GEES VAN DIE SHABBAT

alternate textHierdie week se Torah leesstuk kan in twee dele opgedeel word: een deel wat uit 3 verse bestaan (Ex 35:1-3) en ‘n tweede deel wat uit 119 verse (Ex 35:4 – 38:20) bestaan. Is dit nie ‘n taamlik ongebalanseerde indeling nie? Die antwoord hierop is: Miskien in terme van lengte, maar nie in terme van diepte nie. Die eerste deel gaan oor hoe om die Shabbat hou en die tweede deel gaan oor hoe om die tabernakel te bou. Altwee hierdie temas het reeds voorheen in die boek Shemot (Exodus) aandag ontvang: Shemot 25 tot 27 het beskryf hoe om die tabernakel te bou en Shemot 31 het beskryf hoe om die Shabbat te hou.

Nou word hierdie twee temas egter weer aangeroer. En veral die eerste tema, die tema van die Shabbat, word as só belangrik beskou dat daar in die eerste vers (Ex 35:1) gesê word dat Mosheh die hele vergadering van die kinders van Yiesraél bymekaar laat kom het om met hulle oor hierdie onderwerp te praat. Kan dit wees dat hy hulle bymekaar laat kom om oor die Shabbat te praat, sodat hulle kan oefen en kan gewoond raak om bymekaar te kom – nie net wanneer daar oor die Shabbat gepraat word nie, maar ook wanneer die Shabbat beoefen word, wanneer dit gedóén word? Dit bly vir my verstommend dat daar nog steeds groepe en gemeentes is wat oor die Shabbat praat en selfs geluide maak dat hulle die Shabbat hou en doen, maar dan kom hulle as gemeentes bymekaar op die Sondag, asof die opdrag en die patroon van die Skrif – om spesifiek op die Shabbat bymekaar te kom – nie vir húlle bedoel is nie.

Maar wat is dit wat Mosheh hierdie keer oor die Shabbat te sê het? Hy lig veral 5 aspekte uit:

(1) Ses dae lank moet daar werk verrig word
(2) Die Shabbat is ‘n dag van afsondering of afgesonderdheid
(3) Die Shabbat word beskou as ‘n “shabbat shabbaton”
(4) Elkeen wat werk op die Shabbat, moet doodgemaak word
(5) Op die Shabbat mag geen vuur in die woonplekke aangesteek word nie

Om die ander 4 aspekte reg te verstaan, is dit belangrik om met die derde aspek te begin: Die Shabbat word beskou as ‘n “shabbat shabbaton”. Wat is ‘n “shabbat shabbaton”? Letterlik beteken dit ‘n Shabbat van shabbatte. Die enigste twee tipe dae wat in die Skrif ‘n “shabbat shabbaton” genoem word, is die weeklikse Shabbat en Yom Kippur. Die ander feesdae wat ook die karakter van rusdae het, word nooit só genoem nie. Baie is al gesê en geskryf oor wat presies met ‘n “shabbat shabbaton” bedoel word. Sommige rabbi’s het al daarop gewys dat dit impliseer dat die ander ses dae van die week – op ‘n sekere manier – ook as “Shabbatte” beskou kan word. Die sewende dag is dan die rusdag by uitnemendheid – die groot rusdag wat uitstyg bo die ander ses rusdae. Die eerste dag tot die sesde dag van die week is vir diegene wat hulle verwagting in die Allerhoogste stel, ook “rusdae” in die sin dat hulle hoop en hulle verwagting in Hom gesetel is. Selfs al werk hulle, is hulle “rustig” in die wete dat Yahweh sal voorsien. Hulle voorspoed hang nie af van húlle werk nie. Nee, hulle voorspoed hang af van Hom wat vir hulle (in hulle slaap as dit moet) álles kan gee wat ‘n mens in hierdie lewe nodig het.

Voordat mense wat nog nooit die Shabbat gehou het nie, kom tou staan om in te skryf vir hierdie stelsel waar mens ses shabbatte op ‘n streep het en dan nog ‘n sewende een wat net baie meer intens is as die vorige ses – kom ons kyk eers mooi na die tweede aspek wat hier uitgelig word: Ses dae lank moet daar werk verrig word. Jammer om die pret te bederf van diegene wat gehoop het die Torah is teen werk gekant en moedig ‘n mens aan om op die moderne “jollielorries” te klim van “passive income” en “make-money-while-you sleep”. Werk is nie opsioneel nie. Dis verpligtend. En dit moet plaasvind op die ses mini-shabbatte wat die “shabbat shabbaton” voorafgaan. Maar ook hier is daar iets wat mens moet raaksien. Nie: Ses dae lank moet jy werk nie, maar ses dae lank moet daar werk verrig word. Die Hebreeuse teks gebruik hier die passiewe vorm “werk moet verrig word”, nie die aktiewe vorm “julle moet werk verrig” nie. Waarom is dit so? Ook hierin lê daar iets kosbaars opgesluit.

Die werk wat op die ses “gewone” dae gedoen moet word, moenie jou lewe oorheers nie. Dit moet gedoen word – na die beste van jou vermoë gedoen word – maar op só ‘n manier dat jy nie jou oog van Yahweh afhaal en jou vertroue in Hom verruil vir vertroue in jou werkgewer of vertroue op jou eie vermoëns nie. In Engels gestel: We should be occupied with our endeavours during these six days, not pre-occupied. In Deut 15:18 word daar uitdruklik gesê: “Yahweh jou Elohiem sal jou seën in alles wat jy doen.” Dit beteken dat die mens wat Yahweh eerste stel in sy lewe, nie werk met die oog daarop om ‘n lewe van sy werk te maak nie, maar dat hy werk met die oog daarop om ‘n instrument of ‘n kanaal of ‘n houer te wees wat die seëninge van Yahweh kan ontvang. Ons mag nooit vergeet nie dat ons nie deur ons eie pogings onderhou word nie, maar deur Yahweh se seëninge. En die plek waar Yahweh gekies het om ons te seën (volgens Deut 15:18) is in alles wat ons doen.

Oor die Shabbat wat ‘n dag van afsondering of van afgesonderdheid is, het ons reeds gepraat. In die “Ki Tisa” parashah van verlede week het dit ten sterkste na vore gekom en het ‘n mens duidelik gesien hoedat die Shabbat die een, onmiskenbare teken is dat sommige mense vir Yahweh afgesonder is – dat hulle anders lewe en anders optree as diegene wat nie plekmaak vir Yahweh in hulle lewens nie. Hierdie aspek van afgesonderdheid is ‘n wesenlike deel van ‘n lewenstyl wat op die Torah gebaseer is. As jy iemand is wat belangstel om die pad van die Torah te stap, maar jy sien nie kans vir die aspek van afgesonderdheid en andersheid nie, is jy nog nie gereed vir hierdie pad nie.

Kom ons kyk kortliks na die vierde aspek: Elkeen wat werk op die Shabbat moet doodgemaak word. Sommiges gebruik hierdie bepaling as ‘n “bewys” dat mens nie meer vandag die Torah ernstig kan opneem nie. Omdat mens nie meer vandag iemand kan doodmaak wat die Shabbat oortree nie, geld die gebod (in sy geheel) nie meer vir die mense van vandag nie – só sê hierdie mense. Iemand wat só redeneer probeer myns insiens nie werklik om te hóór wat die Skrif sê nie. Die Skrif sê ook dat hulle wat moord pleeg behoort doodgemaak te word. Beteken dit dan dat die verbod teen moord pleeg ook geskrap moet word? Die Skrif sê ook dat diegene wat owerspel bedryf moet doodgemaak word, asook die persoon wat ‘n ander een verkrag, of bloedskande pleeg of handel dryf met mense. Beteken die feit dat ons regstelsel verander het en al hierdie oortredinge nie altyd met die dood strafbaar is nie, dat die oortredinge skielik nie meer oortredinge is nie? Natuurlik is dit nie wat dit beteken nie. Yahweh soek mense wat na sy hartklop kan luister – selfs al lewe ons in ‘n wêreld wat glad nie meer op sy verstaan van reg en verkeerd ingestel is nie. En wanneer dit kom by die Shabbat – Hy soek mense wat die hart en die gees van die Shabbat kan onderskei en bereid is om dit een honderd persent deel van hulle lewens te maak.

En dan laastens: Op die Shabbat mag geen vuur in die woonplekke aangesteek word nie. Baie is al hieroor geskryf en “vurige” debatte is al hieroor gevoer! Allerlei afleidings word hieruit gemaak wat glad nie in die Skrif voorkom nie en talle dinge word soms in hierdie verbod ingelees wat niks met die Skrif te make het nie. Kom ons stel dit eenvoudig: Dit gaan nie hier oor die vuur in ‘n motor se vonkproppe of in ‘n mikrogolf se skakelaar of in die meganisme van ‘n hysbak nie. Dit gaan eenvoudig oor die aansteek van vuur. Ons behoort dus nie ‘n vuur of ‘n braaivleis of ‘n gasstoof of ‘n lamp of ‘n kers op die Shabbat aan te steek nie – selfs nie eens die sogenaamde shabbat kerse (wat terloops nie ‘n Skriftuurlike gebruik is nie). As jy dan moet ‘n kers aansteek, steek dit aan voor die Shabbat. En as jy moet ‘n vuur aansteek omdat dit koud is en jy die hitte van die vuur nodig het, steek dit aan voor die Shabbat. En as jy in die versoeking is om ‘n braaivleisvuur net voor die Shabbat aan te steek, moenie val vir die versoeking nie, want dit beteken dat jy gaan kosmaak op die Sabbat – wat glad nie nodig is as jy jou beplanning gedoen het en as dit jou erns is om die gees van die Shabbat te bewaar en die Gewer van die Shabbat te eerbiedig nie. Die enkele maatreëls wat destyds in verband met die Shabbat aan die volk voorgehou is (nie ‘n ellelange lys van moets en moenies wat self deur mense uitgedink is nie) is as so belangrik beskou dat Mosheh die 3 miljoen mense wat deel van die volk van Yiesraél uitgemaak het, spesiaal vir hierdie doel laat bymekaar kom het. Laat ons nie die fout maak om die gees van die Shabbat te demp deur dit af te water, op te dollie, uit te brei of deurmekaar te krap met dinge wat van mense af kom en nie van Yahweh af nie. As ons Hom liefhet, sal ons sy Dag hou soos Hy gevra het …

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »