PASSIEVOL OOR DIE WOORD IN PSALM 119

alternate textOm passievol en selfs bedroef daaroor te wees dat mense die Woord van Yahweh verwerp, is iets wat mens deesdae nie meer gereeld teëkom nie. Die skrywer van Psalm 119 probeer nie eens om homself in te hou nie en gee voluit uiting aan sy passie vir die Woord, veral in die laaste vers van die 17de (of “Pe”) oktaaf: “My oë loop af in strome van water, omdat hulle (mense wat die Torah behoort te ken) u Torah nie onderhou nie” (Ps 119:136). Dit herinner mens aan die profeet YermeYahu in verse soos Klaagl 3:48 (My oog loop af in waterstrome oor die vernietiging van die dogter van my volk); Jer 9:1 (Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk) en Jer 14:17 (Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met ‘n groot gebrokenheid, met ‘n baie smartlike wond).

Die skrywer van Psalm 119 se hart is gebreek oor die verwaarlosing van die Torah wat hy rondom hom aanskou. Hy spreek nie veroordeling oor ander mense uit nie. Hy beskou homself nie as beter of verhewe bo diegene wat nie soos hy oor die Torah voel nie. Maar hy onttrek hom ook nie van wat hy rondom hom sien wat uitdruklik teen die Woord van Yahweh is nie. Hoe kan hy hom onttrek as hy in sy eie lewe gesien en ervaar het hoe wonderbaar en voordelig die getuienisse van die Almagtige is?

Wat doen dit aan ons as ons die veragting en die vernietiging en die verdraaiing van die Torah rondom ons aanskou? Wanneer laas het ons bedroef en bewoë geword – nie oor ons eie smart en ons eie probleme nie, ook nie eens oor ons eie liefde vir die Vader nie – maar werklik bedroef oor die grootskaalse wegdraai van die Woord, die teenkanting teen die Torah en die verwerping van waarhede wat ongetwyfeld sin en betekenis aan mense se lewens kan bring. As ‘n mens kyk na die sewe verse wat hierdie laaste vers van die “Pe” oktaaf voorafgaan, is daar veral ses woorde wat dien as verdere bevestiging dat hierdie skrywer waarlik passievol oor die Woord is. Hierdie ses woorde help ‘n mens uiteindelik om beter te verstaan waarom die skrywer bedroef daaroor geraak het dat mense (wat hy op ‘n manier as sy eie mense beskou het) die pad van die Torah byster geraak het. Twee van hierdie ses woorde gaan oor wat die Torah aan sy binneste doen, twee gaan oor wat Yahweh in sy lewe doen en nog twee gaan oor hoe hy self reageer wanneer hy met Yahweh en sy Torah gekonfronteer word.

Die eerste twee verse (verse 129 en 130) is ‘n beskrywing van die uitwerking wat die Torah op hom het. In die eerste vers verklaar hy onomwonde: “U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.” Die woord wat hier as “wonderbaar” vertaal word, het onder meer die betekenis van: “totaal in ‘n ander klas; verhewe bó die gewone dinge; só groot dat dit nie verduidelik of verklaar kan word nie.” Is daar nie onder ons ook sommiges wat iets hiervan beleef het nie? Dat die Torah ‘n dimensie in ons lewe ingebring het wat totaal in ‘n ander klas is as enige ander reël of beginsel of gebruik in hierdie wêreld. Dat die Torah ‘n mens in aanraking bring met ‘n faset van mens-wees wat nie gedek word in die opvoedingsentra en die leerplanne en die handleidings van hierdie wêreld nie. Dat die Woord van Yahweh emosies en begeertes in ‘n mens se binneste aanwakker wat nie met woorde verduidelik of uitgespreek kan word nie.

Die volgende vers (vers 130) gaan ook oor die uitwerking van die Torah op sy lewe: “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.” Die woord “opening” is hier belangrik. ‘n Mens kan die Torah bloot meganies lees en bestudeer, sonder dat dit enige uitwerking op jou het. Dis egter eers as daar opening van die Torah plaasvind, dat dit ‘n merkwaardige uitwerking op jou het en ‘n passie in jou hart aanwakker. Dit laat die lig weer terugkeer in jou lewe, maak nie saak hoe donker dit voorheen in jou lewe was nie. Dit bring wysheid en verstand en insig, maak nie saak hoe ‘n eenvoudige mens jy is nie.

Vers 132 en vers 135 is twee parallelle bedes dat Yahweh moet ingryp en verseker dat die skrywer nie sy passie vir die Woord sal verloor nie. In vers 132 bid hy: “Wend U tot my en bewys guns aan my ooreenkomstig die reg van die wat u Naam liefhet.” Die woord wat hier met “wend” vertaal word, is die woord waarvan die woord “gesig” afgelei word en dus vra hy letterlik dat Yahweh sy (aan)gesig na hom toe sal draai. Wat gebeur as Yahweh sy aangesig na iemand toe draai? Ons sal seker nooit ten volle kan weet nie, maar volgens die Skrif is daar nie ‘n groter en meer verhewe ervaring as die ervaring dat die Almagtige sy aangesig na jou toe gedraai het nie. Dis dán wanneer jy sy guns raaksien en dit kan geniet. Dis dán wanneer jy in aanraking kom met die volle impak van die reg en die regverdigheid van die Almagtige. Daardie reg wat bedoel is vir hulle wat sy Naam liefhet.

Vers 135 sluit hierby aan: “Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.” Wanneer Yahweh sy aangesig na jou toe draai, begin sy aangesig oor jou te skyn. Die skynsel wat op hierdie manier veroorsaak word, is ‘n skynsel wat jou lewe en jou optrede onherroeplik beïnvloed. Dis ‘n soort lig wat nie weggesteek kan word nie. Andere gaan dit raaksien soos hulle dit raakgesien het toe Mosheh van die berg Sinai afgekom het nadat hy vir ‘n tyd lank in die teenwoordigheid van Yahweh was. Behalwe dat jy meer van sy guns en sy reg en geregtigheid te wete kom as sy aangesig oor jou skyn, is dit ook die ideale omstandighede waarin ‘n mens die insettinge van Yahweh kan leer – daar waar jy in sy teenwoordigheid is en waar die dinge van hierdie wêreld nie gedurig jou aandag van Hom af weglei nie. Daar waar die lig wat van Hom af uitstraal, sy woorde en sy bedoelings vir jou duidelik maak en begin inwerk op die donker areas in jou eie lewe.

Vers 131 en vers 133 beskryf die Psalmskrywer se eie reaksie nadat hy die grootheid van die Torah ontdek het. In vers 131 sê hy: “Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.” ‘n Mens kan byna nie sterker taal gebruik om jou passievolle verlange na die woorde van Yahweh uit te druk nie. Die woord wat met “hyg” vertaal word, beskryf die reaksie van ‘n dier wat na sy asem snak nadat hy vir sy lewe moes vlug omdat ‘n roofdier hom gejaag het. Een kommentator stel dit só: “Like a stag that has been hunted in the chase, and is hard pressed, and therefore pants for breath, so did the Psalmist pant for the entrance of the word of the Almighty into his soul.” Wanneer laas het ons ons monde só – desperaat en onbeskaamd – oopgemaak vir die woorde van ons hemelse Vader? Wanneer laas het ons ons passievolle begeerte uitgedruk om met die woorde van Yahweh verkwik te word? Ons kan dit doen in die woorde van hierdie vers of, as ons wil, kan ons dit doen in die woorde van Psalm 42:2: “Soos ‘n bokooi wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o Elohiem!” Wat tel, is nie die spesifieke woorde wat ons gebruik nie, maar ‘n hart wat nie meer ‘n oomblik langer sonder die bevrydende woord van Yahweh kan bly nie!

Vers 133 bevestig dat dit nie net gaan oor ‘n kortstondige, emosionele ervaring elke nou en dan nie: “Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.” Die woord wat hier met “voetstappe” vertaal word, hou verband met ‘n geluid of ‘n handeling of ‘n beweging wat aanhoudend en herhaaldelik plaasvind – byna op só ‘n wyse dat dit op mense se senuwees begin te werk (“a regular, ongoing tapping sound, becoming agitating and troublesome to those who observe”). Die passie waarvan die woord praat, is nie die soort wat kom en gaan soos wat die winde en die omstandighede in die wêreld verander nie. Iemand wat passievol is oor die Woord van Yahweh, se voetstappe is vas in die Woord, al is daar mense langs die pad wat senuweeagtig en geïrriteerd toekyk. Al is daar mense wat nie langer die reëlmatige geluid van skoensole op die pad van die waarheid kan verdra nie. Daarom hoor ‘n mens vandag al hoe meer hoe afkeriges van die Torah begin stof opskop oor die toenemende aantal mense wat dag-in en dag-uit die pad van die Torah bewandel. Vir talle is dit ‘n bitter pil om te sluk dat die beweging terug na die Torah, toe nie net ‘n “flash in the pan” was nie. Vir ons wat deel van hierdie beweging geword het, deur die guns van Yahweh en na die voorbeeld van sy Seun, is die geluid van hierdie voetstappe ‘n wonderlike geluid. Ons kan in reaksie daarop alleen maar uitroep soos wat die profeet YeshaYahu en die apostel Shaúl uitgeroep het: “Hoe lieflik is die voete van die wat die goeie nuus verkondig!”

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »