PADLANGS MET PSALM 119

alternate textDie tweede onderdeel van Psalm 119 is só sentraal in hierdie Psalm, dat ons nie kan nalaat om ons volle aandag daaraan te gee nie. Dit begin met die welbekende Ps 119:9 “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” Hier praat die skrywer nie net OOR DIE PAD waarop ‘n jongmens loop nie – hy praat op ‘n PADLANGS manier, reguit, sonder om doekies om te draai. Boonop fokus hy nie net op die jongmens se pad nie; hy praat ook van Yahweh se paaie: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let” (vers 15). ‘n Mens kom agter dis die woorde van iemand wat uit eie ondervinding wéét dis nie maklik vir ‘n jongmens om sy pad suiwer te hou en sy oog gedurig op Yahweh se paaie te hou nie. Maar hy wéét ook: As enige mens reeds as jongmens begin om sy pad volgens die Woord se aanwysings te loop, is daar groot voordeel vir so ‘n mens! Dís waar ‘n mens die pad van die Woord moet begin loop: as jy jonk is; as jy vol energie is; as jy dáár is waar jy dink niks of niemand kan vir jou ore aansit nie; as jou lewe oop voor jou lê en jy al jou belangrike keuses moet maak; op die stadium van die lewe wanneer duisende jongmense hulle vingers verbrand omdat hulle paaie kies wat nêrens heen lei nie.

Almal het seker al gehoor van die storie van Alice in Wonderland. Een van die bekendste karakters in dié storie is die “Cheshire Cat” met wie Alice dikwels gepraat het en wat bekend is vir die permanente grynslag (“grin”) wat hy altyd op sy gesig gehad het. In die Engelse taal is die “Cheshire Cat” al so ingeburger dat daar ‘n spreekwoord oor hierdie berugte kat gemaak is, wat gebruik word wanneer iemand so lag dat sy tande en sy tandvleis uitsteek: “He grins like a Cheshire cat!” Daar word vermoed dat hierdie beskrywing sy oorsprong het by die Engelse distrik, Cheshire, waar daar vroeër baie beesplase was en waar al die katte in die distrik glo gedurig geglimlag of gegrynslag het, omdat daar nooit ‘n tekort aan melk was nie.

Die “Cheshire cat” in Alice se storie was altyd vol wyshede en streke en het die vermoë gehad om op enige plek te verskyn en dan weer net so skielik te verdwyn. Op ‘n stadium is die kat ter dood veroordeel deur die “Queen of Hearts”, maar toe verdwyn sy lyf skielik sodat net sy kop gesien kan word. Dit lei toe tot ‘n hewige argument en die laksman wat volhou dat ‘n kat wat nie ‘n lyf het nie, nie onthoof kan word nie!

Daar is een bekende gesprek tussen Alice en die “Cheshire Cat” wat besonderse lig werp op die gedeelte van Psalm 119 waarna ons nou kyk. Alice het by die kat gekom en vir hom gevra: “Kan jy asseblief vir my sê watter pad ek hiervandaan moet neem?” “Dit hang alles af,” het die kat geantwoord, “van waarheen jy graag wil gaan.” “Ek weet nie regtig waarheen ek wil gaan nie” het Alice geantwoord. Toe sê die kat, sonder om ‘n oomblik te huiwer: “Dan maak dit glad nie saak watter pad jy neem nie.” Ek meen dis na aanleiding van hierdie stukkie wysheid van die “Cheshire Cat” dat iemand eenkeer gesê het: “If you don’t know where you are going, any road will take you there.”

Psalm 119 moedig alle mense, en veral jongmense, aan om ‘n bestemming te kies – ‘n plek waarheen jy graag wil gaan, ‘n spesifieke eindpunt wat jy graag wil bereik, ‘n doel wat jy jou hele lewe lank wil nastreef. Nie ‘n korttermyn doel, soos om ‘n motor te koop of baie geld te maak of oorsee te gaan nie. Nee, ‘n doel wat altyd voor jou sal bly en nooit sal verdwyn nie en jou altyd sal aanspoor. ‘n Eindbestemming wat altyd koers en rigting aan jou lewe sal gee. ‘n Bestemming soos wat die skrywer van Psalm 119 vir homself gekies het en wat ons kan sien in die laaste twee verse van hierdie tweede paragraaf van die psalm, paragraaf “Bet” (vers 15 en 16): “Ek wil u bevele oordink. Ek wil fokus op u paaie. Ek wil my verlustig in u huisreëls. Ek wil u Woord nie vergeet nie.” Waarom sou ek so iets kies? Waarom sou ek só ‘n buitengewone eindbestemming najaag? Omdat ‘n jongmens – enige mens – alleenlik sy pad suiwer kan hou (onbesoedeld kan hou; koersvas kan hou, betekenisvol kan hou) as hy dit hou soos wat die Woord sê hy moet dit hou. As jy dit weet, en dit glo, waarom sou jy ‘n ander pad kies? Waarom sou jy willens en wetens ‘n pad kies wat na nêrens lei nie?

In vers 10 en 11 van Psalm 119 lees ons hierdie woorde: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Twee keer word die woord “hart” hier gebruik. Ons sê mos: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Dink net vir ‘n oomblik hieroor ná. Watter soort woorde kom daar gewoonlik uit jou mond uit? Watter soort gedagtes vul meeste van die tyd jou denke en jou begeertes? Meeste van ons moet dalk vandag erken dat meeste van ons gedagtes nie gedagtes oor die Woord van Yahweh is nie. Is dit nie ontsettend tragies nie? Die punt is net: As ons dit nie in ons harte bêre nie, sal ons dit nie in ons harte vind nie. Wat het geword van die voorneme wat ek glo elkeen van ons al op ‘n stadium van ons lewe gehad het – om die Woord daagliks te lees en te oordink en ons eie optrede en woorde en gedagtes daaraan te meet?

Wat is so besonders aan die woorde van Yahweh? Wat maak dat hierdie woorde so kragtig is dat dit die koers van jou lewe kan verander en sin aan jou bestaan kan gee? Die antwoord is natuurlik opgesluit in die karakter en die grootheid van die Een wat hierdie woorde gespreek het. Daarom sê Psalm 119:12: “Lofwaardig is U, o Yahweh! Leer my u insettinge!” Niks waarna ons as mense hier op aarde só smag en hunker en verlang kan vergelyk word met die Een wat oneindig méér lof verdien as enige ideaal of enige droom of enige skat of enige passie wat mense tydens hulle aardse bestaan kan najaag nie. Sy woorde is so besonders omdat Hy so besonders is. Om met sy woorde besig te wees, is om met Hom besig te wees – om Hom beter te leer ken en in sy teenwoordigheid te kom en te ervaar dat iets van sy skoonheid en sy bekoring jóú lewe aanraak en beïnvloed.

As ‘n mens Psalm 119 lees, kan jy sien watter geweldige positiewe uitwerking die woorde van Yahweh op die skrywer gehad het. In vers 13 en 14 sê hy: “Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerlei rykdom.” Anders as wat mense geneig is om te dink, is dit moontlik om vrolik en opgewonde te raak oor die Woord. Dis ‘n soort opgewondenheid wat nie dieselfde is as die opgewondenheid oor ‘n nuwe speelding of ‘n nuwe ryding nie. Dis nie dieselfde as ‘n obsessie met sport of tegnologie of ‘n passie vir musiek en literatuur nie. Dis nie ‘n akademiese opgewondenheid nie. Let daarop dat die skrywer sê “Ek is vrolik in die weg van u getuienisse …” Dit gaan nie oor ‘n boekrol wat hy begin lees het, wat hy nie kan neersit nie. Nee, dit gaan oor ‘n “weg”, oor ‘n “pad”, oor ‘n manier van lewe. Is dit nie die soort opgewondenheid wat baie van ons geken het en dalk êrens langs die pad verloor het nie? En die res van ons: Is dit nie die soort opgewondenheid waarna jy al so lank hunker nie? Is dit nie die ontbrekende element wat weer koers en vastigheid in jou lewe kan inbring en wat die wasigheid van ‘n lewe sonder die Woord uit jou hart kan wegneem nie?

Ek lees êrens van ‘n sendeling met die naam Charles Hayward wat op 73-jarige ouderdom besluit om met ‘n projek te begin waarmee hy sou besig bly tot aan die einde van sy lewe. Hy is oorlede in 2009 toe hy 87 jaar oud was. Vir 14 jaar lank het hy die Skrif gelees met die doel om nie net te lees nie, maar ook te memoriseer. Hy het ‘n lys gemaak wat hy “Charlie’s List” genoem het, waarin hy een vers uit elke boek van die Skrif uitgeskryf het, asook een vers uit elke hoofstuk van die briewe in die Nuwe Verbond. Bo-aan die lys het hy as hooftema die woorde van Kol 3:16 geskryf:

Kol 3:16 Laat die woord van die Messias ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van Elohiem.

Oor ‘n periode van 14 jaar het hy 239 verse in sy lysie uitgeskryf en elke woord daarvan onthou, sodat niemand dit van hom kon wegneem nie. Sommige mense onthou makliker as ander mense. Vir Charles Hayward het dit nie vanself gekom nie. Maar hy het moeite gedoen sodat die Woord wat die Messias geken het en ook die Woord wat die Messias verkondig het, in hom kon woon. En sodat hy aan die einde van sy lewe kon sê (en só het sy kinders hom ook onthou): “Ek het u Woord in my hart gebêre, sodat ek nie teen U sou sondig nie” (Ps 119:11).

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »