur honderdduisende geglo word nie – dat jy onmiddellik hemel toe gaan as jy sterf en “gospel” liedjies saam met die engele sing, sonder om enigsins deur die dood geraak te word nie. Maar op die manier waarop dit met Y’shua gebeur het en Hy, en al sy apostels, gesê het dit met ons ook sal gebeur – dat jou dood ‘n realiteit is, maar ook soos ‘n slaap, en dat jou siel eers sal herleef as die Messias weer kom en diegene wat in Hom geglo het, uit die dode opgewek sal word. Op daardie dag het mense soos Kefa en Yahuganan en Shaúl hulle hoop en hulle verwagting gevestig. Op daardie dag behoort ons ook ons hoop en ons verwagting te vestig. Alles sal verander op daardie dag. Honderde beloftes in die Skrif sal op daardie dag in vervulling gaan. Al die los drade waaroor mense nou reeds vir eeue lank gewonder en gepraat en geskryf het, sal op daardie dag bymekaar uitkom. Selfs ons eie proses van wedergeboorte sal eers op daardie dag ten volle verwesenlik en afgesluit word, wanneer (soos Shaúl skryf in 1 Kor 15) die verganklike met die onverganklike beklee word, en die sterflike met die onsterflike beklee word, en die dood finaal verslind is in die oorwinning. Wie só ‘n perspektief op die toekoms behou, sal nie deur enige “hick-up” in die tyd wat dit voorafgaan, van stryk gebring word nie!