‘N WÊRELD VOL ONGEREGTIGHEID

alternate textVir my was dit nogal verrassend om uit te vind dat die internet, waar mens normaalweg binne enkele sekondes duisende artikels oor enige onderwerp onder die son kan opsoek of kan “Google”, nie juis veel inligting het oor die woord “ongeregtigheid” of “unrighteousness” nie – behalwe waar dit in die konteks van die Skrif gebruik word. Met ander woorde, vir meeste mense is “ongeregtigheid” ‘n ou, uitgediende konsep wat nie juis ‘n plek het in ons moderne samelewing nie. Woorde soos “injustice” en “inequality” en “unfairness” word male sonder tal op die internet gebruik, maar dieselfde kan nie van “unrighteousness” gesê word nie. Dit laat mens nogal wonder …

Kom ons fokus vir ‘n oomblik op die begrip “injustice”. My ou, Tweetalige Woordeboek sê die Afrikaans van “injustice” is onregverdigheid. Almal van ons ken die woord “onregverdig”. Almal van ons het al onregverdigheid in aksie gesien. Hoeveel dade van onregverdigheid vind daar nie daagliks in hierdie wêreld plaas nie? Daar is grotes en kleintjies. Bekendes en onbekendes. Ou gestaltes van onregverdigheid en moderne gestaltes van onregverdigheid. Onregverdigheid wat aan die kaak gestel is en onregverdigheid wat toegesmeer is. Onregverdigheid wat gestraf is en onregverdigheid wat ongestraf gebly het. Daar is onregverdigheid wat polities geïnspireer is; soms is dit finansieel geïnspireer en dikwels professioneel – om ‘n sekere idee of plan in ‘n werksituasie te implementeer, maak nie saak of daar in die proses eenvoudig oor mense en hulle regte gestoomroller word nie. Daar is tye dat onregverdigheid uit jaloesie plaasvind, ander tye uit selfsug en dikwels bloot net uit kleinlikheid en swak karakter.

In sy boek “Enduring Injustice” het Jeff Spinner-Halev ‘n lysie probeer maak van sommige van die bekende en minder bekende gevalle van onregverdigheid wat oor die afgelope 100 of 200 jaar in die wêreld plaasgevind het. Hy noem die voorbeeld van die ontdekking van goud in die hedendaagse Georgia in Amerika in 1829. Ten spyte daarvan dat die Cherokee Indiane toe lank reeds as ‘n selfstandige en onafhanklike groep in daardie streek gewoon het, het die staat van Georgia (met die steun van minstens twee Amerikaanse presidente) daarin geslaag om al die Cherokee Indiane te forseer om in die middel van die winter, te voet, van Georgia na Oklahoma te verhuis – ‘n afstand van sowat 1600 km. Omtrent 4000 Cherokees – sowat ‘n kwart van die hele stam – het in die proses gesterf en hierdie gedwonge verskuiwing is deesdae ‘n groot verleentheid vir Amerika en staan bekend as The Trail of Tears.

Spinner-Halev maak ook melding van die geval van die Australiese owerhede wat rofweg tussen 1869 en 1969 – ‘n periode van minstens 100 jaar – die beleid gevolg het om op ‘n gereelde basis die kinders van tradisionele Aborigine gesinne uit hulle huise weg te neem en by wit gesinne te “plaas”, om hulle glo blootstelling aan ‘n “beter kultuur” en “beter lewe” te gee. Daar word bereken dat tot 30% van alle kinders uit die huise van hierdie oorspronklike inwoners van Australië verwyder is en die skrywer sê hierdie skokkende praktyk is een van vele bewyse hoedat “colonialism can powerfully shape perceptions, convincing people that an obviously unjust policy is actually justifiable”.

Baie voorbeelde kan hierby gevoeg word. Die Holocaust van die die Tweede Wêreldoorlog is alombekend – kompleet met die diktator Hitler aan die spits, hardvogtige Duitse offisiere as handlangers, haat teenoor die Jode as dryfveer, strafkampe as gedwonge blyplek en gaskamers as metode van teregstelling. Daar is voorbeelde van slawerny, voorbeelde van onreg teenoor vroue, voorbeelde van uitbuiting van kinders, voorbeelde van korrupsie, voorbeelde van die aaklige monster van gierigheid, talle voorbeelde van die onregverdigheid van kolonialisme (een nasie wat baas speel oor ander nasies) en ons eie bekende voorbeeld van apartheid waarin daar oor ‘n periode van omtrent 50 jaar doelbewus, en selfs deur wetgewing, teen indiwidue en bevolkingsgroeperinge in Suid-Afrika gediskrimineer is, met gevolge wat ‘n ingrypende effek op miljoene mense se lewens gehad het.

In die Torah lesing van hierdie week (Deut 11:26 – 16:17) word daar een keer verwys na die praktyk van om bloot dit te doen wat reg is in jou eie oë (12:8) en drie keer na die praktyk van om dit te doen wat reg is in die oë van Yahweh (12:25; 12:28 en 13:18). Hier het ons onmiddellik, in ‘n neutedop, nie alleen die oorsaak van al die voorbeelde van onregverdigheid waarmee almal van ons so dikwels gekonfronteer word nie, maar ook die antwoord op die vraag: Hoe kan die onreg in die wêreld hok geslaan en selfs verminder word? Is die kern van die probleem nie PRESIES dít nie? Dat daar so baie mense is wat eenvoudig doen wat reg is in hulle eie oë? En dat daar so min mense is wat geïnteresseerd is daarin om te doen wat reg is in Yahweh se oë?

‘n Uitvloeisel hiervan is dat almal praat van regverdigheid (justice) en gelykheid (equality) en billikheid (fairness) en vryheid (freedom) en regte (rights), maar byna niemand is geïnteresseerd in wat die Skrif met GEREGTIGHEID bedoel nie. Dis hoekom Google so relatief arm is aan materiaal wat spesifiek oor geregtigheid handel. Dis hoekom selfs kerke en teoloë en geestelikes lang draaie loop om verse wat spesifiek oor geregtigheid handel. Omdat geregtigheid nie net oor mense se regte gaan nie, maar ook oor die Almagtige se regte – dit wat reg is in SY oë. Vandag is dit nie meer polities korrek en opvoedkundig korrek en kultureel korrek en godsdienstig korrek om die tema van geregtigheid ter sprake te bring nie. Dis verstommend, en terselfdertyd geweldig verrykend en opbouend, om uit te vind wat die Skrif alles insluit onder GEREGTIGHEID.

Om in Yahweh te glo is volgens die Skrif die eerste stap in die rigting van geregtigheid. Dit kan duidelik gesien word in die woorde van Gen 15:6: “En hy het in Yahweh geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” ‘n Mens kan nie anders as om hieruit af te lei dat ongeloof die enkele grootste oorsaak van al die onregverdigheid in hierdie wêreld is nie. Baie sou hier wou vra: Maar kán mense regtig verander? Sê die Skrif dan nie dat ‘n luiperd nie van sy vlekke ontslae kan raak nie? Ja, maar die Skrif sê ook dat iemand wat guns in Yahweh se oë gevind het, se ongeregtigheid kan vergewe word (Ex 34:9). Die wonderlike ding van vergifnis is dat dit mens help om beter perspektief op ‘n situasie te kry. Jy kyk nou nie meer net na mense en na die omstandighede rondom jou nie. Nee, jy kyk nou ook boontoe, na die Een wat die mag het om selfs jou skuld van jou af weg te neem. Niks kan jou lewe so radikaal verander as dít nie!

Die beste deel van geregtigheid is dat dit by Yahweh gesien kan word. Talle mense in die Skrif het na Yahweh se geregtigheid gekyk en by Hom kers opgesteek oor hierdie belangrike onderwerp. In Ps 7:17 sê Dawied: “Ek wil Yahweh loof na sy geregtigheid …” In Ps 22:31 sê hy weer: “Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word…” In Jes 5:16 skryf die profeet: “Die afgesonderde El sal Hom as die Afgesonderde laat ken deur geregtigheid…” Dit is die een ding wat mense deur die eeue heen na Yahweh getrek het – sy geregtigheid, wat soms verrassend anders is as mense se sogenaamde regverdigheid. Soms vergewe Hy sonde, soms verander Hy selfs van plan, soms reken Hy geregtigheid toe waar mense eintlik gestraf moes word. Soms neem Hy die inisiatief in ons verlossing voordat ons nog ‘n vinger verroer het – en dít terwyl ons onsself in die moeilikheid gedompel het!

Verder dui die Skrif aan dat geregtigheid spesifiek met die hou van Yahweh se gebooie te make het. Nie net een of twee nie. Nie die Tien Gebooie, minus die Sabbatsgebod nie. Nie die insettinge, minus die feeste en die verbod teen onrein kosse nie. Nie die gebooie wat op mense gerig is, ten koste van die gebooie wat op Yahweh gerig is nie. Nie met oorbeklemtoning van die gebooie wat oor die eer en die naam van mense gaan, maar met onderbeklemtoning van gebooie wat oor die eer en die Naam van Yahweh gaan nie. Die mens wat ontdek het dat geregtigheid gaan oor wat reg is in Yahweh se oë en dat Hy die bron is en dat sy Woord, sy vólle Woord, die kriterium is – daardie mens sal nie sukkel met die begrippe “billikheid” en “regverdigheid” nie. Daardie mens sal baie minder verwarring in sy gemoed hê oor wat reg en wat verkeerd is. Maar hy sal ook nie verwarring hê oor wat belangrik en wat prioriteit is en wat nie, want hy weet: Die eerste en die grootste gebod is om Yahweh sy Elohiem lief te hê met sy hele hart en sy hele siel en sy hele verstand. Die tweede, ondergeskik, maar net so belangrik, is om sy naaste lief te hê soos wat hy homself liefhet. Elke enkele faset van sy lewe word getoets en reg geposisioneer wanneer dit met hierdie sterk, betroubare maatband gemeet word!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »