HOOR JY DIE VOETSTAPPE VAN DIE MESSIAS?

alternate textEk het as kind een of twee keer saam met my pa groot atletiek byeenkomste in die destydse Groenpunt Stadion gaan bywoon. Een van die items wat my seker die meeste gefassineer het, en wat ek dikwels by die huis gaan probeer naboots het, was die stap item waarin dit altyd vir my gelyk het of die atlete met die woeste geswaai van hulle arms probeer om meer spoed op te bou en die ander deelnemers van hulle af weg te hou. Kenners meen dat die hakskeen die deel van die liggaam is wat die belangrikste rol in die stap item speel. Jou agterste voet mag basies nie van die baan opgetel word voordat die hakskeen van jou voorste voet aan die grond geraak het nie. As die beamptes sien dat ‘n deelnemer hom nie aan hierdie reël hou nie en op só ‘n manier stap dat albei voete gelyktydig in die lug is, word hy eers gewaarsku en uiteindelik, as hy nie gehoor gee nie, gediskwalifiseer.

Die deel van die liggaam wat as die “hakskeen” bekend staan, word nogal dikwels in die Skrif vermeld of geïmpliseer. Volgens die heel eerste belofte in die Skrif (ook bekend as die “moederbelofte” in Gen 3:15) sou die Saad van Gawah (Eva) die slang se kop vermorsel en die slang sou hom in die hakskeen byt. Yaákov het sy naam ontvang omdat hy by geboorte die hakskeen (Heb: “akev”) van sy tweelingbroer, Esau, vasgehou het. En in Ps 41:9 word daar gesê: “Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.” Om die hakskeen teen iemand op te lig is om hom te verraai en daarom het die Messias in Joh 13:18-21 hierdie vers van Ps 41:9 aangehaal met verwysing na Yehudah (Judas) wat Hom sou verraai: “Ek praat nie van julle almal nie – Ek weet wie Ek uitverkies het – maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig … Amein, amein Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.”

Hierdie week se Torah lesing staan bekend as Parashah Eikev. Dit begin met Devariem (Deuteronomium) 7:12 “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en vervul, sal Yahweh jou Elohiem vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het …” Let veral op die woorde: “Omdat julle na hierdie verordeninge sal luister …” Sommige Engelse vertalings vertaal dit met: “As a consequence of your keeping the laws …”. Met ander woorde: Nie die gewone “As julle na hierdie verordeninge sal luister” of (Engels) “If you keep my laws” nie. Maar in plaas daarvan: “As gevolg daarvan dat julle my wette hou” of “As ‘n beloning vir die feit dat julle my wette hou”. Wat is nou eintlik die verskil? Skrifverklaarders het oor die eeue heen groot betekenis geheg aan die feit dat daar in Deut 7:12 nie die gebruiklike “as” (Heb: “im”) gebruik word nie, maar die taamlik ongewone “omdat” (Heb: “eikev”).

Die woord “eikev” is direk verwant aan “akev” wat “hakskeen” beteken. Waarom word hierdie woord dan vertaal met “omdat” of “as gevolg van”? Die antwoord op hierdie vraag bewys maar net weer hoe lewendig en prakties die Hebreeuse taal is. ‘n Mens se hakskeen is aan die een uiterste van jou liggaam – die heel onderste of die heel verste of die heel laaste gedeelte van jou liggaam. Dit verteenwoordig die end of die einde van jou liggaamsdele en daarom word hierdie woord ook gebruik om na die uiteinde of die gevolg of na die beloning aan die einde te verwys. Dit kan duidelik in die volgende gedeeltes gesien word:

Ps 19:11 In die onderhouding van die Torah is daar groot loon (“eikev”).
Ps 119:33 Leer my … u insettinge, sodat ek dit tot die einde (“eikev”) toe kan bewaar.
Ps 119:112 Ek wil u insettinge betrag, vir ewig, tot die einde (“eikev”) toe.
Spr 22:4 Die loon (“eikev”) van nederigheid is die vrees van Yahweh.

Een van die bekendste Middeleeuse Rabbi’s en kommentators op die Torah, Rashi, het gesê Deut 7 belowe eintlik dat die Almagtige diegene sal seën wat erns maak met met sy gebooie – veral daardie gebooie wat mense geneig is om te minag en met hulle HAKSKENE te vertrap; ook daardie gebooie wat mense geneig is om heel laaste op hulle prioriteitslys te plaas – net soos wat die HAKSKEEN heel laaste en heel onderaan ‘n mens se liggaam is. Of dit die rede is waarom die woord “eikev” in hierdie gedeelte gebruik word, kan ons nie met sekerheid sê nie. Maar ons kan gerus kennis neem van Rashi se verstaan van hierdie gedeelte. ‘n Mens se erns met die Woord van Yahweh en met die Torah word inderdaad na vore gebring in die manier waarop jy omgaan met daardie gebooie wat deur baie mense as onbelangrik en onbenullige beskou word. Dit word bevestig deur die uitgebreide seën wat in hierdie parashah uitgespel word. Verder word dit ook bevestig deur die herhaalde voorkoms in die Skrif van die beginsel van “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig” (sien onder meer Luk 16:10 en Mat 25:21). Die numeriese waarde van die woord “eikev” is 172 en daar is presies 172 woorde in die tien gebooie. Ons word opgeroep om die tien gebooie te onderhou – tot “die laaste een” daarvan. Iemand wat besluit om die vierde gebod (Shabbat) of die derde gebod (die Naam van Yahweh) te verontagsaam met die verskoning dat hy nog steeds die ander gebooie onderhou, kan nie aanspraak maak op die seën van parashah Eikev nie.

Wat is hierdie seën? Kom ons kyk na ‘n paar aspekte daarvan:

Yahweh sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig (7:13).
Yahweh sal die vrug van jou liggaam en die vrug van jou land seën (7:13).
Yahweh sal elke kwaal van jou wegneem (7:15).
Yahweh sal jou vyande aan jou oorgee – ook hulle wat meer en groter as jy is (7:16-23).
Yahweh sal jou leer dat mens nie net van brood alleen lewe nie (8:3).
Yahweh sal jou onderrig soos wat ‘n man sy seun onderrig (8:5).
Yahweh sal jou bring in ‘n land waarin niks jou sal ontbreek nie (8:9).

Sommige kommentators noem parashah Eikev die parashah van “Die Hakskene van die Messias”. Die beeld wat hierdie beskrywing by ‘n mens laat opkom is van die Messias wat naderkom – so naby dat ‘n mens alreeds sy voetstappe kan hoor, die geluid van sy hakskene wat kontak maak met die grond. Waarom word hierdie gedeelte juis met die Messias in verband gebring? Een van die moontlike redes is dat die seën wat hier uitgestippel word, ‘n mens herinner aan die seën wat gepaard sal gaan met die koms van die Messias. Alhoewel die seën wat hier beskryf word, ook verwag kan word in die tyd vóór die koms van die Messias, sal dit eers ná sy koms volledig gestalte aanneem. Eers dán (aan die einde; in die tydperk van die hakskeen) sal ons die volle seën van Yahweh ken en geniet. Eers dán sal elke liewe kwaal letterlik van ons weggeneem word. Eers dán sal ons die volle oorhand oor ons vyande kry. Eers dán sal ons leer wat dit beteken om te lewe van elke woord wat uit Yahweh se mond uitgaan. Eers dán sal ons die land binnegaan waar ons alles sal hê en niks ons sal ontbreek nie.

Is ons dalk die laaste generasie (die hakskeen generasie) voor die koms van die Messias? Ons behoort te lewe soos mense wat vas glo dat hulle die koms van die Messias gaan sien en gaan ervaar – dat sy koms in hulle tyd gaan plaasvind! Op die oomblik kry die vyand dit nog reg om die Saad van Gawah in die hakskeen te byt – nie net vir Hom nie, maar ook vir hulle wat aan Hom behoort. Maar soos Hy, behoort ons erns te maak met die Torah – selfs die kleinste detail daarvan; selfs al vertrap duisende ander dit onder hulle voete – en, soos Hy, behoort ons vooruit te kyk na die beloning wat vir ons in die vooruitsig gestel word. Daardie beloning sluit in dat ons getuies daarvan sal wees dat die moeder-belofte finaal in vervulling gaan en die ou Slang en alles waarvoor hy staan, finaal onder die voete van die Messias vertrap word. As ons regtig fyn luister, kan ons alreeds die voetstappe van die Messias hoor naderkom …

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »