KEN JY HIERDIE RUS?

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week (Gen 6:9 – 11:32) bestaan grotendeels uit die beskrywing van wat met Noag en sy mense tydens die vloed gebeur het. Die leesstuk staan bekend as Parashah Noag. Die woord “noag” beteken “rus” en daar is verbasend baie aspekte in hierdie parashah wat lig werp op die vraag: Watter soort rus het Yahweh van die begin af vir sy mense in die oog gehad? Soms word daar grappenderwys na Noag se ark verwys en gesê: “When you’re stressed, float a while!” Is dít die soort rus en vertroosting wat Yahweh aanbied vir hulle wat moeg is en afgemat is en werklik rus nodig het? Miskien is dit nie ‘n slegte idee om soms net die boot te vertrou en af te sien van jou eie pogings om in hierdie wêreld self jou kop bo water te hou nie. Maar ten diepste is daar baie meer fasette wat met Yahweh se rus te make het en ek glo hierdie week se parashah het die potensiaal om ons beperkte siening van rus op ‘n ongekende skaal te verbreed en te verryk! En alhoewel “noag” ‘n ander woord vir “rus” is as die een wat ons heelwat beter ken – die woord “shabbat” – sal hierdie parashah uiteindelik ook vir ons meer lig kom werp op die diepere betekenis van die Shabbat.

Die eerste aspek van rus kom eintlik al reeds in die laaste vers van die vorige parashah na vore – Gen 6:8 “Maar Noag het guns gevind in die oë van Yahweh”. Hy wat guns gevind het in die oë van Yahweh, het homself of haarself geposisioneer om die opwindende pad te begin loop om te leer wat ware rus werklik beteken. Een van die mees klassieke hoofstukke oor die nuwe verbond, YermeYahu (Jeremia) 31, word begin met hierdie woorde: “Die volk van diegene wat van die swaard vrygekom het, het guns gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet” (vers 2). In die res van hierdie hoofstuk word verder uitgebrei oor wat hierdie rus ten diepste behels: “Ek sal hulle bring by waterstrome” (9); “Yahweh sal hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (10); “hulle sal toestroom na die seëninge van Yahweh” (12); “Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos” (13); “Ek gee my Torah in hulle binneste en skryf dit op hulle hart” (33); “Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (33); “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (34). Deur bloot na hierdie hoofstuk te kyk, sien ‘n mens alreeds meer as duidelik dat rus BAIE meer behels as net om jou te weerhou van werk. Die weerhouding van werk op die Shabbat is dus eintlik ‘n (noodsaaklike!) teken of ‘n heenwysing na iets veel groters wat op ‘n meer onsigbare vlak gebeur het: verkwikking van jou siel; verwydering van jou vrees; vertroosting van jou hart; sekerheid van jou veiligheid; vertroue vir die toekoms; geborgenheid in jou verhouding met Yahweh!

Die woord wat in Afrikaans (en Engels) met “ark” vertaal word (“tevah”) is nie so algemeen bekend in Hebreeus nie en dis nie seker presies waar dit vandaan kom nie. Party sê dis bloot ‘n hok of ‘n houer (Engels: box, container) waarin iets of iemand bewaar word. Die bekende Joodse Rabbi, Baal Shem Tov, het gesê “tevah” beteken eintlik “woord” (hóé hy daarby uitgekom het, is nie seker nie). Noag se geheim was dus dat hy rus gevind het in die woord of die woorde van Yahweh. Omdat hy die woord van Yahweh geglo het en dit aangehang het, het hierdie woord hom en sy mense bewaar – dit het hulle gered toe duisende ander rondom hulle in die vloed omgekom het. ‘n Ander woord wat moontlik met “tevah” verband hou, is “ta’avah” wat “begeerte” of “verlange” beteken. As daar inderdaad ‘n korrelasie tussen “tevah” en “ta’avah” bestaan, is dit ironies dat die skrywer van Psalm 119 geskryf het: “My siel vergaan van verlange na u verordeninge voortdurend” (Ps 119:20). As ons hierdie vers met Noag se verhaal vergelyk, is daar eintlik “twee maniere” van vergaan – die een manier is om te vergaan in die vloed wat Yahweh bring oor die ongehoorsaamheid van hierdie wêreld en die ander manier is om te vergaan van verlange na die verordeninge van Yahweh! Die eerste manier van vergaan sal jou nooit by enige vorm van ware rus uitbring nie. Die tweede manier bring jou by ‘n vorm van rus wat jy met alles waaroor jy beskik sal najaag, as jy eers iets daarvan beleef het!

Ons het reeds gesien dat die laaste vers van die vorige parashah (Gen 6:8) alreeds lig werp op die betekenis van “rus”. Dieselfde geld van die eerste vers van hierdie week se parashah (Gen 6:9). Hier lees ons dat Noag met Yahweh gewandel het. Slegs iemand wat Yahweh van naderby leer ken het, sy hartklop ervaar het, sy woorde gehoor en ingedrink het en met Hom gewandel het, kan aanspraak maak daarop dat hy of sy iets van die Ware Rus leer ken het. Die kerkvader Augustinus wat in die vyfde eeu geleef het, word tot vandag toe baie opgehemel – beide in Rooms Katolieke en Protestantse geledere, ten spyte daarvan dat hy verantwoordelik was vir baie van die misleidende idees wat nou al vir honderde jare reeds die leerstellinge van kerke oorheers. Leerstellinge soos dat Maria “the Mother of God” is (tesame met ander verwarrende idees wat met die Drie-eenheid te make het); dat die Rooms Katolieke kerk onfeilbaar is; dat babas gedoop moet word en dat daar nie ‘n letterlike millennium is wat nog moet aanbreek nie. Ten spyte hiervan het Augustinus meer insig in die Skrif gehad as baie van sy tydgenote en onder meer die volgende uitspraak gemaak wat direk verband hou met die tema waarmee ons vandag besig is. Hy het gesê: “U het ons vir Uself gemaak en ons harte bly onrustig in ons, totdat dit rus vind in U.” Daar behoort by ons geen twyfel te wees nie dat Yahweh ons inderdaad vir Homself gemaak het. Sy bedoeling was dat ons met Hom sou wandel en dat ons op so ‘n manier die rus sou vind wat Hy reg van die begin af vir ons bedoel het!

In Gen 6:11-12 word daar drie dinge van die mense van die destydse wêreld gesê – drie dinge wat ewe waar is van die mense van ons eie tyd: (1) die aarde was vol geweld (2) die aarde was verdorwe, en (3) alle vlees het Yahweh se weg op die aarde ondermyn. Hoe wáár is dit nie van ons eie dag nie! Geweld en morele verval en die doelbewuste ondermyning van Yahweh se woorde en verordeninge en weë. En omdat Hy as die Skepper ons só geskep het dat ons net ware rus by Hom kan kry, kom die mense van hierdie wêreld (wat hulle besig hou met die gewelddadige en bedorwe skemas van hierdie wêreld) nooit by daardie plek uit waar hulle gehoop het om rus te vind nie. Hou hulle daarom op met soek? Sommiges wel, maar meeste hou aan met soek. Die tragedie is net dat bitter min by die regte plek na hierdie rus gaan soek en dat die meeste dus onvervuld bly – hulle hele lewe lank!

In Gen 6:18 hoor ons dat Yahweh vir Noag sê: “Met jóú sal Ek my verbond oprig …” Dit is die inisiatief wat Yahweh neem om vir Noag te laat beleef wat van sy geboorte af, deur die betekenis van sy naam, oor hom geprofeteer is. Nêrens kan mens daardie soort rus vind wat jy vind as jy in ‘n verbond met Yahweh staan nie. Die tipiese formaat van ‘n verbond is dat die sterker party aan die swakker party belowe: Ek bied aan jou beskerming, sekuriteit, voorsiening, verlossing, bevryding in ruil vir jou lojaliteit en onderdanigheid. En die tipiese bewoording is dieselfde bewoording wat ons vind in YermeYahu 31: “Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Wat meer kan ‘n mens van die Allerhoogste vra? Wat meer kan ‘n mens verlang as dat Hy jou Elohiem, jou Beskermer, jou Verlosser sal wees en dat jy met die gemoedsrus kan lewe dat jy deel van sy volk is? Geen mensgemaakte rus, geen vakansie, geen adrenalien-gedrewe avontuur, geen middagslapie of Rip van Winkel-tipe slaap, geen oppervlakkige Sabbatsonderhouding kan vir jou hierdie soort rus gee nie.

Terwyl dit wáár is dat die blote oppervlakkige onderhouding van die Shabbat jou nie noodwendig by Ware Rus gaan uitbring nie, is dit ook waar dat hulle wat iets van hierdie Rus begin proe het, skielik die betekenis en die belangrikheid en die mooiheid van die Shabbat begin ontdek. Dat hulle skielik begin insien dat hierdie Een wat ons vir Homself gemaak het, die hele skepping met sorg en orde en fyn beplanning gemaak het en begeer dat sy mense by hierdie orde en ritme sal inskakel. Daarom dat die getal sewe so gereeld en so prominent in die geskiedenis van die ark na vore kom. Die ritme van die weke en die maande en die seisoene is vir Yahweh belangrik. Hy belowe self ná die vloed:

Gen 8:22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Daarom pas dit ons om die Shabbat te hou – nie op ons manier nie, maar soos Hy dit beveel het. Daarom pas dit ons om die ander tye te hou soos Hy dit beveel het – dae, weke, maande en feeste . Tye en seisoene het op ‘n besondere manier met RUS te make (daarom word meeste feesdae as rusdae uitgeroep) en leer ons ten diepste om die waardes en prioriteite van die Allerhoogste tot ons eie waardes en prioriteite te maak. Dit staan enige iemand vry om sy rug hierop te draai en ander vorms van rus na te jaag, maar vir so ‘n mens geld die woord van Tehilliem 95:11 “Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!” Kom ons maak dit ons hoogste roeping, ons lewenstaak, om die rus na te jaag wat ons Maker in beginsel reeds vir ons gegee het!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »