DIE HART VAN DIE TORAH

alternate textBaie mense verstaan onder die woord “Torah” die wette van die Ou Testament, en wanneer hulle hierdie woord hoor, is hulle by voorbaat skepties en verwag hulle om net ‘n hele string reëls en ellelange lysies van moets en moenies te hoor. Dit is natuurlik glad nie die geval nie. Die woord “Torah” is afgelei van ‘n woord (“yarah”) wat beteken “om iemand te leer; om iemand te onderrig; om iemand se lewe (soos met ‘n vars stroom water) te verryk en te verkwik”. Toe die apostel Shaúl (Paulus) gesê het gelowiges moenie onder die wet wees nie, het hy met “wet” NIE die suiwer Torah van die Woord in gedagte gehad nie, maar die nagemaakte produk wat baie van sy tydgenote aangehang en verkondig het en wat uit sowat 20% suiwer Torah bestaan het en 80% mensgemaakte reëls. Dit was nooit Yahweh se wil dat iemand homself onder so ‘n mensgemaakte juk moet laat platdruk teen die grond nie! Die suiwer Torah wat deur Yahweh aan Mosheh (Moses) gegee is en wat Mosheh, op sy beurt aan die volk oorgedra het, en wat deur Dawid en die profete en deur Y’shua en al sy onmiddellike volgelinge (Paulus ingesluit) onderhou is, het nie mense teen die grond platgedruk nie. Nee, dit het lewens verryk en verkwik en die potensiaal gehad om mense se harte volledig te verander.

Die Torah porsie van hierdie week (Num 19-21) begin met die woorde: “Dit is die insetting van die Torah wat Yahweh beveel het …” Die insetting van die Torah … wat sou daarmee bedoel word? Sommige vertalings sê: “the statute of the law”; “the rule of the law”; “the ordinance of the Torah”. Een kommentator sê in die konteks van hierdie gedeelte, kan ‘n mens die eerste vers eintlik maar as volg vertaal: “Dit is die crux van die Torah wat Yahweh beveel het …” Hierdie laaste vertaling maak ‘n mens nogal behoorlik nuuskierig. Wie van ons sal nie ook graag wil weet wat is die crux of die kern of die hart van die Torah nie? Trouens, as ‘n mens eers die hart verstaan, sal jy mos nie sommer die fout maak wat die Fariseërs in Y’shua se tyd gemaak het, wat van buite af soos wit grafte gelyk het, maar binnekant vol doodsbeendere was nie?

Daar is ‘n mooi storie rondom die persoon van Hillel, een van die bekendste leidende figure uit die Joodse geskiedenis en ‘n vroeëre tydgenoot van Y’shua – “tydgenoot” in die sin dat Hillel reeds ‘n bejaarde man was toe Y’shua gebore is en dat hy in Jerusalem woonagtig was, terwyl Y’shua in Natsaret grootgeword het. Iemand wat nie so mooi verstaan het waaroor die Torah nou eintlik gaan nie, het eendag by Hillel gekom het en vir hom gevra of hy vir hom die Torah kon verduidelik terwyl hy op een voet staan. Hillel se antwoord was kort en kragtig: “What is hateful unto you, do not do to another. This is the whole Torah. All the rest is commentary.” Dis nie seker of Y’shua en Hillel van mekaar se bestaan bewus was nie, maar Y’shua het moontlik van hierdie uitspraak van Hillel te hore gekom, want toe Hy omtrent 30 of 40 jaar later met ‘n groep mense onder andere oor die Torah gepraat het, het Hy vir hulle gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die Torah en die profete” (Mat 7:12).

Terug by die Torah porsie van hierdie week, wat lyk of dit vir ons ‘n kykie gaan kom gee oor wat die hart van die Torah is. ‘n Mens verwag eintlik om die goue reël in hierdie paar hoofstukke aan te tref – doen aan ander wat jy wil hê hulle moet aan jou doen, of die een of ander variasie van hierdie reël. Is dit dan nie wat die hart van die Torah veronderstel is om te wees nie? Maar in plaas daarvan kry ons in Numerie 19 een van die mees eienaardigste en uitsonderlike beskrywings van die hele Torah – die beskrywing van ‘n rooi koei (Engels: “red heifer”) wat gevind moes word en dan met groot moeite en volgens ‘n vaste voorskrif verbrand moes word, sodat die as daarvan vir die nageslag bewaar kan word. Vir watter doel? Sodat hierdie as saam met water gebruik kan word as reinigingswater – spesiale water wat gebruik word om op iemand te sprinkel sodat hy of sy rein kan word in die geval van rituele onreinheid – wanneer so ‘n persoon byvoorbeeld aan ‘n lyk of ‘n dooie dier geraak het of in ‘n tent ingegaan het waarin iemand onlangs gesterf het.

Die Jode (Yehudiem) glo dat Mosheh die eerste rooi koei gevind en verbrand het en dat die laaste ritueel van die verbranding van ‘n rooi koei sal saamval met die koms van die Messias. In die tyd tussen Mosheh en die verwoesting van die tempel, ongeveer die jaar 70 van ons huidige jaartelling, glo hulle, was daar altesaam NEGE rooi koeie wat aan die vereistes voldoen het en ritueel verbrand is. Deesdae hoor ‘n mens kort-kort dat daar moontlik nog ‘n rooi koei gevind is, net om later te verneem dat daar 2 of 3 swart hare op die koei gevind is of dat daar die een ander liggaamsgebrek was wat die koei gediskwalifiseer het. Vir die buitestaander lyk die insetting van die rooi koei na ‘n vreemde reël wat niks met die hart van die Torah of met die kern van die Woord te make het nie. Of het dit dalk?

Met die ritueel van die rooi koei wat geslag moes word, moet daar ‘n ekstreme poging aangewend, baie moeite gedoen word en ure se kosbare tyd ingesit word, nie net om ‘n geskikte koei te vind nie, maar ook om die koei voor te berei, dood te maak, te verbrand en die as bymekaar te maak en vir die nageslag te bewaar. Nie net die priester wat aan die hoof gestaan het nie, maar ook van die gewone mense wat by hierdie ritueel betrokke was, het in die proses van die verbranding van die rooi koei self ritueel onrein geword. Vir wie moes die mense soveel moeite doen en tot sulke uiterstes gaan? Vir hulleself? Vir hulle eie familie? Nee hulle moes dit doen vir iemand anders, iemand wat hulle heel moontlik nie eers ken nie, iemand wat maande of jare of selfs dekades later deur die proses van rituele reiniging sou moes gaan. Hulle moes absoluut van hulleself vergeet en iets van hulleself gee sodat iemand anders daarby kan baat vind.

Dit is die verordening van die Torah. Dit is die hart van die Torah. Om van jouself te gee, al hou dit vir jouself of jou eie huis of jou eie mense of jou eie sak geen voordeel in nie. Om bereid te wees om ekstreme moeite te doen en van jou kosbare tyd af te staan en jou eie hande vuil te maak – ja selfs as besoedel en aansteeklik en onrein bestempel te word, sodat iemand anders kan baat vind daarby. En die beste van alles: Jou naam gaan nie eers uitgelees word nie. Jou aandeel gaan geen erkenning ontvang nie. Die mense wat deur jou bydrae gehelp gaan word, gaan heel moontlik nie eers van jou bestaan bewus wees nie. Miskien is dit die rede waarom twee van die grootste en mees invloedryke persoonlikhede van die eerste eeu – en trouens van die hele moderne era: Hillel en Y’shua – lyk asof hulle geheel en al nie van mekaar se bestaan bewus was nie. Miskien is dit die rede waarom Y’shua so uitdruklik vir sy volgelinge geleer het: As jy ‘n goeie daad doen, moenie ‘n trompet blaas vir die mense om jou en jou dade raak te sien nie. Jou liefdadigheid moet verborge wees vir mense. Die linkerhand moenie weet wat die regterhand doen nie.

Daar is ‘n ander sin waarin die Skrif se verwysing na die rooi koei te make het met die hart van die Torah en trouens, die hart van die hele Skrif. Die twee Hebreeuse woorde vir “rooi koei” is afkomstig van die twee woorde “adam” (wat rooi beteken, maar ook die naam is van die eerste mens) en “parar” (wat “verbreek” of “uitbreek” beteken – ‘n bees word só genoem vanweë sy krag en sy vermoë om uit te breek of weg te breek met brute krag). Die woord “parar” word egter gereeld in die Skrif gebruik om te beskryf dat mense (die nageslag van Adam) die verbond wat Yahweh met hulle aangegaan het, verbreek het. Van Adam se tyd af word hierdie tendens al aangetref. Byna van nature, is die neiging by mense om van Yahweh af weg te breek, om sy wette te verbreek, om hulle eie verbintenis aan Hom, die Almagtige, te verbreek. As daar een ding is wat ons mense mee sukkel, dan is dit om te volhard, om vol te hou en om te bly by ons goeie voornemens en ons goeie idees. Wat is die hart van die Torah? Die hart van die Torah is om ons voortdurend te herinner aan wat Yahweh van die begin af vir sy mense gedoen het en gegee het, en wat hulle kan doen om dit vir ewig en vir altyd hulle eie te maak.

Die rede waarom die rooi koei spesifiek verbrand moes word en die as bewaar moes word, is omdat daar niks is wat so blywend en so bestand teen tyd en verderwing as AS is nie. Daar word vertel dat die tweede rooi koei, ná die eerste een in Mosheh se tyd, eers omtrent ‘n duisend jaar later, in die tyd van Esra gevind is. Dit beteken dat die as van die eerste “red heifer” vir ‘n duisend jaar lank gebruik is, sonder dat dit tot niet gegaan het. Ons mense is relatief baie kortstondig en kortsigtig in ons hele wese. Ons sukkel met ‘n begrip soos “1000 jaar”, of “ewigheid” of “onvernietigbaar”. Ons weet bitter min van toewyding en vasbyt en “commitment” tot die einde toe. Die bedoeling van die Torah is om ons hiermee te help en ons nader te bring aan Hom wat ewig en standhoudend en onveranderlik is en wat begeer om sy verbond met ons deur te voer, reg tot aan die einde, wanneer sy Seun se koms hierdie bedeling waarin ons nou is, sal afsluit. Selfs as ons intussen óns kant van die verbond met Hom verbreek het, wil Hy ons met sy Torah, met sy liefdevolle en regverdige leringe, weer laat terugkeer na Hom toe en help om tot op die laaste dag by Hom te bly. Is ons oop en gereed en ontvanklik vir hierdie Torah?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »