‘n Blog in diens van die Koninkryk

Ek het groot waardering vir die bydraes en kommentaar wat tot dusver op elkeen van die onderwerpe van bespreking gelewer is, veral die goeie gesindheid waarin daar deelgeneem word.  Dankie vir elkeen se woorde van bemoediging – teenoor mededeelnemers, maar ook lof wat soms na hierdie kant toe laat val word, waarvan ek sommer dadelik wil sê, uiteindelik is dit Yahweh alleen wat alle lof moet ontvang!  Ons sien sy hand in wat op die oomblik in baie mense se lewens en harte gebeur! Ek persoonlik is nog ‘n groentjie as dit by Blogs en dié soort van dinge kom en is aan die een kant versigtig om nie die verloop van die bespreking te versmoor nie, maar wil aan die ander kant graag ‘n opbouende bydrae lewer.  Vergewe maar asseblief as ek in die proses op ‘n ander wyse te werk gaan as wat normaalweg in hierdie soort internet-gebaseerde gesprekke gebeur.

Miskien net ‘n kort opmerking om te probeer verduidelik vanuit watter invalshoek ek kom. Ek is deel van ‘n groep gelowiges in Vishoek wat sowat 11 jaar gelede met babatreetjies en groot onsekerheid oor die toekoms, begin het om ‘n terug-na-die-Woord geloofskoers in te slaan.  In die proses het Yahweh ons van baie dinge gestroop en ook baie nuwe dinge kom leer – meeste van die kere op so ‘n kragtige en oortuigende manier dat daar by ons as ‘n groep geen twyfel bestaan het nie dat ons die voorreg gegun is om toeskouers te kon wees van (‘n klein deeltjie van) die groot werk van die Almagtige.  Soos ek nou reeds ‘n paar keer te kenne gegee het, is ek diep in my hart opgewonde oor die vermeerdering in kennis en ervaring met betrekking tot die dinge van die koninkryk, wat vandag by talle mense in ons land waargeneem kan word. 

Maar hier moet ek egter byvoeg:  ek is ook diep in my hart bekommerd oor die manier waarop die Vyand dit regkry om nog steeds te verlei, nog steeds te verdraai en nog steeds te vermeng – op so ‘n subtiele en geruislose wyse dat, ek dink, die grootste persentasie van Messiaanse gelowiges, of Efraimiete, of Torah-gesindes of watter etiket ons ook-al vir onsself gekies het, mooi netjies in hierdie strik getrap het en “salig onbewus” daarvan is.  Ek weet dis ‘n mondvol, maar oor die afgelope klompie jare het hierdie vermoede in my hart stadig maar seker ‘n oortuiging geword. 

Ek hoop dat deur ons almal se deelname aan hierdie Blog, minstens ‘n paar van die populêre, maar totaal ongegronde sienswyses oor Yahweh en oor sy Woord en oor sy Seun en oor sy Koninkryk, aan die lig gebring en begrawe kan word.  Ek is huiwerig om dit te sê, maar dis my ondervinding dat te midde van die (relatief min) goeie dinge wat uit die “poel van kennis” wat vrylik op die internet beskikbaar is, geneem kan word, is daar ‘n magdom van “messiaanse” en “Torah-gebaseerde” inligting wat via hierdie medium in goedgelowige mense se hande kom, wat op die lange duur hulle geloof kan kelder, eenvoudig omdat dit nie getrou aan die Skrif is nie.  My eie benadering tot hierdie Blog sal dus altyd wees om die suiwere interpretasie van die Skrif bo alles te probeer stel en sodoende ‘n proses op tou te sit om die intergriteit van hierdie uiters kosbare geloofspad te probeer beskerm.  

Soos dit vir my lyk, het ‘n Blog egter baie meer as dit nodig, om behoorlik te kan werk.   Dit het stemme nodig, mense se opinies, die deel van ervaringe, die uitruil van idees, interaksie, variasie, humor, emosie, snak-na-die-asem oomblikke, alledaagsheid, skerpsinnigheid, en doodgewone eerlikheid.   Ek hoop dat niemand wat die Woord van Yahweh liefhet, sal voel dat hy of sy nie ‘n bydrae het om te lewer nie en dat dit wat ‘n klompie jare gelede nog ondenkbaar was, hier ‘n werklikheid sal word:   ‘n Blog wat in diens staan van die Koninkryk!

This entry was posted in General and tagged , . Bookmark the permalink.