ONBEKWAAM VAN MOND

alternate textDie Torah lesing van hierdie week sluit die eerste paar hoofstukke van Shemot (Exodus) in waarin die verhaal van Mosheh (Moses) opgesluit lê – sy geboorte, hoe dit gebeur het dat hy in die Farao se paleis grootgeword het, die verdrukking van sy volk in Egipte, hoedat hy ‘n Egiptiese man doodgeslaan het, sy verblyf in die land Miedyan, sy huwelik met Tsiepporah en sy ervaring by die brandende doringbos in die berge van Sinai.

Die figuur van Mosheh is seker een van die mees kleurvolle karakters in die hele Skrif. As die persoon wat die leidende rol in die Exodus en die totstandkoming van die Torah gespeel het, kry ‘n mens die idee van Mosheh as iemand wat aanvanklik nie die mees geskikte persoon was nie en ook baie teësinnig was om die leiersrol te aanvaar wat Yahweh vir hom in gedagte gehad het. Nie net het hy ‘n moord op sy kerfstok gehad en homself van sy eie volk vervreem deur 40 jaar lank in ‘n vreemde land – weg van die swaarkry van sy mense – te gaan woon nie. Hy was ook nie juis gretig om terug te keer en sy volk uit Mietsrayiem uit te lei, soos Yahweh Hom beveel het nie. In sy eerste ontmoeting met Yahweh in die berge van Sinai het dit geklink of hy die heeltyd verskonings uitgedink het en na grashalmpies gegryp het wat hy gehoop het sou help dat hy nie hierdie groot taak hoef aan te pak nie. Soos die verskoning dat hy nie eintlik so goed met woorde is nie. “Ek is onbekwaam van mond”, het hy gesê. Ek kan nie juis praat nie.

Verlede week het ons stilgestaan by die waarheid dat dit beter is om ‘n doener te wees as ‘n prater. Praatjies vul geen gaatjies, het die ou mense mos gesê. By Mosheh sien ons ‘n ander probleem wat net so ‘n wesenlike probleem is as die een waaroor ons verlede week gepraat het. Verlede week se probleem was: Soms is mense geneig om agter hulle mooi woorde te skuil, maar hulle kom nie so ver om die woorde in dade om te sit nie. As ons na Mosheh kyk, sien ons ‘n ander probleem: Soms is mense geneig om te skuil agter die verskoning dat hulle nie kan praat nie. Hulle het nie selfvertroue nie. Of hulle het nie die “geleerdheid” nie. Of hulle het nie die vrymoedigheid nie. Of hulle het nie genoeg kennis nie. Een of ander verskoning word aangebied waarom hulle meen hulle kan nie praat nie. En, om hulleself beter te laat voel, sal hulle dalk byvoeg: Wat saak maak, is nie my woorde nie, maar my dade. Dis waar, ja. Maar sekere dinge moet eenvoudig gesê word. En ‘n woord op die regte tyd is soos goue appels op versierde silwerborde, staan daar in Mieshleh 25:11.

Vir diegene wat ook al op hierdie verskoning teruggeval het dat hulle nie juis kan praat nie, is Shemot 3 en Shemot 4 ‘n bron van groot bemoediging. Om hierdie twee hoofstukke van naderby te beskou en veral te kyk na wat Yahweh vir Mosheh antwoord, elke keer as hy die een of ander verskoning aanbied, is werklik verstommend.

Die heel eerste verskoning wat Mosheh aanbied, wys dat hy nie ‘n groot dunk van homself en sy eie vermoëns gehad het nie: “Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Yiesraél uit Mietsrayiem sou lei?” Wie is ek nou eintlik om so ‘n groot taak uit te voer? Wie is ek om met so ‘n groot verantwoordelikheid beklee te word? Miskien is dit dalk juis waarom Mosheh ‘n suksesvolle leier was. Dat hy nie ‘n onrealisties groot dunk van homself gehad het nie. Dat hy nie oorgeloop het van selfvertroue en op sy eie hoedanighede en sy eie krag vertrou het nie.

Wat egter belangrik is omtrent hierdie vraag, is dat Mosheh na homself gekyk het, voordat hy bereid was om enigsins die taak te oorweeg waarmee Yahweh na hom toe gekom het. Hy was nie te hoogmoedig en te vol van homself dat hy nie na homself en sy eie tekortkominge kon kyk nie. Hy het egter op die regte manier na homself gekyk. Baie mense kyk na hulleself en vergelyk hulleself deurentyd met ander en met die verwagtinge wat ander van hulle mag hê. En hulle voel die hele tyd dat hulle net nie uitkom by die eise wat hulle aan hulleself stel en by die verwagtinge wat mense van hulle het nie. Dis nie hoe Mosheh na homself gekyk het nie. Nee, hy kyk na homself teen die agtergrond van die taak wat Yahweh aan hom opgedra het. Die woorde en die opdrag van Yahweh staan vir hom voorop. Dit is al wat tel. Hy weet hy móét na homself kyk, hy móét selfondersoek instel, hy móét sy eie hart ondersoek om vas te stel of hy opgewasse vir hierdie taak is. En as hy vind dat hy nie opgewasse of nie gereed is nie, is daar net een oplossing: Yahweh moet toerus; Yahweh moet hom voorberei; Yahweh moet ‘n deur oopmaak – in sy eie krag en met sy eie vermoëns sal hy nie die pyp kan rook nie.

‘n Mens kan jou net voorstel wat dit vir Mosheh moes beteken om die woorde te hoor, “Ek sal met jou wees” (Exod 3:12) – net nadat hy sy eerste beswaar teenoor Yahweh geopper het. Dis die soort antwoord en die soort toerusting wat hy nodig gehad het. Die wete dat al het hy sy tekortkominge, al is hy onder ‘n wolk uit Egipte uit weg, al kan hy nie juis praat nie, al het Farao ‘n reputasie wat skrik vir niks, sal Mosheh nie alleen teen hom hoef op te staan nie. Die Elohiem van Yiesraél sal met hom wees. Die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde sal aan sy kant wees. En soos Shaúl dit later in sy brief aan die Romeine gestel het: As Hy vir ons is, wie kan dan teen ons wees?

Die opvallende van hierdie gedeelte is dat Mosheh die twee vrae gevra het wat seker die belangrikste twee vrae is wat enige mens ooit kan vra. Die eerste vraag het ons nou reeds van naderby bekyk: Wie is ek? En die antwoord wat die Vader vir hom gegee het, het hom gerus gestel dat selfs al weet hy (Mosheh) dat sy eie vermoëns beperk is en dat Farao hom maklik met een veeg van sy hand kan platvee, weet hy ook: Yahweh sal met hom wees. Hy hoef hierdie taak nie alleen aan te pak nie. Maar wat is die tweede vraag? Die eerste vraag is “Wie is ek?”. Die tweede vraag is “Wie is U?” So belangrik soos wat dit is om jouself te ken en jou eie beperkinge raak te sien; is dit selfs nog belangriker om Yahweh te ken, sy krag, sy verbintenis aan hulle wat aan Hom behoort, sy oog wat altyd ingestel is op diegene wat in nood verkeer, ek ook sy Naam.

Kom ons sê dit maar weer vir mekaar: In die Hebreeuse idioom maak dit geen sin om iemand te ken of te sê dat jy iemand ken en nie sy naam te ken nie. Of sy naam te ken en dit nie te gebruik nie. Daarom maak die Vader sy Naam aan Mosheh bekend. En Mosheh moet hierdie Naam aan Farao bekend maak. Dis dieselfde Naam wat Avraham en Yietsgak en Yaákov geken het en gebruik het. En dis hierdie Naam wat Yahweh wil hê gebruik moet word deur almal wat Hom liefhet en aan Hom verbind is. Shemot 3:15: “Dit is my Naam vir ewig, en dit is my Naam wat onthou moet word van geslag tot geslag.”

Wat ‘n geweldige antwoord het Yahweh nie hier vir Mosheh kom gee nie! Mosheh voel hy’s onbekwaam. Hy voel hy is nie opgewasse vir die taak nie. Hy voel hy kan nie praat nie. En wat doen Yahweh? Hy gee vir hom sy Naam: Yahweh. En wat beteken sy Naam? Het sy Naam die soort betekenis wat mense geweldig beïndruk, soos wat mens dikwels in die Indiaan stamme sal aantref en wat beswaarlik in een sin gesê kan word? Iets soos “die een wat 20 renosters met een beweging van sy vinger op ‘n grashalm kan balanseer?” Nee, die betekenis van sy Naam is eenvoudig. Selfs iemand met ‘n spraakgebrek kan dit uitspreek. Yahweh. “Ek is”. Die Een wat is. Die Een wat was. En die Een wat altyd sal wees. Selfs Mosheh, wat gedink het hy gaan wegkom met sy verskoning van “Ek kan nie praat nie” en “Ek is onbekwaam van mond” kan voor die groot Farao gaan staan en hom reguit in die oog kyk en sê: “Die een wat my gestuur het is Yahweh, die Ek is, dieselfde een wat ons voorvaders gevrees het en wat vir iemand soos Yosef soveel voorspoed hier in julle eie land onder julle eie mense gegee het.”

Watter verskonings ons ook al in die verlede uitgedink het om nie die pad te stap wat Yahweh van ons verlang nie, ons het vandag geen verskoning om nie die Naam van Yahweh te bely nie. Om sy Naam te misken, of met ander name te vervang, of net te onderdruk, is net so goed as om vir die Vader te sê: Ek wil hê dat U by my moet wees; ek wil hê dat U my moet seën, solank ek net nie u Naam op my lippe hoef te neem nie. So absurd as wat dit nou mag klink, is dit presies hoe baie mense met die Naam bo alle name maak. Sy Naam is die een Naam wat die sleutel hou om enige struikelblok wat oor ons pad mag staan, te bowe te kom. Aan sy Naam al die eer!