MOENIE HALFPAD OPHOU NIE!

alternate textDie studente en Skrifkenners wat destyds in ou Israel hulle lewens daaraan gewy het om die Skrifte te ondersoek, is “soferim” genoem. Hierdie woord is afgelei van die woord “safar” wat beteken “om te tel”. Een van die belangrikste take wat die soferim gehad het was om gereeld die letters van Torah te tel en te verseker dat daar nie letters bygevoeg is of weggelaat is in die oordrag van die teks van een generasie na ‘n volgende nie. Dis nie om dowe neute dat daar minstens vier maal in die Skrif beklemtoon word dat daar niks (nie eens ‘n enkele letter) by die inhoud van die Skrif bygevoeg of weggelaat mag word nie (Deut 4:2; Deut 12:32; Spr 30:6 en Opb 22:18-19). Die Messias self het gesê dat daar nie een yota of een letterdeel van die Torah sal verlore gaan totdat alles gebeur het nie (Mat 5:18).

Die interessante van hierdie week se Torah leesstuk (Lev 9:1 – 11:47) is dat beide die middelste letter (van al die letters in die Torah) en die middelste twee woorde (van al die woorde in die Torah) in hierdie leesstuk of parashah voorkom. Die middelste letter is die “waw” in die woord “ghagon” (Heb: גָּחוֹן) wat in Lev 11:42 voorkom. As ‘n mens vooraf nie geweet het watter letter presies in die middel van die Torah staan nie en jy moes een kies, dan sou dit waarskynlik ‘n “waw” wees, want ‘n “waw” word normaalweg gebruik om een deel van ‘n sin of ‘n paragraaf aan ‘n ander deel van die sin of paragraaf te verbind. “Waw” is die letter in Hebreeus wat gebruik word as jy wil sê: “en …”. Vir my lyk dit heel gepas dat die middelste letter van die Torah nou juis ‘n “waw” is, want dit sê vir ons: moenie halfpad ophou nie – die Torah bestaan uit deel een EN deel twee!

Die middelste twee woorde kom in Lev 10:16 voor en die merkwaardige is dat dit eintlik ‘n herhaling van dieselfde woord is: “darosh darash”. In die oorspronklike Hebreeuse teks was daar geen klinkers in die teks nie en is hierdie twee woorde presies op dieselfde manier geskryf: דרשׁ . Darash beteken “to seek, to search, to enquire, to question” en die twee woorde direk langs mekaar word normaalweg vertaal as: “to seek diligently”. Is dit toevallig dat die eerste helfte van die Torah met die woord “darash” eindig en dat die tweede helfte van die Torah met presies dieselfde woord begin? En dat hierdie woord nou juis “darash” is wat op plekke soos Deut 4:29 gebruik word om lesers aan te moedig om met groot ywer die Skrif te ondersoek en ook vir Yahweh met hulle hele hart te soek? Ook hier is die boodskap duidelik: Moenie halfpad ophou nie! Hou aan om te soek. Hou aan om ondersoek in te stel. Hou aan om jou hart op Yahweh te rig en met al die krag tot jou beskikking na te speur wat dit is wat Hy in sy Woord vir jou wil sê!

Ons het reeds daarna verwys dat dit een van die belangrikste take van die soferim was om te tel. Hierdie week se parashah of leesstuk staan bekend as “shemini” wat “agste” beteken. Hierdie benaming kom uit die heel eerste vers (Lev 9:1) waar ons lees: “En op die agtste dag het Mosheh Aharon en sy seuns en die oudstes van Yiesraél geroep …”. In die Hebreeuse verstaan van dinge het die agste dag van die vroegste tye af ‘n besonderse betekenis gehad. Hier in Lev 9 was die agste dag die dag wat gevolg het op die sewe dae waarin die priesters aan Yahweh toegewy is en waarin hulle dag en nag in die tent van byeenkoms moes bly en nie toegelaat is om by die deur uit te gaan nie. Voordat die sewe dae verby is, was hulle nog nie geskik om hulle priesterlike take te vervul nie. Die agste dag word in die Skrif byna altyd vermeld saam met die sewe dae wat dit voorafgaan. Dit neem normaalweg ‘n volle week van sewe dae om by ‘n punt van afsluiting en by volkomenheid en by ‘n nuwe begin te kom. Daarom het die besnydenis op die agste dag plaasgevind. Daarom moes ‘n offerdier eers sewe dae na geboorte by sy moeder bly en kon dit eers op die agste dag as offer aan Yahweh gebring word. Dieselfde kombinasie van sewe dae en ‘n agste dag het gegeld vir ‘n Nazireër wat sy Nazireërskap wou beëindig; vir ‘n melaatse wat as gesond geklassifiseer wou word en vir die afsluiting van die Huttefees. Die agste dag staan vir die volheid en die oorvloed en selfs die genesing wat uit Yahweh se hand uit kom. Die grootste fout wat ‘n mens kan maak, is om die sewe te ignoreer en te dink (of te hoop) dat hy sonder die sewe nog steeds die volheid of die oorvloed gaan bereik. Ook hier is die boodskap duidelik: Moenie halfpad ophou nie! Moenie die belangrikheid van die sewe onderskat nie! Ons moet deur die volle sewe dae gaan (insluitend en veral die volle betekenis van die sewende dag) om die voordele van die agste dag en die volkome herstel wat Yahweh vir ons wil gee, te kan proe en te kan geniet.

In Hebreeus is die betekenis van woorde geweldig belangrik. Die woord “shemini” wat “agste” beteken, kom eintlik van drie verwante woorde “shaman” (om te blink soos olie) , “shamen” (olierig, vetterig, oorvloedig) en “shemen” (olie, rykdom, salwing). Die ou rabbi’s het geglo dat die agste dag waarvan daar in Lev 9 gepraat word, saamgeval het met die eerste dag van die eerste maand (m.a.w. die eerste dag van die jaar), want elke nuwe groep priesters moes vanaf die eerste dag van die jaar af gereed wees om hulle priesterlike take te vervul. As die ou rabbi’s reg was, dan beteken dit die agste dag was terselfdertyd ook die eerste dag van die jaar – net soos die agste dag van die week, terselfdertyd ook die eerste dag van die week is en net soos die agste “dag” in die toekoms (volgens die skema van een dag is soos ‘n duisend jaar), terselfdertyd ook die eerste dag van die nuwe hemel en die nuwe aarde sal wees. Wat is dit wat Yahweh op die agste dag vir ons wil gee? Olie, oorvloed, vettigheid, rykdom en salwing!

Ps 23:5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie (shemen); my beker loop oor.
Ps 45:7 U het geregtigheid lief en haat afvalligheid. Daarom het, o Elohiem, u Elohiem U gesalf met vreugde-olie (shemen) bo u metgeselle.
Ps 92:10 Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie (shemen) gesalf.
Spr 21:20 ‘n Kosbare skat en olie (shemen) is in die woning van die regverdige, maar ‘n dwase mens bring dit deur.
Pred 9:8 Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie (shemen) op jou hoof nie ontbreek nie.
Jes 61:3 (Yahweh het my gesalf) om vir die treurendes in Tsion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie (shemen) vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van Yahweh, om sy grootheid te betoon.
Eseg 34:14 Op ‘n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Yiesraél sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op ‘n goeie plek en wei in ‘n geil (shamen) weiveld op die berge van Yiesraél.

Y’shua, die Seun van die Allerhoogste, word ook genoem die Messias of “Maschiach” wat “Gesalfde” beteken – die Een vir wie Yahweh (soos geprofeteer in Psalm 45:7) met vreugde-olie (as Koning en as Hoëpriester) gesalf het bo sy metgeselle. Die olie waarmee Hy gesalf is was egter nie van die begin af vreugde-olie nie. Sy eie mense het nie sy salwing of sy koningskap erken nie. Sy eie dissipels het geprotesteer toe ‘n eenvoudige vrou hom met duur olie wou salf en gesê die olie kon verkoop gewees het en die geld aan armes gegee word. Die plek waar Hy die laaste paar uur voor sy dood deurgebring het, het bekend gestaan as Getsemane wat beteken Plek van die Olyfpers (let op die woord “shemen” wat in Getsemane voorkom, verwysend na die olie wat uit olywe gepers word). Die vyand het ‘n verbete poging aangewend om die Maschiach deur ‘n olyfpers prosedure te neem en te probeer verhinder dat Hy die proses klaarmaak waarmee Hy begin het – soveel so dat Y’shua op ‘n stadium gebid het: As dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Maar uiteindelik het Hy nie halfpad opgehou nie en op die eerste dag (of die agste dag) het hy die eersteling geword van die wat uit die dood opgewek word omdat hulle geleer het om deur te druk tot die einde toe.

Moet ons nou om daardie rede die eerste dag as rusdag vier in die plek van die sewende dag? Nee, want as ons dít doen val ons eintlik maar net in by die patroon wat nou al so tipies geword het van die populêre manier van glo daarbuite – die patroon wat sê: Al wat tel, is die opstanding wat plaasgevind het, die oorwinning wat gewaarborg is, die redding wat reeds verwerf is, die geregtigheid wat reeds volbring is. Wat ons as mense in die tussentyd, in die periode van sewe dae doen, is nie van belang nie. Niks is verder van die waarheid, en gevaarliker, as dit nie. Mag die agste dag (en die beloning wat die agste dag vir ons inhou) ons aanspoor om voluit erns te maak met die wydingsperiode van sewe dae waarin ons op die oomblik is en veral ook erns te maak met die sewende dag van rus, waarsonder ons dit nie gaan regkry om end-uit vol te hou en die nuwe begin van die Agste Dag te beleef nie!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »