DIE EENVOUD VAN DIE TORAH

alternate textEen van die grootste struikelblokke op die pad waarin mense die Torah weer déél van hulle lewe probeer maak, is die manier waarop daar van die Torah iets geweldig kompleks en ingewikkeld gemaak word. Dit loop gewoonlik uit op ‘n gestry oor onbenullighede en eindelose haarklowery en koppe stamp oor dinge wat niks met die kern van die Torah te make het nie. Ons sal goed doen as ons in gedagte hou dat die Torah wel baie detail bevat, wat onontbeerlik was in die tyd van Mosheh en die woestyn, maar in die tyd van die aartsvaders (lank vóór Mosheh) en in die tyd van die profete (lank ná Mosheh) en die tyd van die Messias het hierdie kleiner detail glad nie so baie klem ontvang nie. Dit beteken nie ons gooi sekere dele van die Torah weg nie. Dit beteken bloot ons kyk na die Torah soos wat die Messias daarna gekyk het en erken dat daar “gewigtiger” en “minder gewigtige” dele van die Torah is: “Wee julle, skrifgeleerdes en Perushiem, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste (gewigtigste of belangrikste) van die Torah laat julle na: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat” (Mat 23:23).

Dat die Torah eintlik baie eenvoudig is en nie die bedoeling het om gedurig ‘n ellelange lys van moets en moenies voor mense se neuse te hou nie, kan gesien word as mens kyk na hierdie week se Torah lesing en die ooreenstemmende lesing uit die Profete en die Messiaanse Skrifte. Die Torah lesing strek van Bereshiet (Gen) 28:10 tot 32:2. Dit bevat die bekende beskrywing van Yaákov se ontmoeting met Yahweh by Bet-El en sy jarelange verbintenis met Laban en sy twee dogters, Lea en Ragel. Dis duidelik dat Yaákov se ervaring by Bet-El, toe hy onder meer in ‘n droom boodskappers vanuit die hemel na hom sien afklim het en die Almagtige self met hom hoor praat het, ‘n onuitwisbare indruk op hom gemaak het. Direk na afloop van hierdie hemelse ontmoeting, het hy net een, spontane begeerte gehad en dit was om hierdie Een wat hy ontmoet het, te dien en te eer met alles wat hy het.

Eintlik is dit ten diepste wat die Torah, van die begin af, bedoel was om te wees: Om aan mense wat Yahweh ontmoet het – mense wie se harte geroer is deur hulle ontmoeting met die Allerhoogste – ‘n praktiese handleiding te bied oor hoe hulle Yahweh kan dien en eer met alles wat hulle het. Toe Yaákov by hierdie plek in sy lewe kom, en daar nog nie so ‘n geskrewe handleiding was nie, is daar net vyf dinge wat spontaan by hom opkom: (1) Hy rig ‘n gedenksteen op, (2) Hy gooi olie op die klip uit, (3) Hy vernoem die plek na Yahweh, (4) Hy belowe dat Yahweh altyd sy Elohiem sal wees, en (5) Hy belowe dat hy tiendes sal afstaan van alles wat Yahweh aan hom sal gee. Niks meer nie, en niks minder nie. Net die spontane reaksie van iemand wat absoluut deur die Allerhoogste oorweldig is en wat geen steen onaangeroer (en ongesalf!) wil laat om op praktiese maniere met sy lewe te wys dat Yahweh sy Elohiem is nie.

Die gedeelte uit die profetiese boeke wat normaalweg saam met hierdie Torah lesing gegroepeer word, is Hoshea 12:12 tot 14:10. In hierdie drie hoofstukke word ook na Yaákov en sy geskiedenis verwys en dan word daar verder gekyk na die nageslag van Yaákov en na die vraag of Yaákov se nageslag aan Yahweh getrou gebly het. Weereens is daar nie eindelose detail oor watter spesifieke deeltjies van die Torah hulle gehou het of nie gehou het nie. Net vyf oortredinge, of vyf vorme van ongeregtigheid, word uitgesonder: (1) Hulle het ander magtiges begin aanbid – 13:1, (2) Hulle het gegote beelde van silwer gemaak – 13:2, (3) Hulle hart het hoogmoedig geword – 13:6, (4) Hulle het Yahweh vergeet – 13:6 en (5) Hulle was téén Yahweh wat hulle Helper was – 13:9. Dis verstommend hoe direk hierdie vyf aspekte ooreenstem met, of liewer in kontras staan teenoor, elkeen van die vyf aspekte wat by Yaákov se ontmoeting by Bet-El na vore gekom het! Die opvallende is egter dat Yahweh mense in die eerste plek toets deur te let op aspekte soos lojaliteit, getrouheid, nederigheid, erkentlikheid en eerbied – nie die nakoming van oppervlakkige gebruike en rituele en tradisies wat nie noodwendig ‘n maatstaf van heelhartige en opregte gehoorsaamheid is nie.

Die derde Skrifgedeelte wat in Messiaanse kringe ook saam met hierdie week se Torah porsie gelees word, is Mat 3:13 tot 4:11. Hierdie gedeelte beskryf hoedat Y’shua deur Johannes die Doper gedoop is en toe in die woestyn deur Satan versoek is. Dis veral die versoeking in die woestyn, en Y’shua se antwoorde aan Satan, wat besondere lig werp op die Torah en wat Y’shua as die kern van die Torah beskou het. Daar is geen twyfel dat Y’shua die Torah as die fondamentsteen van sy verhouding met Yahweh beskou het nie. Daarom het elkeen van sy drie antwoorde aan Satan die woorde “daar is geskrywe” ingesluit. Die Torah was die bron waaruit Hy gelewe het en waaruit Hy krag geput het vir elke moeilike situasie waarin Hy Hom bevind het.

Y’shua het die kuns verstaan om na die Torah as ‘n eenheid te kyk en ‘n assosiasie te maak met die hoofmomente in die Torah, wanneer die situasie dit vereis. As mens na sy antwoorde aan Satan kyk, kom daar vyf aspekte na vore, wat ooreenstem met die vyf aspekte in Hoshea en ook met die vyf aspekte wat in Yaákov se ontmoeting met Yahweh by Bet-El na vore gekom het: (1) Hy erken dat mens nie sonder Yahweh kan lewe nie – vergelyk Hoshea se verwysing daarna dat mense Yahweh vergeet het, (2) Hy gebruik drie maal die Naam van Yahweh – vergelyk Yaákov wat die plek na Yahweh vernoem het, (3) Hy herinner Satan daaraan dat mens Yahweh nie mag versoek nie – vergelyk Hoshea se verwysing na hoogmoed, (4) Hy bely Yahweh twee maal as sy Elohiem – vergelyk Yaákov se belofte dat Yahweh altyd sy Elohiem sal wees, en (5) Hy beklemtoon dat mens Yahweh alleen moet aanbid – vergelyk Hoshea se verwysing na die aanbidding van ander magtiges en hoedat hierdie praktyk byna die einde van die volk beteken het.

Beteken dit nou alles dat mens maar die kleiner gebooie kan ignoreer en die detail van die Torah moet skrap? Nee, beslis nie. Dit beteken net dat ons nie moet kleitrap en in allerlei argumente en debatte en geskille moet vasval wat ons aandag van die hoof aspekte van die Torah aftrek nie. As iemand die Torah ondersoek en werklik lojaal teenoor Yahweh wil wees en opreg begeer om Hom te behaag, soek hy nie na verskonings om sekere dinge in die Torah nie na te kom nie. Nee, so iemand is gedurig op die uitkyk na méér maniere om sy Naam groot te maak, méér maniere om afgesonderd te lewe en méér maniere om te demonstreer dat Yahweh sy Elohiem en haar Elohiem is.

En wat nou as mens tot die skokkende ontdekking kom dat jou lewe nie aan die eise van die Torah voldoen het nie en dat jy Yahweh nie met jou hele hart gedien het nie? Dan is daar ‘n tweede ontdekking wat op jou wag. Nie ‘n skokkende ontdekking nie, maar ‘n hoogs vertroostende ontdekking. Die ontdekking dat dieselfde profeet (Hoshea) wat in Hoshea 13 gesê het dat Yahweh vir die volk soos ‘n leeu geword het, soos ‘n luiperd wat by die pad lê en loer, omdat hulle van Hom vergeet het, dat hierdie selfde profeet in die volgende hoofstuk (nog steeds deel van hierdie week se Torah gedeelte) ‘n ander prentjie van die Allerhoogste skets (Hoshea 14:1-6): Bekeer jou, Yiesraél, tot Yahweh jou Elohiem, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Neem woorde met julle, en bekeer julle tot Yahweh; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied … by U vind die wees ontferming. Ek sal hulle afvalligheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Yiesraél wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Livanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos die van ‘n olyfboom en sy geur soos die Livanon.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »