BERGE KÁN VERSIT WORD

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week (Lev 25:1- Lev 26:2) staan bekend as “Behar” wat beteken “in (of op of by) die berg”. Die berg wat hier ter sprake is, is die berg Sinai en Wayyikra (Levitikus) 25 wil die leser maar net daaraan herinner dat wat hier volg (soos Lev 26:46 dit stel), is nog steeds deel van “die insettinge en die verordeninge en die leringe wat Yahweh … by die berg Sinai deur die diens van Mosheh gegee het”. Dit kom eintlik as ‘n verrassing dat ons op hierdie relatiewe laat stadium van die Torah vir die eerste keer ‘n parashah het wat begin met ‘n verwysing na die berg Sinai – veral as mens in gedagte hou dat die hele Torah by die berg Sinai aan Mosheh gegee is en dat hierdie berg al reeds in die eerste helfte van Shemot (Exodus) ter sprake gekom het. Is daar dalk iets omtrent hierdie of ander berge (of bloot die begrip “berg”) wat ons moet raaksien en wat ons sal kan help om spesifiek die inhoud van hierdie parashah (wat hoofsaaklik oor die Sabbatsjare en die jubeljaar gaan) beter te kan verstaan? Kom ons kyk …

In Afrikaans het ons heelwat spreekwoorde wat met berge te make het. As jy van ‘n molshoop ‘n berg maak, is jy besig om heeltemal te veel klem op iets kleins en onbenullig te plaas. As ‘n artikel of ‘n manier van praat of ‘n sêding baie oud is, sê jy dis so oud soos die berge. Van sêgoed gepraat wat so oud soos die berge is, ek wonder wie het al gehoor van die spreekwoord, “Sy hare het te berge gerys”? As ek luister na die manier waarop party mense die Skrif hanteer, dan voel dit soms vir my of my hare ook te berge kan rys. En ek hoop van harte nie dat mense wat vandag na hierdie boodskap luister, se hare te berge gaan rys nie!

Seker die bekendste gebruik van “berg” in die alledaagse lewe, is wanneer ons vir mekaar sê: Die ding wat ek moet doen of die verantwoordelikheid wat ek moet dra of die besoek wat ek moet aflê, staan soos ‘n BERG voor my. Ek sien eenvoudig nie daarvoor kans nie. Ek weet eenvoudig nie hoe ek dit gaan regkry nie. Ek sien nie lig aan die einde van hierdie tonnel nie. My vermoede is dat meer as een van julle wat vandag na hierdie boodskap luister, so ‘n berg het, in die vorm van ‘n hindernis of ‘n bekommernis of ‘n diepe ontsteltenis, wat voor jou staan. Ek wil my nie daaraan skuldig maak dat ek vir mense goue berge belowe nie, maar ek dink ons parashah hou ‘n boodskap in wat vir ons kan help om by hierdie soort berge verby te kom.

In die ensiklopedieë word gesê dat bergklim as ‘n sportsoort eers so laat as die jaar 1760 begin het toe ‘n sekere Geneefse wetenskaplike prysgeld aangebied het vir die eerste persoon wat Europa se hoogste bergpiek, Mount Blanc, kan uitklim. Die eerste ekspedisie wat dit kon regkry, het eers 26 jaar later, in 1786 plaasgevind. Sedertdien het baie ander dit ook reggekry en vandag is daar omtrent 20 000 mense per jaar wat die piek van Mount Blanc bereik. Maar dit bly nog steeds ‘n uitdaging, ten spyte van die talle hulpmiddels wat dit deesdae baie makliker maak as 200 jaar gelede. Elke jaar is daar mense wat dit nie maak nie en sterf en met piektye word daar soms tot 12 reddingspogings in een naweek uitgevoer om klimmers te help wat in die moeilikheid gekom het.

Mense het natuurlik al berge uitgeklim, baie lank voor 1760 – letterlik en figuurlik. Toe Mosheh die detail van die Sabbatsjaar en die Jubeljaar op die berg Sinai ontvang het en dit aan die volk oorgedra het, was dit vir hulle soos ‘n tweede berg wat reg voor hulle neergesit word. Wat was hierdie detail? Vir ses jaar lank mag daar op die lande gewerk – gesaai en geoes – word, maar elke sewende jaar moes die lande en die grond rus en mag daar geen werk daarop gedoen word nie. En elke vyftigste jaar moes ‘n jubeljaar wees – dan mag daar ook nie op die lande gewerk word nie en dit moes boonop ‘n jaar van vrylating vir al die inwoners wees – elkeen (ook die slawe) moes toegelaat word om na hulle eie besittings en hulle eie stamme terug te gaan. In watter sin was hierdie bepaling soos ‘n berg voor die volk? Die berg was dat hulle nie geweet het hoe hulle elke sewende jaar en elke agste jaar (die jaar direk na die sewende jaar waarin daar niks geoes is) sou kon oorleef nie. Die berg was dat hulle hulle verknies het oor die 49 ste jaar (‘n Sabbatsjaar) en die 50 ste jaar (‘n jubeljaar) en veral die 51 ste jaar (wat deur twee sabbatsjare voorafgegaan sou word). Waar sou hulle voorsiening vandaan kom? Wie sou vir hulle sorg? Hoe sou hulle aan die lewe bly?

Die realiteit en die bekommernis oor hierdie probleem wat soos ‘n berg voor die volk gestaan het, word in Lev 25:20 verwoord: “Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?” Hoeveel keer het ons nie al “WAT” gevra nie? Wat gaan ek doen? Wat gaan met my gebeur? Wat gaan ek antwoord? Wat gaan die mense sê? Wat gaan aan in die wêreld? Wat gaan môre en oormôre en die res van die jaar vir my oplewer? Wat gaan vir wat? Kom ons kyk weer na Lev 25:20. Wat daar staan, is nie bloot net ‘n vraag nie. Dis ‘n vraag wat toegedraai is in ‘n kragtige uitspraak van Yahweh, die Almagtige. Dis ‘n vraag wat op sy rug gedraai word en oorskadu word deur ‘n waarheid wat magtige berge voor jou, eenkant toe kan laat skuif. Lev 25:20 moet saam met Lev 25:21 gelees word en sáám sê die twee verse die volgende:

“En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.”

In die Hebreeuse verstaan van, en uitkyk op die lewe, is dit normaal om vrae te vra en die woord “Wat?” te gebruik. Daar word nie net “wat” gevra wanneer jy voor ‘n berg te staan gekom het nie. Soms moet jy “Wat?” vra, al verstaan jy heel goed hoe dinge in mekaar steek. Om “Wat?” te vra is bloot ‘n manier om te erken dat Yahweh méér weet en beter verstaan en groter is as jy. Soms lees jy iets in die Skrif wat jou só aanspreek dat jy op jou knieë wil neersak en wil uitroep: “Vader, wat is dit wat U vir my kom sê? Wat is dit wat ek hierin moet raaksien? Wat is die mens dat U aan hom dink? Wat buig jy jou neer, o my siel? Wat sal ek Yahweh vergeld vir al sy weldade aan my.” “Wat” is nie net ‘n vraag nie, dis ook ‘n antwoord. Soms vra ons vir Yahweh om vir ons ‘n antwoord te gee, maar ons sien dit nie as ons reg om ‘n antwoord te kry nie. Ons vra in nederigheid; ons vra met die diepe erkenning dat Hy soewerein is en dat Hy nie ‘n antwoord aan ons verskuldig is nie. Ons vra nie met die bedoeling om Hom in ‘n hoek te dryf nie. Nee, ons vra met ‘n mond en ‘n hart wat totaal aan Hom en aan sy outoriteit ondergeskik is. En in die proses van vra, keer ons harte baiekeer terug na Hom toe en kry ons weer ons gemoedsrus en ons kalmte terug wat deur uiterlike omstandighede van ons af weggeneem is.

Ons het gesê dat “wat” nie altyd ‘n vraag is nie. Dis opvallend dat Lev 25:20 nie begin met “As julle vra: Wat moet ons in die sewende jaar eet …” nie, maar met: “As julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet …” Ons weet nie wat die Sabbatsjaar vir ons gaan inhou nie. Ons weet nie wat hierdie jaar vir ons gaan oplewer nie. Ons weet nie presies hoe ons ons krisis gaan oorleef nie. Maar ons weet dat Hy vir ons sal sorg, en as dit moet, dat Hy ‘n wonderwerk in die proses sal laat plaasvind. Ons kan met vertroue en in nederigheid ons vertroue in Hom plaas. Hy sal die onbekendheid en die onsekerheid en selfs die onmoontlikheid vir sy rekening neem en daarvan iets tot sy eer en iets tot ons voordeel maak.

Dit is verder opvallend dat daar nie staan “As julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet … dan sal Ek sê …” nie, maar dat daar staan “As julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet … dan sal Ek (DOEN, naamlik …) my seën gebied …”. Ons wil nog praat en sê en vrae vra, dan is Yahweh lankal besig om te doen. Dan is Hy lankal besig om sy seën oor ons te gebied. En Hy seën ons nie net met een of twee jaar pasella (of moet ek sê “mahala”) nie – nee, Hy seën ons met drie ekstra jaar se inkomste en kos voorsiening en voorraad as dit nodig is. Soms praat Hy met ons, as ons regtig nodig het om sy stem te hoor. Maar meeste van die tyd is Hy besig om te doen en te gebied en te voorsien en gebede te verhoor en te seën. En in die proses is die berg wat voor ons gestaan het en ons uitsig so versper het, lankal nie meer daar nie. In die proses is die rede om vrae te vra reeds verwyder en in die plek daarvan het ons nou rede om sy Naam groot te maak. En dan besef ‘n mens dat berge, soos Psalm 80:10 sê, oordek is met die skaduwee van Elohiem en dat dit waar is wat die Messias gesê het: Geloof – selfs net geloof so groot soos ‘n mosterdsaad – kan werklik berge versit!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »