DIE AGSTE DAG EN LEWE NA DIE DOOD

alternate textDaar was die afgelope week ‘n beriggie in die nuus van ‘n Londense egpaar wat al ‘n paar jaar lank gereeld SMS’e stuur aan hulle geliefde ouma wat drie jaar gelede gesterf het. Hulle het die ouma se selfoon destyds saam met haar in die kis begrawe en op ‘n manier gehoop dat die boodskappe by haar sou uitkom. En toe, onlangs, gebeur dit: Hulle kry ‘n boodskap, gestuur van hulle ouma se selfoon, wat sê: “I’m watching over you and it’s all going to get better. Just push through.” Toe hulle in ‘n toestand van skok die selfoon maatskappy hieroor nader, vind hulle uit dat die ou nommer aan ‘n nuwe kliënt toegeken is, ten spyte van die feit dat hulle drie jaar tevore uitdruklik gevra het dat die nie nommer nie aan iemand anders gegee moes word nie. ‘n Mens lag lekker hieroor, maar dit bring ook opnuut die vraag na vore: Wat gebeur met ‘n mens ná jou dood en is daar inderdaad lewe na die dood?

Die Agste Dag. Yom Hashemini. Die getal 8 het nog altyd, veral in die Hebreeuse konteks, die betekenis gehad van “nuwe lewe, nuwe begin”. Die getal 8 word in Hebreeus voorgestel deur die agste letter, “chet” (ח) wat veral met “lewe” (Heb: “chai” of “chayiem”) geassosieer word. In Wiskunde is die omgekeerde 8 (∞) ‘n simbool van oneindigheid. In terme van die Skrif, kan oneindigheid met ewigheid vergelyk word. Om dié rede het die getal 8 nie net die konnotasie van nuwe lewe nie, maar ook van ewige lewe. Daar word geglo dat Yahweh in sewe dae die skepping van die fisiese wêreld voltooi het en dat die agste dag jou by ‘n dimensie uitbring waar jy verder kyk, en verder kan bykom, as net die fisiese wêreld. As mense is ons nie net fisiese of biologiese wesens nie. Ons is geskape wesens wat die potensiaal het om interaksie met die Skepper te hê en selfs die grense van hierdie fisiese wêreld te oorskry. Daarom vind besnydenis op die 8ste agste dag plaas. Daarom het Yahweh sy verbond met Avraham 8 keer herbevestig (Gen 12:2; 13:16; 15:5; 16:10; 17:4; 18:18; 21:12 en 22:17). Daarom is daar 8 siele gered tydens die vloed in Noag se tyd en Dawied, met wie Yahweh ‘n ewige verbond gesluit het, was die 8ste seun van Yieshai.

Die Yehudiem verwys dikwels na die begrip “Olam haBa” – “Die wêreld wat (nog) kom”. In een van hulle geskrifte staan daar geskryf: “A single moment of repentance and good deeds in this world is greater than all of the world to come. And a single moment of bliss in the world to come is greater than all of this world.” Meeste Yehudiem glo in so ‘n wêreld, maar is baie gou om daarop te wys dat die Torah bitter min, indien enige, direkte verwysing het na “Olam haBa” – miskien omdat die Torah sy ontstaan gehad het kort nadat die volk uit Egipte uitgekom het en Egipte so behep was (en nog steeds is) met die dood en die lewe na die dood. Daarom verkies die Yehudiem om te fokus op hierdie wêreld en wat die Torah hier en nou van ons verwag. As dit in plek is, glo hulle, sal dinge vir hulle ook in plek val wanneer die “Olam haBa” aanbreek.

Die week wat volg ná Yom Hashemini is gewoonlik ook die week waarin daar van voor af met die Torah lesings begin word (“new beginnings”!). Hierdie week se lesing sluit dus in die eerste 6 hoofstukke van Bereshiet (Genesis) waarin daar veral twee belangrike dinge van die mens gesê word. Die eerste is Gen 1: 27 waar dit uitgespel word dat die mens na die beeld (“tselem” – numeriese waarde: 160 – ‘n veelvoud van 8) van Elohiem geskape is. Yahweh het iets van Homself in die mens ingebou. Die mens kan slegs sin en betekenis in sy bestaan vind, as hy die Een na wie se beeld hy geskape is, najaag, gehoorsaam en uiteindelik by Hom uitkom. Dit impliseer dat die dood nie ‘n streep deur die lewe behoort te trek en die moontlikheid om by Yahweh uit te kom, uit kanselleer nie. Maar die tragedie is dat die dood wél ‘n faktor geword het. As gevolg van ongehoorsaamheid word die doodsvonnis oor die mens uitgespreek en hoor hy in Gen 3:19 (die tweede belangrike ding wat van die mens in hierdie parashah gesê word): “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” Hoe dan nou? Is die mens dan net stof en niks meer nie?

Die interessante is dat daar net in die volgende vers (Gen 3:20) vir die eerste keer na Chawwah se naam verwys word: “En die mens het sy vrou Gawwah genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.” Ná die sondeval, ná die doodsvonnis, ná die uitspraak dat die mens stof is en tot stof sal terugkeer, besluit Adam skielik om sy vrou Gawwah te noem – haar naam begin met ‘n “chet” (die agste letter!) en haar naam se betekenis het uit en uit met lewe te make! Is dit toevallig dat die tema van lewe net mooi ter sprake gebring word, direk nadat die dood as straf aangekondig is? En om alles te kroon het die numeriese waarde van Adam se naam (45) nie veel betekenis nie. Ook nie die numeriese waarde van Chawwah se naam (19) nie. Maar hulle name word vir die eerste keer saam genoem ná die sondeval. En die gesamentlike numeriese waarde van hulle name is 64 – 8 X 8 – ‘n moontlike aanduiding van lewe in oorvloed, oftewel die verrassing en die bonatuurlike dimensie van lewe na die dood!

Wat het dan gebeur in daardie kritieke oomblikke vandat sonde alles kom bederf het en Chawwah ‘n naam gekry het wat die moontlikheid van lewe weer laat opvlam het? Gen 3:15 het gebeur! Die moederbelofte! ‘n Belofte binne-in ‘n straf aankondiging! Dit het alles deel gevorm van die vloek wat Yahweh oor die slang uitgespreek het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Daar sou Een kom wat Satan se kop sou vermorsel en ook die angel uit die dood, Satan se grootste wapen, sou uithaal! Dit sou iemand wees uit die saad van Chawwah. Iemand wat ‘n boodskap van lewe sou bring soos deur die naam van Chawwah aangedui word. Iemand wat op die 8ste dag besny is. Iemand wat die 8 bevestigings van die belofte aan Avraham sou kom vervul. Iemand wat redding sou bring op ‘n soortgelyke manier as wat die 8 siele in die ark te midde van ‘n bose wêreld gered is. Iemand wat uit die geslagslyn van die 8ste seun van Yieshai sou voortkom. Iemand wat op die eerste (oftewel die 8ste) dag uit die dood sou opstaan en die eersteling sou word van ‘n groot skare wat na Hom uit die dood sal opstaan.

Van hierdie Een en van sy opstanding het Shaúl geskryf: “Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54-55). Was Shaúl die eerste een om hiervan te praat? Nee, eintlik het hy maar net aangehaal wat reeds lank tevore in die Tanach geprofeteer is:

Jes 25:8 Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Meester Yahweh sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die oneer van sy volk van die hele aarde af wegneem; want Yahweh het dit gesê.

Hos 13:14 Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou vernietiging?

As daar een ding is wat ons by die Yehudiem kan leer, dan is dit dat ons op die “Olam haZe” (die wêreld, hier en nou) moet fokus, en ophou gis en raai en argumenteer en filosofeer oor die “Olam haBa” (die toekomstige wêreld) wat ons met ons natuurlike, fisiese ingesteldheid nooit volkome sal kan verstaan of kan deurdink nie. Maar as daar een ding is wat die Yehudiem by ons kan leer, dan is dit om hulle oë oop te maak vir die Een wat Yahweh gestuur het wat die profesieë – van die moederbelofte af, reg deur tot by die latere uitsprake van die profete – kom vervul het en dinge oor die Olam haBa kom openbaar het wat die profete vóór hom nie soos Hy geken of verstaan het nie.

Duideliker as enige van die ander profete, het Y’shua van Natsaret onthul dat die gelowiges slaap wanneer hulle sterf (nie hemel toe gaan nie!) en opgewek sal word op daardie dag as die Seun van die mens weer kom soos daar oor Hom belowe is.

Duideliker as enige van die ander profete, het Y’shua van Natsaret onthul dat die ewige lewe ‘n realiteit is en dat dit moontlik is om hier op aarde seker te maak dat jy die ewige lewe sal beërwe.

Duideliker as enige van die ander profete, het Y’shua van Natsaret onthul dat ons lewe hier op aarde nie net op ‘n aardse beloning ingestel moet wees nie, maar op ‘n hemelse beloning wat enige ander vorm van beloning in waarde en duursaamheid, by verre oortref.

Geen ander dag in die Skriftuurlike kalenderjaar is meer gepas nie om hulde en eer te bring aan die Seun van Elohiem as hierdie Agste Dag – die dag wat juis volg nadat ons sewe dae van tente beleef het – sewe dae wat ons aan ons aardse bestaan herinner het; sewe dae wat ons aan ons swaarkry hier op aarde herinner het; sewe dae wat ons aan die tydelikheid van alles hier op aarde herinner het en aan die feit dat ons bywoners is wat uitsien na ‘n tydperk en ‘n bestel wat met niks anders in hierdie wêreld vergelykbaar is nie. Daarom is Yom Hashemini vir ons ‘n dag van groot blydskap en uitbundige vreugde!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »