DIE MOED OM VRAE TE VRA

alternate textDaar is altesaam 291 vrae wat gestel word in die Woord en Getuienis weergawe van die Torah (slegs die eerste vyf boeke van die Skrif). Die volume (of die grootte) van die Torah is ongeveer gelykstaande aan ‘n boek van 200 tot 230 bladsye. Die Torah is nie ‘n roman of ‘n drama met ‘n nuuskierige speurder wie se werk dit van hom vereis om vrae te vra nie nie. As mens die Torah as ‘n enkele letterkundige werk moes klassifiseer om dit met meer moderne boeke te kan vergelyk, sou dit moontlik as ‘n geskiedkundige boek geklassifiseer kon word. In die geskiedkundige werk, The History of The Decline and Fall of the Roman Empire, Volume 1, deur Edward Gibbon wat in 1996 geskryf is en wat meer as 1200 bladsye beslaan (vyf keer meer bladsye as die Torah), is daar slegs 66 vrae! Dit gee ‘n mens ‘n baie goeie idee, proporsioneel, van hoeveel vrae daar werklik in die Torah gevra word – gemiddeld meer as een vraag per bladsy! Die werklike telling lyk só: Bereshiet (Gen) 137 vrae; Shemot (Ex) 61 vrae; Wayyiekra (Lev) 3 vrae; Bemiedbar (Num) 58 vrae; Devariem (Deut) 32 vrae.

Interessant dat Levitikus of Wayyiekra baie minder vrae as die res van die Torah bevat: 3 vrae teenoor ‘n gemiddeld van 72 tussen die oorblywende 4 boeke van die Torah. Die Torah porsie van hierdie week (Lev 25-27) bevat een van die 3 vrae van Wayyiekra: Lev 25:20 “Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?” Nogal ‘n geldige vraag! Soortgelyk aan die vrae wat mense soms vra as hulle begin kennis neem van die Torah en ernstig daaroor raak om te doen wat daarin geleer word. Vrae soos: “Wat moet ek doen as ek die Shabbat wil hou en my baas vereis van my om Saterdae te werk?” of “Wat moet ek in hierdie moderne tyd aantrek as ek nie kledingstukke van gemengde materiaal mag aantrek nie?” Ek wil nie vandag probeer om sulke vrae te beantwoord nie, maar net die punt maak dat dit Skriftuurlik heeltemal in die haak is om vrae te vra.

Soos ons reeds weet, staan die tyd tussen Pesag en Shavuot bekend as die Omer en is daar ‘n duidelike opdrag in die Torah dat hierdie dae afgetel moet word. Vir baie van die Yehudiem is die periode van die Omer-aftelling tot ‘n groot mate ‘n sombere, hartseer tyd – ‘n tyd wat van die vroegste tye af deur pyn en swaarkry gekenmerk is. Volgens oorlewering het daar gedurende hierdie tyd 24000 van die bekende Rabbi Akiva se studente gesterf. Later in die geskiedenis het daar nog soortgelyke rampe vir die Yehudiem in die periode van die aftelling van die Omer plaasgevind. Daarom is die tyd van die aftelling van die Omer vir die ortodokse Jode ook ‘n periode van rou en word daar nie praktyke toegelaat soos dans, musiek maak, huwelike voltrek en selfs hare-sny nie. ‘n Duidelike uitsondering op hierdie reël is die dag wat as Lag BaOmer bekend staan. Lag BaOmer verwys na die 33ste dag van die aftelling van die Omer (die numeriese waarde van die 2 Hebreeuse letters waaruit “Lag” bestaan, is 33). Die ou rabbi’s beweer dat die periode waarin die 24000 studente van Rabbi Akiva gesterf het, ná 33 dae tot ‘n einde gekom het. Daarom word Lag BaOmer elke jaar op die 33ste dag van die Omer-aftelling as ‘n vreugdevolle dag, vol blydskap, gevier (vanjaar was dit op die 7de Mei). Dit is die gebruik om op hierdie dag groot vreugdevure aan te steek, vrolike liedere te sing, fees te vier en speletjies te speel waaraan die kinders ook kan deelneem.

Daar word nie ‘n woord oor Lag BaOmer in die Torah, of enige ander boek van die Skrif vermeld nie. Trouens, die Hebreeuse woord “lag” (uitgespreek as “lagh”) kom nie een maal in die Skrif voor nie. Lag BaOmer is uit en uit ‘n tradisie wat sy oorsprong in die Talmoed het en wat nie noodwendig deur gelowiges wat die Torah ernstig opneem, gehou behoort te word nie. Dit het my egter laat wonder hoeveel twee-letter woorde daar wel in die Skrif gebruik word wat numeries met een van die dae van die Omer ooreenstem. Ek het op sewe sulke woorde afgekom en een van hulle is die woord “mah” wat “wat?” beteken en wat onder meer gebruik word in die vraag waarna ons vroeër verwys word wat in die Torah leesstuk van hierdie week voorkom. Die numeriese waarde van “mah” is 45 en miskien is dit nóú (enkele dae voor die 45ste dag van die Omer) ‘n baie goeie tyd om weer ‘n slaggie te gaan kyk na die voorliefde en die geneigdheid in die Hebreeuse wêreldbeskouing om vrae te vra en hoe dit mens in jou geloof kan help om nie net links en regs vrae te vra nie, maar ook jou vrae op die regte manier, aan die regte adres en met die regte motief te vra.

Dit is besonder insiggewend dat die Skepper self, direk na die sondeval, tot ‘n sekere mate die patroon neergelê het om vrae te vra. Eers het Hy na Adam geroep en gevra: “Waar is jy?” (Gen 3:9). Toe het Hy vir hom gevra: “Wie het jou bekendgemaak dat jy naak is?” (Gen 3:11). En toe Adam sê dat die vrou vir hom van die boom se vrugte gegee het om van te eet, het die Skepper vir Gawwah (Eva) gevra: “Wat het jy nou gedoen?” (Gen 3:13). Kort daarna, toe Hevel (Abel) se offer aangeneem is en Kayien s’n nie, het Yahweh vir Kayien gevra: “Waarom is jy kwaad en waarom laat jy jou hoof hang?” (Gen 4:6). Hierdie vraag is onmiddellik deur nog een opgevolg: “Is daar nie beloning as jy goed doen nie?” (Gen 4:7). En toe Kayien kort daarna sy broer doodmaak, het Yahweh na hom gekom en vir hom gevra: “Waar is jou broer Hevel?” (Gen 4:9). En toe Kayien, op tipies Hebreeuse manier met nog ‘n vraag antwoord (“Is ek my broer se wagter?”) het Yahweh weer aan hom ‘n vraag gevra: “Wat het jy gedoen?” (Gen 4:10). Tot vandag toe het die Skepper alle reg om vrae te vra, want Hy het ons as verantwoordelike wesens geskape en ons moet verantwoording kan doen (voor mense en voor Hom) vir elke woord wat ons spreek, elke gedagte wat ons dink en elke daad wat ons doen. Die algemene gees van ons tyd, in die wêreld daarbuite, is eenvoudig om verantwoordelikheid te ontduik en ‘n houding in te neem van: Ek is my eie baas en hoef voor niemand verantwoording te doen nie. Hierdie gees is op ‘n leuen gebaseer en ons behoort daarteen op te staan met alles wat ons het!

Om vrae te vra, is ‘n manier om te wys dat jy omgee. Toe Haghar, die slavin van Avraham, absoluut op ‘n laagtepunt in haar lewe gekom het en gemeen het dit is die einde van haar en haar seun, het Yahweh na haar toe geroep en gevra: “Wat (Heb: mah) is dit met jou, Haghar? Wees nie bevrees nie, want Elohiem het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is” (Gen 21:17). Toe Yosef se broers hom in die put gegooi het, het sy een broer, Yehudah, vir die ander broers gevra: “Wat (Heb: mah) is die nut daarvan dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?” (Gen 37:26). Toe Yahushua (Joshua) voor die mag van die Amoriete te staan gekom het, net nadat die volk deur die Yarden (Jordaanrivier) getrek het, het hy vir Yahweh gevra: “Waarom (Heb: le-mah) het U hierdie volk ooit deur die Yarden laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete?” (Jos 7:7). Hy het omgegee vir hierdie volk en verantwoordelik vir hulle gevoel – daarom het hy die moed gehad om so ‘n vraag aan die Allerhoogste te vra. As ons omgee vir mense en nie wil sien dat hulle onnodig seerkry nie, behoort ons ook die moed te hê om vrae te vra – nie net aan mense nie, maar ook aan Yahweh, die Een wat veral by magte is om mense se omstandighede te verander en hulle lewens te red!

Om vrae te vra (behalwe dat dit ‘n uitstekende manier is om meer kennis in te win) is ook ‘n manier om waarhede te beklemtoon en te bevestig en perspektief te bring sodat mens nie onnodig op bysake fokus wat nie in die groter prentjie van dinge so belangrik is nie. ‘n Voorbeeld hiervan is Deut 10:12 “En nou, Yiesraél, wat (Heb: mah) eis Yahweh jou Elohiem van jou as net om Yahweh jou Elohiem te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en Yahweh jou Elohiem te dien met jou hele hart en met jou hele siel?” So ook Ps 39:7 “En nou, wat (Heb: mah) verwag ek, o Yahweh? My hoop is op U” en MigaYah 6:8 “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat (Heb: mah) vra Yahweh van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou Elohiem?” Op dieselfde trant sou ons vandag nog kon vra: Wat vra Yahweh van ons anders as om Hom eerste te stel en sy Naam groot te maak in alles wat ons doen? Of: Wat vra Yahweh van ons anders as om elke woord wat opgeteken staan, te glo en niks by daardie woorde by te voeg of daarvan weg te neem nie?

Om vrae te vra is ook ‘n manier om jouself aan Yahweh te onderwerp en sy grootheid te erken. Jos 5:14 “Toe val Yahushua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat (Heb: mah) wil my Meester aan sy dienskneg sê?” Rig 6:15 “Maar hy (Ghiedón) vra Hom: Ag, Yahweh, waarmee (Heb: be-mah) sou ek Yiesraél verlos?” Ps 8:4 “Wat (Heb: mah) is die mens dat U aan hom dink, en ‘n seun van Adam dat U hom besoek?” Ps 42:5 “Wat (Heb: mah) buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op Elohiem!” Voordat ons vrae begin vra soos “Waarom het so en so met my of met iemand anders gebeur?” behoort ons te vra: Wat wil U vir my sê? Wat wil U hê moet ek doen? Wat is daar in my lewe wat uit pas is met u woord? Het ons die moed om dit van Hom te vra?

Om vrae te vra is om eerlik met jouself en met jou naaste en met jou Skepper te wees. Mosheh het nie gehuiwer om meer as een keer vir Yahweh te vra waarom Hy hom geroep het om die volk uit Mietsrayiem uit te lei nie. Dawied het nie gehuiwer om soms vir Yahweh te vra waarom Hy so ver weg staan en skynbaar niks doen aan sy haglike omstandighede nie. Y’shua het nie gehuiwer om in die oomblikke voor sy dood vir Yahweh te vra waarom Hy hom verlaat het nie. Om vrae te vra is om deur die skanse te breek wat mense dikwels rondom hulleself oprig en om dieper in te grawe as die oppervlakkige en vinnige antwoorde waarmee mense soms ander mense probeer paai. Mag ons almal die moed hê om dit te doen, sonder om ons hand uit die hand van ons Vader uit te haal en sonder om ons oog van sy woorde en sy beloftes weg te neem!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »