DEUR DIE ALMAGTIGE GESTUUR

alternate textOns gebruik normaalweg die woord “stuur” op baie maniere. Jy kan meeste items van een plek na ‘n ander plek stuur. Of jy kan ‘n boodskap vir iemand stuur. Of jy kan ‘n persoon stuur om namens jou iets te gaan doen. Die woord “stuur” impliseer ‘n sekere bestemming wat die stuurder hoop om by uit te kom; ‘n sekere taak wat hy hoop om te vervul of ‘n sekere doelwit wat hy hoop om te bereik. Wanneer ‘n mens iets of iemand stuur, het jy gewoonlik ‘n spesifieke koers of rigting of adres wat jy aandui en jou verwagting is dat die geskenk of boodskap of persoon wat jy gestuur het, nie van daardie aanwysings sal afwyk nie.

Die Torah Lesing van hierdie week is die derde een van die jaar-siklus wat ‘n naam het wat met “stuur” te make het. Die Hebreeuse woord vir “stuur” of “wegstuur” (“shalach”) kan in elkeen van die titels van hierdie drie lesings gesien word. Die eerste was Bereshiet (Genesis) 32 tot 36 wat genoem word “Vayieshlach” (“En hy het gestuur”). Hierdie gedeelte beskryf hoedat Yaákov boodskappers voor hom uit gestuur het om geskenke vir Esau te neem omdat hy nie geweet het hoe Esau sou reageer nadat hy hom met die eersgeboortereg bedrieg het nie. Die tweede was Shemot (Exodus) 13 tot 17 wat genoem word “Beshalach” (“Toe hy gestuur het”). Hierdie gedeelte beskryf hoedat Farao, na sy aanvanklike weiering, uiteindelik die volk van Israel uit Egipte weggestuur het. En dan die derde, die lesing van hierdie week, wat eenvoudig “Shelach” genoem word. Dit is die woord wat Yahweh gebruik het om vir Mosheh te sê: “Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kenaán (Kanaan) wat Ek aan die kinders van Yiesraél sal gee, kan verken.”

Die twaalf verspieders of verkenners wat uitgestuur is, het nie net ‘n spesifieke bestemming gehad nie, hulle het ook ‘n spesifieke opdrag ontvang en is met die verwagting gestuur dat hulle die kwaliteit en potensiaal van die land met hulle eie oë sou gaan aanskou en sou terugkom en verslag doen aan die volk. Daar is onder meer aan hulle gesê: “Kyk na die land – of dit goed of sleg is … vet of skraal … en hoe die stede is waar hulle in woon, kampe of vestings … en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam” (Num 13:19-20). Die verspieders het uitgegaan en die land verken en na 40 dae weer teruggekom. Maar op twee ná, was die verspieders nie een so dapper as wat hulle Stuurder verwag het nie. Hulle het hulle blind gestaar teen die reusagtige Enakiete en hoe sterk hulle was en eenvoudig vir Mosheh en die volk gesê: “Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne … ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons” (Num 13:30-31).

Hier het ons een van die beste voorbeelde in die Skrif van iets of iemand wat deur Yahweh gestuur word, maar wat NIE beantwoord aan die doel waarvoor hy gestuur is nie. Dis tragies, maar wáár, dat daar soms iemand gestuur word om andere tot groter insig of groter kennis te bring, maar dat dit later blyk dat die gestuurde self horende doof en siende blind is. Hiervan lees ons ook in YeshaYahu (Jesaja) 42:19-20: “Wie is blind behalwe my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van Yahweh? Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op geslaan nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.” Die kneg waarvan hierdie gedeelte praat, is Yahweh se eie volk, Yiesraél of Israel. Ja, sy plan was van die begin af om Yiersraél die wêreld in te stuur met een van die kragtigste boodskappe wat daar ooit in hierdie wêreld kan uitgaan: Die boodskap dat daar net een Elohiem is; dat Hy groot en magtige dade in die midde van sy volk doen en dat dit uit en uit die moeite werd is om jou by Hom te skaar en in sy weë te wandel. Maar wat doen hierdie boodskapper – hierdie een wat Yahweh sy vertroude vriend noem? Jesaja 42 beskryf dit vir ons: Hulle verkies ‘n ander pad as die pad van sy Torah en die gevolg is dat hulle nou gebonde in kerkers is en weggesteek in gevangenisse. Wat ‘n teleurstelling moet dit nie wees vir die Een wat hulle gestuur het nie! Wat ‘n teleurstelling moet dit nie wees vir die Een wat later deur dieselfde profeet verklaar het: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes 50:11). Yahweh se woord is voorspoedig in alles waartoe Hy dit stuur – hoe jammer tog dat dieselfde nie van die draers van sy woord gesê kan word nie!

Daar is eintlik ‘n baie groot boodskap wat hierin vir ons opgesluit lê: Wat Yahweh vir ons wil laat kry, of wil gee – of vir ándere wil laat kry of wil gee – stuur Hy nie altyd deur mense nie. Sendelinge en sendingwerk is toe nie so onontbeerlik soos wat die sendelinge self gewoonlik probeer voorgee nie. Soms stuur Yahweh sy gawes op ander maniere – sonder die tussenkoms van mense. Want mense is soms só vasgevang in kerkers van geestelike blindheid dat hulle eenvoudig nie geskikte boodskappers kan wees nie. Soms stuur Hy sy hulp direk uit sy afgesonderde Plek en ondersteun Hy jou uit Tsion (Ps 20:2); soms stuur Hy sy lig en sy waarheid, sodat dié ‘n mens kan lei en kan bring tot op sy afgesonderde berg (Ps 43:3); soms stuur Hy sy goedertierenheid en sy trou uit die hemel uit om jou te verlos teen die wat jou wil vertrap en oneer wil aandoen (Ps 57:3); soms stuur Hy sy Gees uit waarmee hy die oppervlakte en die voorkoms van die aarde weer nuut kan maak (Ps 104:3); soms stuur Hy in mense se siel ‘n maerte sodat hulle kan besef dat hulle Hóm nodig het, nie dinge nie (Ps 106:15) en dikwels stuur Hy sy woord uit sodat Hy mense fisies en emosioneel gesond kan maak en hulle uit hulle kuile waarin hulle vasgeval het, kan red (Ps 107:2). Hoe dikwels gebeur dit nie dat Hy vir mense verlossing stuur en dat hulle ontdek dat sy verbond vir ewig is en dat sy Naam afgesonder en vreesaanjaend is nie (Ps 11:9).

Al hierdie dinge kan Yahweh doen, sonder die tussenkoms van ‘n mens, as Hy wil. Mense het Hom in die verlede al so dikwels in die steek gelaat. En tog blyk dit, om die een af ander rede wat ons seker nooit volledig sal verstaan nie, dat Hy nog steeds verkies om van menslike boodskappers gebruik te maak. Ten spyte van alles verkies die Almagtige nog steeds om mense te stuur om ander mense te bereik. Dieselfde hoofstuk (Jes 42) wat na Israel as die blinde en dowe boodskapper verwys wat nie gedoen het waarvoor hy gestuur is nie, is ‘n profetiese heenwysing na ‘n ander Boodskapper wat sou kom. ‘n Boodskapper wat nie sal skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie; ‘n Boodskapper wat nie die geknakte riet sal verbreek of die dowwe lamppit sal uitblus nie; ‘n Boodskapper wat Yahweh self in geregtigheid geroep het, en wie se hand Yahweh self sal vat; ‘n Boodskapper wat gegee word as ‘n Verbond vir die volk en as ‘n Lig vir die nasies. Ons herken hierdie Gestuurde as Y’shua van Natsaret wat Yahweh, net soos sy volk Israel, aan die wêreld bekend gestel het as sy eie Seun. In Y’shua sien ons uiteindelik ‘n Gestuurde wat aan sy doel beantwoord – een wat in alle opregtheid kan sê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te vervul” (Joh 4:34) en “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Joh 7:16).

Y’shua was by verre nie die laaste een wat Yahweh na die mense van hierdie wêreld gestuur het nie. Y’shua self het vir sy volgelinge gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh 20:21). Soos die 12 verspieders het ons ook ‘n kykie gekry in die Beloofde Land – hoe dit lyk, hoe groen en hoe vrugbaar dit daar is, maar ook hoe moeilik dit kan wees om daar te oorleef en hoe oorweldigend en intimiderend die gevare op pad na hierdie land kan wees. Yahweh stuur ons terug na sy mense – ook na mense wat nog nooit aan Hom behoort het nie – om vir hulle te vertel wat ons gesien het. Hoe gaan ons verslag klink? Gaan dit klink soos die verslag van die tien wat gesê het dat die land te moeilik is om te oorwin (vergelykbaar met die oorgrote meerderheid daarbuite wat volhou dat die pad van die Torah ‘n pad van onmoontlikheid is)? Of gaan ons getuienis wees soos die verslag van Kalev en Yahushua (Kaleb en Joshua) wat Yahweh onvoorwaardelik vertrou het en met oortuiging verklaar het: “As Yahweh ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee …” (Num 14:8). Hoe kon hierdie twee manne só vasstaan en so seker wees? Die antwoord is eenvoudig: Hulle was die enigstes wat ontdek het en besef het: As Yahweh jou stuur, doen Hy dit nie sonder rede nie en ook nie sonder sy seën nie. En as ‘n mens sy hand van seën oor jou het, is daar geen hindernis wat só groot is dat dit nie oorkom kan word nie.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »