DIE REGTE SOORT YWER VIR YAHWEH

alternate textMet die eerste oogopslag lyk die twee verse waarmee hierdie week se Parashah begin, taamlik lomp en selfs onverstaanbaar en teenstrydig, veral Num 25:11: “Pinegas, die seun van Eliázar, die seun van die priester Aharon, het my gramskap van die kinders van Yiesraél afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Yiesraél in my ywer nie verteer het nie.” Wat opvallend is, is die vreemde gebruik van die woord “ywer”, wat drie keer in die sin gebruik word: “Hy (Pinegas) het my ywer onder hulle geywer … sodat Ek hulle in my ywer nie verteer het nie”. Aan die een kant lyk dit asof Yahweh se ywer die potensiaal gehad het om al die kinders van Yiesraél te vernietig (of te “verteer”). Maar in dieselfde sin word gesê dat Pinegas se ywer (vir Yahweh) juis verhoed het dat al die kinders van Yiesraél vernietig (of verteer) is en dat daar uiteindelik net 24000 gesterf het (soos in die vorige Parashah beskryf word). Die vraag is dus: Watter soort eienskap is “ywer” nou eintlik? Is dit iets wat mense kan vernietig, of is dit iets wat mense kan red, soos wat Pinegas se ywer letterlik duisende mense se lewens gered het? ʼn Mens kom nader aan die antwoord as jy hierdie week se tweede lesing, 1 Konings 18:46 tot 1 Konings 19:21, saam met Numerie (of Bemiedbar) 25 lees.

1 Konings 18 is die bekende hoofstuk waarin die konfrontasie tussen EliYah en die Baál-profete op die berg Karmel plaasgevind het. Die Baál-aanbidding kultus het sy hoogtepunt bereik onder leiding van twee van Yiesraél se mees korrupte leiers, Agav en Izevel (meer bekend as Jezebel). Baie van die ware profete van Yahweh is doodgemaak. Andere het uit vrees vir hulle lewens weggekruip en gevlug. En dan volg die bekende episode waarin die profeet EliYah 400 Baál-profete uitdaag om eens en vir altyd aan die volk te bewys watter vorm van aanbidding is reg en wie nou eintlik die ware Elohiem is. Die volk word voor die keuse gestel om te kies tussen Baál en Yahweh en nie langer “op twee gedagtes te hink” nie. As Baál die ware Elohiem is, moes hy die altaar wat sy navolgers voorberei het, met vuur aan die brand steek en as Yahweh die ware Elohiem is, moes H‎‎ý die altaar wat vir Hom voorberei is, met vuur aan die brand steek. Yahweh toon sy almag en sy soewereiniteit, EliYah wen die konfrontasie loshande en die hele volk van Yiesraél het geen ander keuse nie as om op hulle aangesigte neer te val en hardop uit te roep: “Yahweh, Hy is Elohiem, Yahweh, Hy is Elohiem!” (1 Kon 18:39). Die Baál-profete word ontmasker vir wie hulle is en by die spruit van Kieshon doodgemaak.

Maar dis nie die einde van die storie nie. Izevel stuur ʼn bevel uit dat EliYah doodgemaak moet word. EliYah vlug na die berg Gorev (Horeb). In ʼn visioen vra Yahweh vir hom: “Wat maak jy hier, EliYah?” en EliYah antwoord: “Ek het baie geywer vir Yahweh, die Elohiem van die leërskare; want die kinders van Yiesraél het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard doodgemaak, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Kon 19:10). Hier het ons weer daardie begrip, “ywer”. EliYah het baie geywer vir Yahweh (en in die proses 400 Baál-profete laat doodmaak), maar nou kruip hy weg, uit vrees vir sy lewe. In die visioen wys Yahweh vir hom ʼn sterk wind, ʼn aardbewing en ʼn vuur en laat hom verstaan dat Hy (Yahweh) minder in hierdie dinge teenwoordig is as wat Hy in “die gesuis van ʼn sagte koelte” (KJV: “a still, small voice”) teenwoordig is. Hierna vra Yahweh weer vir EliYah: “Wat maak jy hier, EliYah?” waarop EliYah, net soos die eerste keer, weer antwoord dat hy baie geywer het vir Yahweh, die Elohiem van die leërskare. Dan sê Yahweh onder meer vir hom dat hy Elisha in sy plek as profeet moet salf.

In hulle geskrifte het die Yehudiem ʼn verduideliking (of ʼn midrash) van hierdie voorval, waarin die hele gesprek tussen Yahweh en EliYah heelwat meer uitgebrei word as wat in die Skrif opgeteken is. Dit klink min of meer só:

EliYah: Die Israeliete het u verbond verbreek.
Elohiem: So is dit dan jóú verbond?
EliYah: Hulle het u altare afgebreek.
Elohiem: Maar was dit jóú altare?
EliYah: Hulle het u profete met die swaard doodgemaak.
Elohiem: Maar jy lewe nog.
EliYah: Ek alleen het oorgebly.
Elohiem: In plaas daarvan om jou volk te beskuldig, moes jy nie liewer vir hulle gepleit het nie?

Dit lyk nie asof EliYah mooi verstaan het watter soort ywer Yahweh van sy volgelinge verlang nie – selfs nie nadat hy die visioen van die sterk wind en die aardbewing en die vuur en die sagte koelte (of die sagte fluister-stem) beleef het nie. En die uiteinde is dat Elisha in sy plek as profeet aangestel moes word. Daar is ʼn soort ywer wat aan Yahweh alleen behoort en waarin ons as mense nie behoort in te meng, asof ons op een vlak met Hom staan nie. Die woord vir “ywer” (in Hebreeus en Aramees) hou verband met die woord vir “skep, oprig, tot stand bring, koop en besit”. Daar is ʼn aspek van “ywer” wat slegs pas by die Skepper en die Oprigter en die Besitter van alle dinge en alle mense. Soms kan ons só “ywerig” vir Yahweh wees dat ons skoon vergeet hoeveel guns en vergifnis en toegewings en smeekbedes dit gekos het om ons op die plek te kry waar ons op die oomblik is. Soms dink ons ywer het net met reg en geregtigheid en oordeel en verdoeming te make. ʼn Groot fout by baie mense wat soos ons dink en voel, is dat ons so vinnig is om mense af te skryf. Dan vergeet ons van die aspek van ywer wat verdraagsaam is en lewens red en vergewe en verskoon en met ʼn “still, small voice” na iemand toe kom, soos mens duidelik in die volgende verse kan sien:

Eseg 16:42 En Ek sal my gramskap tot rus bring teen jou – dan sal my ywer van jou afwyk, en Ek sal stil word en nie meer toornig wees nie.

2 Kon 19:31 Want uit Yerushalayiem sal ‘n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Tsion. Die ywer van Yahweh van die leërskare sal dit doen.

Spr 19:2 Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie; en hy wat haastig is met die voete, trap mis.

Joël 2:18 Toe het Yahweh geywer vir sy land en sy volk verskoon.

Sag 1:14-16 So sê Yahweh van die leërskare: Ek ywer oor Yerushalayiem en oor Tsion met ‘n groot ywer … Daarom, so sê Yahweh: Ek wend My met ontferming tot Yerushalayiem.

Rom 12:11-14 Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Meester … seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie.

2 Pet 1:5-7 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die toewyding, en by die toewyding die liefde vir die broers, en by die liefde vir die broers die naasteliefde (of: liefde vir alle mense).

Daar is geen twyfel daaroor dat die Skrif ons oproep om ywerig vir Yahweh en die suiwer boodskap van sy Woord te wees nie. In ons wêreld vandag is die neiging al hoe meer om alles te verdra en maar liewer jou oë en jou mond toe te maak oor dit wat verkeerd is rondom jou. Netnou sê jy iets wat jy nie moes gesê het nie. Of dalk trap jy op iemand se tone of kom jy in die moeilikheid omdat jy iemand se regte of gevoelens nie in ag geneem het nie. Ons behoort met alles wat ons het, te waak daarteen dat hierdie passiwiteit nie ook in ons harte saad skiet nie. Ons behoort, soos 2 Pet 1:10 dit stel, ons des te meer te beywer om ons roeping en verkiesing vas te maak; sodat ons nie sal struikel nie. Maar, soos Pinegas, moet ons beweegrede wees om lewens te red, nie om mense te verdoem nie. Ons moet streef daarna om op te staan vir die waarheid soos EliYah, maar dan moet ons dit doen met die hart en die gesindheid van die EliYah wat nog kom, die een wat wil keer dat mense met die banvloek getref word en wat mense en families se harte weer bymekaar wil uitbring, die een oor wie Maleagi 4:5-6 geskryf het: “Ek stuur julle die profeet EliYah voordat die groot en vreesaanjaende dag van Yahweh aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.” Miskien is hierdie EliYah nie in die eerste plek ʼn persoon nie, maar ʼn gesindheid wat Yahweh graag wil sien by sy volgelinge wat die waarheid liefhet en wat uitsien na die aanbreek van die groot Dag van Yahweh.