Briewe aan Kosbare Mense

My eie pad van geloof kan in baie opsigte as ‘n woestynpad beskryf word (op die 22 ste Desember 2012 was dit presies 40 jaar gelede dat ek as dertienjarige seun vir die eerste keer met groot oë hierdie pad betree het) – ‘n pad vol ontberinge en persoonlike aanpassings, maar ook ‘n pad waarin ek kennis gemaak het met wat ek graag sou wou noem: ‘n eietydse variasie van die wolkkolom en die vuurkolom waarmee ‘n jong, onervare en dikwels halsstarrige (maar in Yahweh se oë, kosbare) volk lank gelede ook in ‘n woestyn kennis gemaak het. Dis veral die “vuurkolom” wat vir my persoonlik spesiale betekenis het. Die vuurkolom verteenwoordig vir my onder meer die talle kere oor die afgelope 40 jaar dat ek in die middel van die nag wawyd wakker geword en ‘n ongekende dringendheid in my binneste ervaar het om op te staan en te gaan neerskryf wat Hy deur sy Gees so pas in my hart bekend gemaak of beklemtoon het.

Ek maak nie aanspraak daarop dat ek Yahweh se stem beter en duideliker kan hoor as ander mense nie. Trouens, ek sou totaal oneerlik wees as ek nie hier melding maak van die groot aantal kere dat ek vir weke, en selfs maande (soms in die nag, maar dikwels ook in die dag) geworstel het om te hoor en te verstaan wat Hy nou eintlik in sy Woord vir my persoonlik, en vir ander mense, probeer sê nie. Maar die punt is net: oor 40 jaar het ek stadig maar seker geleer om notisie te neem daarvan as ek in die nag wakker word en agterkom dat ‘n sekere tema of Skrif-waarheid of ingewing my gedagtes só totaal oorheers dat die slaap van my “vlug” soos dit soms ook in die Skrif beskryf word (sien onder meer Gen 31:40 en Dan 6:18).

Een van my onlangse nagtelike voornemens was om ‘n brief aan my seun te skryf. Die inhoud en die redes hiervoor is persoonlik en nie iets wat ek hier wil bespreek nie. Maar dis die idee van ‘n brief wat my laat wakkerlê het. Daar is tye dat dit nodig is om van aangesig tot aangesig met iemand te praat (d.w.s. NIE per brief of per epos of per SMS of via Facebook nie), sodat daar ‘n ontmoeting tussen twee persone, met inagneming van elkeen se eie, unieke persoonlikheid, emosies en voorkeure kan plaasvind . Een van die tragiese neweprodukte van die uiters gevorderde, tegnologiese era van kommunikasie waarin ons vandag woon, is dat mense al hoe minder tyd maak om te gaan sit, sodat daar direk, persoon tot persoon, met mekaar gesels kan word. In my eie gemoed is daar hieroor geen twyfel nie. Maar soms is daar omstandighede waar ‘n BRIEF van onskatbare waarde kan wees. In die Skrif lees ons dat mense soos Dawid, EliYah, GiezkiYah, YermeYahu en Shaúl soms briewe geskryf het om ‘n spesiale boodskap aan ‘n spesifieke geadresseerde of geadresseerdes oor te dra.

So het ek toe my briefie per epos aan my seun gestuur. (Die een, groot voordeel wat die moderne tegnologie vir ons gebring het, is dat briewe in ‘n kits by die geadresseerde kan uitkom en dat daar dus baie gouer aksie geneem kan word in reaksie op die brief!) Die brief aan my seun was egter net die eerste deel van dit wat daardie besondere nag die slaap van my laat vlug het. Die tweede deel het gegaan oor briewe aan ander mense ook. Mense wat ek al ontmoet het en met wie ek van tyd tot tyd oor die afgelope 40 jaar gepraat het. Mense wie se identiteit ek, uit respek vir hulle privaatheid, nie graag wil bekend maak nie en wie se kontakbesonderhede ek, in die meeste gevalle, in elk geval nie eens meer besit nie. Maar mense aan wie ek vandag baie graag dinge wil oordra wat ek dalk nie voorheen aan hulle gesê het nie, eenvoudig omdat ‘n mens nie altyd die regte woorde kan vind tydens daardie kritieke en beslissende oomblik van ‘n gesprek nie.

Ek besef dat meeste van hierdie mense nie die briewe gaan lees wat ek beoog om aan hulle, as anonieme geadresseerdes, te skryf nie. Maar ‘n brief is ‘n wonderlike ding. Die 12 of 13 briewe wat Shaúl byna 2000 jaar gelede vir spesifieke groepe en individue van sy eie tyd geskryf het, het ‘n massiewe impak op die lewens van miljoene ander mense gehad. ‘n Brief wat vir een, spesifieke mens bedoel is, kán ‘n impak hê op die lewe van ‘n ander mens. Daarom wil ek graag hierdie forum gebruik om briewe te plaas, so gereeld as moontlik, gerig aan kosbare mense, individue wat ek al ontmoet het en aan wie ek op hierdie tydstip iets sou wou skryf (sonder enige vermelding van hulle name of ander persoonlike besonderhede), sodat een of twee, of dalk honderd of twee honderd ander mense, mag baat vind by so ‘n brief omdat hulle met die inhoud daarvan kan identifiseer.

My verskoning, by voorbaat, dat meeste van hierdie briewe in my eerste taalvoorkeur, Afrikaans, sal wees. Soms is dit net makliker om jouself in jou moedertaal uit te druk. As jy een of meer van hierdie briewe lees en aanklank vind by iets wat daarin staan, wil ek jou uitnooi om kommentaar te lewer (anoniem as jy wil), in die ruimte wat hieronder gegee word (“Have something to say?”). Jy is egter welkom om persoonlik ‘n epos aan my te stuur, as jy dit so verkies (kontakbesonderhede kan by “Contact us” in die navigasie-gids heel bo, regs gevind word). Ek sal probeer om op elke persoonlike epos te reageer.

Net ‘n laaste gedagte: Diegene wat my op ‘n praktiese manier wil help om meer tyd te vind om aan die gereelde opdatering van hierdie briewe te werk, kan klik op die “I would like to help” skakel hieronder. Dit gaan oor finansiële ondersteuning en meer besonderhede word daar gegee. Ons probeer baie hard om hierdie webblad NIE in ‘n tipiese internet bedel mentaliteit te laat verval nie, maar die realiteit is dat ‘n onderneming soos die een wat hier beskryf word, tyd gaan verg en dat ek normaalweg heelwat van my tyd moet gebruik om (deur deeltydse werkies) genoeg fondse te genereer om die basiese finansiële drade bymekaar te hou. Baie dankie aan elkeen wat bereid is om op hierdie manier te help.

 

No tags for this post.
This entry was posted in Modern-day belief. Bookmark the permalink.

2 Responses to Briewe aan Kosbare Mense

  1. John says:

    AAN ‘N GOEIE VRIEND UIT SKOOLDAE …

    Ek kan nie onthou of ek ooit vir jou ‘n brief gestuur het nie. Toe ons nog saam op skool was, was daar in elk geval net een manier om ‘n brief te stuur en dit was die lang manier – kompleet met posseël, posbus, posbode en al. Dit sou my baie gouer geneem het om ‘n paar woorde op ‘n stuk papier te skryf, my fiets te gryp en die brief self by jou huis te gaan aflewer. Maar daardie tyd het so ‘n gedagte nooit eers by my opgekom nie. Hoekom sou ek immers tóé aan jou ‘n brief wou skryf? Ons het mekaar elke dag gesien, gereeld kopstukke met mekaar gesels en, vir soverre dit geloof aangaan, het ek gedink dat ons altwee honkiedorie was.

    Die paar jaar ná skool dat ons mekaar nie gesien het nie, het beslis sy tol geëis en dit vir my al hoe moeiliker gemaak om met jou te praat. Selfs die keer of wat toe ons mekaar ná skool raakgeloop het en geselsies aangeknoop het, was dinge net anders. Ons lewens het onherroeplik in verskillende rigtings begin beweeg en ek onthou dat ek eendag op universiteit met ‘n skok besef het dat ek my vriend verloor het wat op skool saam met my die geloofspad begin stap het – die een wat in die vormingsjare van my geloof ‘n groot impak op my lewe gehad het! Ek was taamlik verpletter toe ek dit besef, maar daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Dit was nie jou skuld nie. Dit was eenvoudig maar net hoe dinge gebeur het …

    Later, toe ons mekaar omtrent nooit meer gesien het nie, het ek by iemand gehoor dat jy deur ‘n periode in jou lewe gegaan het dat jy absoluut ontnugter is deur geloof en dit wat jy in die lewens van sogenaamde gelowiges gesien het. Volgens wat ek kon aflei, het jy jou rug op die geloof gedraai. Ek kan nie onthou presies wat dit aan my gedoen het om dié nuus te moes hoor nie, maar ek weet dat dit my ontstel het. Ek het self ook deur tye van stryd en twyfel gegaan, maar ek het gewens dat daar ‘n manier was om die horlosie terug te draai en net weer saam met my heel eerste geloofsmaat, soos kinders aan die voete van die Messias te sit en die wonders van die Woord te geniet.

    Intussen het daar in my eie lewe geweldig baie dinge gebeur, die meeste waarvan ek seker is jy nooit eens gehoor het nie. Ek gaan jou nie nou daarmee vermoei nie. Al wat ek vandag kan sê is dat ek, suiwer deur guns van Bo af, na 40 jaar nog steeds op die pad van geloof is. Lyk my geloof presies dieselfde as 40 jaar gelede, toe ek en jy op ons kinderlike manier gedink het dat ons al die antwoorde ken? Seker nie. Is my geloof nog gefokus op die Skepper, en op sy Seun wat gesterf en opgestaan het? Ja, beslis. Ek ken vandag nog sommige van die liedjies wat ek en jy met kitaarbegeleiding gesing het om uiting aan hierdie geloof te gee.

    Daar is detail wat ek destyds nie geken of verstaan het nie, wat ek langs die pad beter begin verstaan het en wat my geloof verryk en verdiep het. Daar is dinge wat ek ontdek het en besluite wat ek geneem het, op grond van hierdie ontdekkings, wat ‘n totaal nuwe wending aan my lewe gegee het. Maar na 40 jaar kan ek terugkyk en sê: elke deeltjie van hierdie pad het betekenis gehad en ‘n rol gespeel in wat ek vandag verstaan as die roete wat Yahweh my toegelaat het om in te slaan en die lewens-ondervinding waarmee Hy tot op hierdie dag vorm en inhoud aan my lewe gegee het. Ek is vandag baie dankbaar vir die betekenisvolle rol wat jy in hierdie proses gespeel het.

  2. John says:

    AAN IEMAND WAT BETEKENIS AAN MY WEERMAGDAE GEGEE HET …

    Destyds was daar nie so baie wat eers weermag toe gegaan het en daarna vir ‘n graad wou gaan studeer het nie. Miskien is dit hierdie gemeenskaplike droom wat jou en my tussen talle ander in die buitengewone situasie van ‘n grensoorlog na mekaar toe aangetrek het. Dalk is dít ook die verklaring waarom ons mekaar ná twee jaar in die weermag drie of vier keer weer gesien het – al het ons nie in dieselfde provinsie gewoon en studeer nie. Daar is andere wat net so ‘n groot rol in my dienspligdae gespeel het, maar ek skryf hierdie brief aan jóú omdat ons destyds dieselfde taal gepraat het wanneer dit by sake van die geloof kom en ons nou reeds jare lank nie ‘n woord van mekaar gehoor het nie.

    Ons het baie dinge sáám gedoen en beleef: oor en oor na gekodeerde boodskappe geluister as deel van die proses van elektroniese oorlogvoering in die sewentigerjare; met ‘n Unimog oor onherbergsame terrein gery en tonele gesien wat ons asems weggeslaan het; rugby, sokker en vlugbal gespeel op die soort speel oppervlaktes wat vandag vir 4 by 4 “off-road” kompetisies gebruik sal word; ‘n onvergeetlike staproete saam met twee of drie ander goeie vriende in die Boland onderneem en minstens twee konferensies bygewoon waar gelowiges van uiteenlopende herkoms en oortuiging onder een dak bymekaar gekom het en dinge beleef het wat ‘n onuitwisbare indruk sou laat. Op ‘n manier, glo ek, het ons mekaar nog altyd gerespekteer omdat ons aanklank gevind het by die wedersydse begeerte om die pad van die geloof voluit, maar sonder tierlantyntjies te loop.

    Intussen het my eie pad van geloof, soos jy dalk reeds weet, taamlik drasties verander en toon dit ooreenkomste met sommige van die paaie wat ons in weermagdae (met of sonder ‘n Unimog) betree het: onherbergsaam, minder bekend, maar gekenmerk deur heelwat WOW ontdekkings en fasette wat behoorlik ‘n mens se asem wegslaan. Dis ‘n pad wat nie deur die kerk, in sy breë, onderskryf of gevolg word nie. Daarom is dit nie altyd ‘n maklike pad om te loop nie. Soms is ‘n mens alleen. Soms is jy verslae oor wat mense van jou sê en skryf en dink. Maar soos ek dit vandag verstaan, is dit in alle opsigte ‘n pad wat sy wortels en oorsprong terugvind in die Woord – die Woord van die Een wat gesê het: “Op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jes 66:2).

    Ek kan nie vir jou, of enige ander persoon, oortuig om die pad te loop wat ek gekies het om te loop nie. Ek kan nie verwag dat jy, na byna 40 jaar en met baie min kontak in die tussentyd, weer saam met my in ‘n ruwe terrein voertuig klim en ‘n geloofsroete – “off the beaten track” – inslaan nie. Maar ek kan dit vir jou sê – en soos ek jou ken, sal dit jou laat dink – die pad wat aan ons van kindsbeen af voorgehou is en as die enigste en onfeilbare ingekleur en opgehemel is, is nie sonder sy kwota probleme nie. Nie probleme in die sin van teëspoed en weerstand nie. Inteendeel, die alombekende pad waarmee ons altwee reeds in ons tienerjare kennis gemaak het, is juis die pad van die minste weerstand. Maar die probleem met hierdie pad is dat dit lankal nie meer dieselfde pad is wat die Skepper oor honderde jare aan ons voorgangers in die geloof bekend gemaak het nie. Talle prominente bakens en riglyne op die padkaart is uitgekrap of verander en in die proses is ek nie seker of die eindbestemming nog dieselfde is nie.

    Doen jouself die guns en gaan stel behoorlike ondersoek in – met al die hulpmiddels tot ons beskikking vandag is dit nie meer so moeilik nie. Kontak my gerus as jy so voel en, wie weet, miskien draai ons nog die horlosie terug en durf ons opnuut weer dieselfde pad aan met die soort ongetemde waagmoed en onuitblusbare entoesiasme wat ons lank gelede na mekaar toe laat uitreik het.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »