PADWYSERS IN PSALM 119

alternate textDie tema van die hand of hande van Yahweh kom gereeld in die Skrif voor. Ps 18 sê Yahweh trek ‘n mens met sy hand uit groot en dreigende waters. Ps 31 sê ons tye is in sy hand. Ps 78 herinner ons daaraan dat ons gereeld aan sy hand moet dink en hoedat Hy ons van ons teëstanders verlos het. In Ps 92, wat ‘n lied vir die Shabbat is, sê die skrywer dat hy jubel oor die werke van Yahweh se hande. Ps 104 sê as Yahweh sy hand oopmaak, dan word mense versadig met die goeie. So kan ‘n mens aangaan. Die tiende oktaaf van Psalm 119 begin met die woorde U hande – “U hande het my gemaak en my voorberei …”. Die tiende oktaaf van Psalm 119 is die “yod” oktaaf en die Hebreeuse woord vir hand (“yad”) is een van die bekendste woorde wat met ‘n “yod” begin. Dink aan die hande van die Vader. Hoeveel keer het daardie hande nie al ‘n rol gespeel in ons lewens nie! Hoeveel keer het sy hande nie al uitkoms gebring nie? Hoeveel keer het sy hande nie al gevaar van ons weggehou nie? Hoeveel het Hy nie al met sy hande gedoen om die pad vir ons voor te berei nie? En hoeveel keer het Hy nie al met sy hande vir ons die pad aangewys wat ons moet loop nie?

As ons ‘n tema moes kies vir die “yod” oktaaf van Psalm 119, sou dit kon aansluit by hierdie aspek van padwysers. Yahweh, wat met sy hande vir ons die pad aanwys – stap vir stap, en dag vir dag. Ons getroue Elohiem, wat met sy hande vir ons wys wat ons moet raaksien in ‘n wêreld waarin meeste mense lyk asof hulle die “plot” verloor het. Dis net asof hierdie oktaaf ‘n mens help om dinge weer in perspektief te sien. Om opnuut te besef waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Niks maak ‘n mens só deurmekaar as teenstrydige padaanwysings en verwarrende padtekens nie. Daar is net een manier hoe ‘n mens sekerheid kan kry oor wat die regte pad is, en dit is om te kyk na die bakens langs die pad wat Yahweh met sy eie hand vir ons in plek gestel het. Psalm 119:73-80 het ‘n hele paar sulke bakens, duidelike en ondubbelsinnige padwysers waarvoor ons moet uitkyk.

Die eerste padwyser het ons reeds van gehoor: Yahweh het ons met sy hande gemaak en ons voorberei. Voorberei vir wat? Miskien moet mens weer ‘n slaggie kyk na hierdie vertaling. Die Hebreeuse woord beteken letterlik “to make someone or something erect; to set someone or something in its proper place; to establish someone or something”. Dus, Yahweh het ons nie net gemaak nie, Hy het ons op die regte koers geplaas en by die regte plek uitgebring en vastigheid onder ons voete gestel. Dis nie toevallig dat ons op hierdie pad beland het nie. Nee, dis die hand van ons Elohiem wat vir ons hierdie pad aangewys het. Daarom moet ons nie kop verloor wanneer dinge op ‘n dag vir ons te veel word en dit vir ons voel of die mat onder ons uitgepluk word nie. Ons is voorberei vir sulke tye en ons moet vasstaan in sulke tye, want sy Hand is nog steeds daar om vir ons die pad vorentoe aan te wys!

Die tweede padwyser gaan oor die vrees vir Yahweh – nog ‘n Hebreeuse woord wat met ‘n “yod” begin – “Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek” (vers 74). Hierdie padwyser gaan oor die goedkeuring van mense. Wie wil ek hê moet bly wees oor my? Watter mense se goedkeuring moet ek soek – mense wat self ‘n bekoring van aansien en status uitstraal en ‘n goeie indruk maak of mense wat Yahweh vrees, omdat hulle ingestel is op die bekoring wat daar uit Hom en uit sy Torah uit straal? Die sekerste manier om die pad byster te raak is om die goedkeuring van mense te soek wat niks weet van die vrees van Yahweh nie. Daarom moet ek my so veel as moontlik skaar by hulle wat weet dat wysheid begin met die vrees van Yahweh. En in alles wat ek doen, moet ek my laat lei deur die vrees vir Yahweh.

Die derde padwyser gaan oor dit wat ons weet omdat dit duidelik in die Woord geleer word en omdat ons dit al in ons eie lewe ervaar het – “Ek weet, Yahweh, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het”. As mens by ‘n punt in jou lewe kom waar jy nie weet watter kant toe nie, is dit ‘n goeie idee om vir ‘n oomblik te gaan dink wat dit is wat jy op hierdie oomblik weet. En as jy op hierdie oomblik so deurmekaar is dat dit vir jou voel jy weet nou niks nie, probeer om te onthou wat jy voorheen geweet het. Dit wat jy weet, omdat die Woord dit sê en omdat jy dit self gesien en beleef het, is wat jou deur hierdie krisis gaan dra. Moenie items by jou weet-lys byvoeg wat nie duidelik in die Woord geleer word nie. Maar die oomblik as jy ontdek dat iets in die Woord geleer word, kan jy dit gerus maar opskryf in jou weet-lys, sodat jy later, as jy twyfel, jou weet-lys kan uithaal en seker maak wat in hierdie lys staan en wat nie daarin staan nie. En deur sy Gees sal Yahweh jou geheue opskerp sodat jy nie net die inskrywings op jou weet-lys onthou nie, maar ook die kere onthou toe jy in jou eie lewe die waarheid van daardie inskrywings gesien en beleef het.

Die vierde, vyfde, sesde, sewende en agste padwysers begin al vyf met die woord “laat”. In Hebreeus het ‘n werkwoord met ‘n “yod” vooraan, dikwels die betekenis van “Laat dit-en-dit so wees …” of “Laat dit-en-dit gebeur …” – ‘n manier van praat wat ons tot vandag toe nog gereeld in ons gebede gebruik. Die eerste en die laaste van hierdie vyf werkwoorde met ‘n “yod” vooraan, is dieselfde, en kan in Afrikaans vertaal word met “Laat dit wees …” en in Engels “Let it be ..” (vers 76: “Laat u goedertierenheid wees om my te troos …” en vers 80: “Laat my hart opreg wees in u insettinge …”). Toe ek dit ontdek, het ek aan die bekende lied “Let it be” van die Beatles gedink, wat vrygestel is toe ek nog nie eens in die hoërskool was nie. Ek wonder hoeveel Beatles aanhangers daar is wat al mooi na die woorde van hierdie lied geluister het:

When I find myself in times of trouble, Mother Mary comes to me
Speaking words of wisdom, let it be; And in my hour of darkness
She is standing right in front of me; Speaking words of wisdom, let it be
Let it be, let it be; Let it be, let it be; Whisper words of wisdom, let it be.

Die woorde van hierdie lied laat my wonder waar ons ons woorde van wysheid vandaan kry wanneer ons “times of trouble” en “hours of darkness” beleef. Wie of wat staan dan voor ons? Is dit dalk ook figure soos Mother Mary of Father Christmas of die Brothers and Sisters van die populêre gestaltes van die kerk daarbuite? Of weet ons presies waarheen om te gaan in ons uur van benoudheid omdat ons ‘n besluit geneem het om nie ons oog van die padtekens van die Woord af te haal nie?

Die vertroosting en die raad van die Torah is nooit ‘n ongekwalifiseerde “Let it be” nie. Om bloot vir iemand te probeer troos met die woorde “Let it be” is om vir hom te sê: “Jy moet aanvaar wat met jou gebeur het – ek het niks anders om in die plek daarvan vir jou te gee nie.” Kom ons luister egter na die manier waarop dit in Psalm 119 gedoen word:

Laat dit u goedertierenheid wees wat my troos (vers 76). In my eie droewige en neerdrukkende omstandighede is daar dalk nie veel wat my kan troos nie. Maar Yahweh het belowe dat hy sy goedertierenheid sal bewys aan Dawied en aan sy nageslag tot in ewigheid. Dit is iets wat werklik nuwe perspektief en nuwe hoop aan ‘n mens in sak en as kan bring, maak nie saak hoe
donker dit rondom hom lyk nie!

Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe (vers 77). Wat ons mense van tyd tot tyd ervaar is dat daar ‘n wolk van donkerheid en depressie oor ons kom. Dit gebeur dikwels sonder dat ons daarvoor gevra het en sonder dat ons dit kon voorsien het. Moet ons dit maar net gelate aanvaar? Nee, ons kan bid dat Yahweh in die plek daarvan sy barmhartighede oor ons sal laat kom. Die bewuswording van sy guns en goedheid kan ons hele lewe verander.

Laat die wat u vrees na my terugkeer (vers 79). By implikasie beteken hierdie vers dat mens in ‘n krisis met jou geloof kom as jy wegbeweeg van diegene wat Yahweh vrees. Dit is nodig dat hulle weer na jou, of jy weer na hulle, terugkeer. As dit eers gebeur het, kyk jy met ander oë na jou krisis en ervaar jy nuwe krag om die uitdagings rondom jou te trotseer.

Laat my hart opreg wees in u insettinge (vers 80). Die woord vir “opreg” sluit onder meer die volgende betekenisse in: “complete, accomplish, clean”. Hierdie vers is dus onder meer ‘n bede
dat Yahweh ons daarvan sal bewaar dat ons sy insettinge verlaat, sodat, as ons in ‘n krisis met ons geloof beland, ons harte ons nie sal aankla nie, maar “skoon” en “volkome” sal wees. Nie omdat ons dink dat ons sonder sonde is nie, maar omdat ons weet dat ons daarna gesoek het om Yahweh te behaag. Hierdie faktor, wat ons sou kon noem die padwyser van ons hart, is seker die heel belangrikste van almal – die één faktor wat nie verander as ons omstandighede verander nie en wat nie wegval as ons voor ‘n krisis te staan kom nie.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »