EERS DOEN, DAN LUISTER

alternate textIn hierdie week se parashah is daar ‘n merkwaardige vers wat oor die eeue heen tot wye bespreking en bespiegeling aanleiding gegee het. Ex 24:7 “En hy het die boekrol van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat Yahweh gesê het, sal ons doen en daarna luister.” Is dit toevallig of is daar ‘n rede waarom daar hier gesê word dat die volk op die Torah gereageer het met die woorde “Ons sal dit doen en daarna luister”? Moet ‘n mens nie eers luister en dán doen nie? Moet ‘n mens nie eers verstaan voordat jy tot aksie oorgaan nie? Die Joodse rabbi’s het dit altyd nog só verstaan: “The greatness of the people of Israel was not that they were prepared to blindly follow the Almighty’s bidding without any understanding. If this were the case they would have just said, “We will do.” Their greatness was that they placed their doing before their understanding.” Maar die vraag by steeds: Moet ‘n mens dan nie eers verstaan voordat jy kan doen nie? Hierop antwoord die rabbi’s: “Yes, we must understand and learn about what we are doing. However, our limited understanding and lack of knowledge should not cause our actual actions to be lacking. If we know it is something that must be done, we do it first. Only afterwards do we probe into the whys and wherefores. The same is true of the entire Torah.”

Een van die ou rabbi’s het êrens geskryf dat toe die volk verklaar het dat hulle eers sou doen, en dán sou luister, het daar ‘n stem uit die hemel gekom wat uitgeroep het dat hulle die geheim van die boodskappers in die hemel ontdek het. Die boodskappers in die hemel het ook die gebruik om eers te doen en dán te luister, want in Ps 103:20 staan daar:
“Loof Yahweh, sy boodskappers, kragtige helde wat sy woord vervul, om gehoorsaam te wees aan die stem van sy woord!”

Nog ‘n rabbi het daarop gewys dat Shier Hashiriem (Hooglied) die volk Yiesraél met ‘n appelboom vergelyk as dit sê: “Soos ‘n appelboom onder die bome van die bos, so is my geliefde onder die seuns” (Hooglied 2:3). Hierdie vers leer ons, só het hierdie rabbi dit verstaan, dat net soos ‘n appelboom eers vrugte dra en daarná blare kry, net so het die volk eers gesê “ons sal doen” en daarna “ons sal luister”. Alhoewel dit meer as duidelik is dat die Joodse volk in baie opsigte nie by hulle voorneme gebly het nie – dat hulle dikwels nie eers by die “doen” gedeelte uitgekom het nie, laat staan nog die “luister”, is daar iets aan hierdie volk en aan hulle manier van doen, wat ‘n mens aantrek. Dalk help die tweede deel van Hooglied 2:3 om iets hiervan te verstaan: “Ek het verlang om in sy (in hierdie appelboom se) skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte.” Ons sien vandag meer en meer mense wat ook verlang om in hierdie appelboom se skaduwee te sit en wat ook getuig dat sy vrugte soet is vir hulle verhemelte. Is dit dalk omdat Yiesraél die een volk is wat bereid was om dit uit te spreek (al kon hulle nie altyd in die praktyk daarby bly nie) dat hulle eers sal doen en dan sal luister?

Daar is ‘n ou Joodse legende wat sê dat Yahweh nie sommer net van die begin af vir Yiesraél gekies het sonder om die ander volke te raadpleeg nie. Volgens hierdie legende het Hy na al die ander volke toe ook gegaan en vir hulle gevra of hulle die Torah sal aanvaar. ‘n Paar van die volke na wie toe Hy gegaan het, se name word spesifiek genoem – onder andere Esau en Yieshmaél. Toe Esau gevra is of hy die Torah sou aanvaar, was Esau se eerste vraag: Wat is daarin geskryf? Die Skepper se antwoord was: “Jy mag nie moord pleeg nie”. Hierop het Esau geantwoord: “Dit gaan teen ons grein in om nie moord te pleeg nie, want ons vader Yietsgak het duidelik gesê: ‘Van jou swaard sal jy lewe’”.

Toe Yieshmaél gevra is of hy die Torah sou onderhou, was Yieshmaél se eerste vraag: “Wat is daarin geskryf?” Die Skepper se antwoord was: “Jy mag nie steel nie”. Hierop het Yieshmaél geantwoord: “Dit gaan teen ons grein in om nie te steel nie, want ‘n boodskapper het van ons eerste vader gesê: ‘Hy sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees en sy hand sal teen almal wees.’” Heel teen die einde het die Skepper by Yiesraél gekom en vir hulle gevra of hulle die Torah sou aanvaar. Hulle antwoord was kort en kragtig: Ons sal dit doen en daarna luister.

Die interessante van hierdie legende is dat Esau se naam afgelei is van die werkwoord “asah” wat beteken “om te doen”. Yieshmaél se naam is afgelei van die werkwoord “shama” wat beteken: “om te luister”. Die name van hierdie twee nasies was op sigself alreeds ‘n aanduiding wat hulle moes doen om aanvaarbaar in die oë van Yahweh te wees. Omdat hulle egter gekies het om eers te gaan sit en te gaan dink en vir hulleself uit te redeneer of dit die moeite werd sou wees om die Torah te volg, het hulle die kans verbeur en hulle eie lot beseël – weg van die aangesig van Yahweh af en in opposisie met sy volk wat Hy nog steeds as die appel van sy oog beskou.

Hoe tragies is dit nie dat duisende mense vandag nog die seën van Yahweh misloop omdat hulle, wanneer dit kom by die Torah, nie bereid is om hulle te steur aan die oproep “Just do it ” nie. Omtrent 3500 jaar gelede het ‘n groep mense die Torah vir die eerste keer gehoor en voor die aangesig van Yahweh verklaar: Ons sal dit doen en daarna luister. Die woord luister sou ook vertaal kon word met verstaan. Hierdie mense was bereid om die Torah te doen – bloot omdat dit van Yahweh af kom en hulle sy werke alreeds met hulle eie oë gesien het. Hulle het Hom vertrou. Hulle was bereid om die Torah te doen, voordat hulle nog alles verstaan het wat daarin vervat is. Toe hulle bygevoeg het dat hulle daarna sou luister, het hulle onderneem om dit ook te bestudeer. Maar hulle het van die begin af geglo dat dit sou sin maak, want dit kom van die Een wat klaar bewys het dat Hy vir hulle net die beste begeer. Die Een wat klaar bewys het dat hy een honderd persent regverdig is en een honderd persent goedgunstig.

‘n Man het eendag na ‘n restaurant toe gegaan en hom gereed gemaak om die hele spyskaart, van voor tot agter, te bestel. Hy het begin met die sop – volgens die spyskaart die geurigste en heerlikste sop waaraan ‘n mens kan dink. Toe die kelner die sop neersit, het die man dadelik vir die kelner gevra om eers die sop te proe. Die kelner was heeltemal uit die veld geslaan. “Ek sal die sop vir u gaan warm maak” het hy eers gesê. “Proe dit” het die man aangehou. “Ek sal vir u die ander sop op die spyskaart gaan haal” het die kelner weer probeer. “Proe dit” het die man weer gesê. Die kelner was raadop. “Ek sal met die bestuurder gaan praat en seker maak dat u niks vir u maaltyd hoef te betaal nie” het hy gesê. “Proe asseblief die sop” het die man weer gesê. Die kelner besef hy het nie ‘n keuse en sê: “Nou goed dan, ek sal dit proe.” Toe sien die kelner dat daar nie ‘n sop lepel op die tafel is nie en maak heftig verskoning by sy kliënt.

Die Torah is ‘n bietjie soos hierdie sop. ‘n Mens gaan nooit weet hoe dit smaak of selfs net hoe om dit te eet, as jy nie eers gaan sit en jou lepel daarin steek en die lepel na jou mond toe bring en die sop by jou slukderm laat af gaan nie. Dink aan die Shabbat. Dis een van die wonderlikste en geurigste items op die spyskaart van die Torah. Maar voordat jy nie die Shabbat gedoen het nie, het jy nog geen idee waaroor dit gaan en wat dit beteken en hoe dit jou kan verander nie. Om die Torah te doen, is waar die skeiding kom tussen teologie en mooi praatjies en slim argumente aan die een kant, en die satisfaksie om te weet dat die Woord van Yahweh tot aksie in jou lewe oorgegaan het. Van die vroegste tye af was dit die bedoeling en die uitwerking van die Woord – om tot aksie oor te gaan. Yahweh spreek en dinge gebeur. Nie: Yahweh spreek en mense hou ‘n bespreking oor wat Hy reeds gespreek het (asof hulle dit eers moet goedkeur) nie. Een van die treffendste illustrasies van hierdie waarheid kan gesien word by Y’shua die Messias wat sy eie houding teenoor die Torah helder en duidelik uitgestippel het: “Moenie dink dat Ek gekom het om die Torah of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om dit te ontbind nie, maar om dit te vervul.” Hierdie “vervul” beteken niks anders as “doen” nie – soos wat ‘n mens onder meer duidelik kan sien in Ps 103:20 hierbo: Die boodskappers is kragtige helde wat Yahweh se woord vervul. Kan jy jou ook vandag skaar by daardie groep mense wat 3500 jaar gelede in die teenwoordigheid van die Torah, maar ook in die teenwoordigheid van die Allerhoogste, onomwonde verklaar het: Ons sal dit doen en ons sal daarna luister?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »