DIE STRYD RONDOM DIE WAARHEID

alternate textOns het verlede week inleidend na die aspek van waarheid gekyk en aangesluit by die Hebreeuse begrip “tamiem” wat dikwels met “sonder gebrek” vertaal word, maar in wese met WAARHEID te make het en dus ook as “sonder valsheid” vertaal kon word. Skriftuurlik gesproke is mense wat “tamiem” is, mense wat hulle streng hou by die gees en die inhoud van Yahweh se Woord en dit nie willens en wetens oortree nie. Hierdie tema kom ook baie sterk na vore in die Torah leesstuk wat volg op verlede week sʼn (Wayiekkra of Levitikus 25-27), veral in hoofstuk 26. In hierdie hoofstuk kom dit soos ʼn refrein na vore: Hou my Shabbatte (v.2); Eerbiedig my afgesonderde plek (v.2); Wandel volgens my insettinge (v.3); Doen my gebooie (v.3); Luister na my woorde (v.14); Moenie my insettinge verwerp nie (v.15); Moenie my verordeninge verag nie (v.15); Moenie my verbond verbreek nie (v.15); Moenie julle teen My verset nie (v.21); Bely julle ongeregtigheid en die ongeregtigheid van julle vaders (v.40). Die maatstaf bly die waarheid van Yahweh se woorde en leringe (oftewel: “torot” – die meervoud van “torah”) en enige afwyking hiervan word afgekeur. Hiervan moet daar belydenis gedoen word en van hierdie afdraaipad moet daar terug gedraai word na die “weg van die waarheid” (Ps 119:30; 2 Pet 2:2).

Dit is juis hierdie laaste aspek van belydenis – selfs wanneer dit die vaders is wat oortree het – wat in die profetiese lesing van hierdie week na vore kom. Jeremia of YermeYahu 16:19: “O Yahweh, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërf, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.” Die waarheid is nie altyd so maklik om raak te sien en na te volg nie! Dit kom nie sommer net vanself nie! Waarom nie? Want ons het leuens, afgode en ʼn hele klomp ander nadelige goed van ons vaders geërf! Daar is hoevele mense wat nie kan uitgepraat raak oor die Allerhoogste wat hulle sterkte en hulle beskutting en hulle toevlug in die dag van benoudheid is nie. Maar wanneer laas het jy iemand gehoor wat hierdie soort lofbetuiging in die konteks gebruik waarin die profeet YermeYahu dit gebruik het? Nie wanneer dit goed gaan en alles mooi rustig en gemaklik is nie. Ook nie eens wanneer dit gewoonweg net sleg gaan nie. Maar wanneer jy ontdek dat jy ʼn klomp leuens van jou vaders geërf het en dat jy in groot moeilikheid is omdat hierdie OU leuens nou ook JOU leuens geword het. Dis dán, sê die profeet, dat jy jou tot Yahweh moet wend wat jou sterkte en jou beskutting en jou toevlug in die dag van benoudheid is. Ons wend ons só maklik tot Yahweh as ons toevlug wanneer ons eie voorspoed en ons eie gesondheid op die spel is. Maar wanneer dit die Woord en die Waarheid en die Waaragtigheid van die Allerhoogste is wat op die spel is, maak ons dikwels soos wat Winston Churchill dit beskryf het: “We stumble over the truth, pick ourselves up, and hurry off as though nothing happened.”

Ons het verlede week gesien dat die begrip “waarheid” relatief skaars in die Tanak is en in sommige vertalings meer kere in die Messiaanse Geskrifte as in die Tanak gebruik word. Dis egter heeltemal ʼn ander storie as jy na die begrip “leuen” gaan kyk. Volgens die vertaling van Woord en Getuienis kom die woord “leuen” of “leuens” 60 keer in die Tanak voor en 10 keer in die Messiaanse Geskrifte. Ons het reeds gesien dat daar talle ander begrippe is wat as aanvulling of selfs as sinonieme vir waarheid gebruik word – beide in die Tanak en die Messiaanse Geskrifte – en dis nie moeilik om raak te sien dat die tema van WAARHEID EN LEUEN een van die sentrale temas in die hele Skrif is nie. Kom ons kyk vervolgens na ʼn aantal plekke in die Skrif waar daar oor die leuen gepraat word en na dit wat ons in hierdie gedeeltes oor die GROOT STRYD rondom die waarheid kan leer.

Jes 28:15 “Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gesel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek.” Net so min as wat mens met die dood ʼn verbond kan sluit, net so min kan jy van die leuen ʼn skuilplek maak. En tog is dit presies wat so baie mense doen. En die ironie is dat hierdie mense baie werk insit en baie argumente gebruik om hierdie skuilplek so sterk en so ondeurdringbaar as moontlik te maak. Meeste van hierdie skuilplekke is soos bastions en soos vestings (Eng “strongholds”) – iemand van buite af kan dit nie sommer net omstoot nie en gewone argumente kan die een wat daarin wegkruip, nie sommer bereik nie. Net die bonatuurlike ingryping van Yahweh self kan hierdie skuilplek bereik en dit afbreek: “Ek (Yahweh) sal die reg tot ‘n riglyn maak … en die hael sal die leuendak wegruk en die water (wat van My af kom) die skuilplek wegspoel” (Jes 28:17).

Jer 7:4-8 “Vertrou nie op verleidelike woorde nie – wat sê: Yahweh se tempel, Yahweh se tempel, Yahweh se tempel is dit … Kyk, julle vertrou op valse woorde wat nie baat nie.” Die profeet YermeYahu (of Jeremia), wat meer oor leuens skryf as enige ander profeet in die Skrif, gebruik nie net dikwels die begrippe “leuen” of “leuens” nie – hy beskryf ook wat hy daarmee bedoel: Dis om jou vertroue op valse of verleidelike woorde te plaas. Dis om geykte, populêre en holrug geryde godsdienstige formules te gebruik en dit selfs aanhoudend te herhaal – asof vroom taal en slim praatjies en ydele herhaling die Almagtige sal oorhaal om Hom by sy volk te skaar. Wat hulle egter nie besef nie is dat Yahweh Hom ALTYD by die waarheid skaar, maak nie saak hoeveel keer ʼn leuen of ʼn onwaarheid herhaal word nie. Maak nie saak hoeveel byvertonings en opgesmukte grimering en gevleuelde woorde jy by die leuen byvoeg nie, dit sal nooit ophou om ʼn leuen te wees nie!

Jer 23:31-32 “Ek het dit teen die profete, sê Yahweh, wat hulle eie tong gebruik en sê: Yahweh praat! Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, sê Yahweh, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, sê Yahweh.” Wat dit soms so moeilik maak om ʼn leuen te identifiseer en te sien vir wat dit is, is die feit dat hulle wat hierdie boodskap oordra, hulle eie idees (of ander mense se idees) gebruik en dan verkondig: “Yahweh het só gesê” OF “Die Here het dit vir my gesê”. Soms voeg hulle by dat hulle ʼn droom of ʼn visioen gehad het. Wie kan nou teëstribbel as iemand na jou toe kom en sê hy het ʼn droom of ʼn visioen gehad? As mens mooi luister na hierdie twee verse, klink dit kompleet asof die profeet alles van Facebook en Whatsapp af geweet het. Want een van die tegnieke wat hierdie valse profete graag gebruik, is om hulle boodskap “rond te vertel”. Hoe meer die boodskap herhaal word en versprei word en vermenigvuldig word en gelees en gehoor word, hoe groter is die kans dat die leuen vir waarheid aangesien word. Mag Yahweh ons besonder waaksaam maak sodat ons nie ook in die net van verleiding en grootpratery en “rondvertellery” gevang word en dinge oorvertel wat vir die volk hoegenaamd geen voordeel bring nie. Die profeet Yegezkel (Esegiël) vergelyk die nutteloosheid van sulke leuens met ʼn pleisteraar wat met los kalk pleister – Eseg 22:28: “En sy profete pleister vir hulle met los kalk deur valse gesigte te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: So sê die Meester Yahweh – terwyl Yahweh nie (ʼn woord) gesê het nie.”

Rom 1:25 “Hulle het die waarheid van Elohiem verruil vir die leuen en die skepsel vereer en gedien, bó die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.” In hierdie uitspraak kan ons sien wat die kern van die leuen is: Die skepsel word vereer en gedien, bokant die Skepper wat veronderstel is om geprys te word tot in ewigheid. Op watter manier gebeur dit? Dit gebeur deurdat die woorde van Yahweh subtiel verdraai word, of weg geredeneer word, of doodeenvoudig verswyg word. Die redes hiervoor is uiteenlopend en kompleks, maar in die geheel gesien, is dit eintlik baie eenvoudig: Yahweh, die Skepper van hemel en aarde, word nie meer as die soewereine Outoriteit van ons lewe erken nie. Sy suiwer woorde word nie meer as betroubaar genoeg geag nie. Sy vermoë om ons as mense op die regte pad te lei, word bevraagteken. Daar word ʼn “sell by” datumstempel oor sy opdragte geplaas en gesê dit het net vir ʼn sekere tydperk gegeld. En om hierdie proses van “skepsel-help-vir-Skepper-reg” end-uit deur te voer, word die mens en die menslike instellinge en die kerklike vergaderings en hulle tradisies en hulle doktrines en hulle sinode-besluite as die laaste woord en die laaste bastion beskou – bó die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.

Toe Nikodemus in Johannes 3 met Y’shua kom praat het, het Y’shua nie met hom doekies omgedraai nie. Hy het aan hom die waarheid vertel – die waarheid van Joh 3:16 (“So lief het Elohiem die wêreld gehad …”); die waarheid van die wedergeboorte (“As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van Elohiem nie sien nie”) en die waarheid van die groot verskil tussen lig en duisternis (“die mense het die duisternis liewer gehad as die lig” EN “Hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in Elohiem gedoen is). In die lewens van hulle wat glo dat Yahweh sy Seun, Y’shua, na hierdie wêreld gestuur het om vir hulle die ewige lewe te bring, moet daar noodwendig drie dinge gebeur: (1) Hulle moet ophou om die duisternis liewer te hê as die lig, (2) Hulle moet eenvoudig die waarheid doen en uitleef en (3) Hulle moet na die lig toe kom, sodat daar deurlopend getoets kan word of hulle werke in Elohiem gedoen is, of nie. Dit is die enigste manier om jou voor te berei vir die uiteindelike wedergeboorte waardeur doodgewone mense soos ek en jy die koninkryk van die hemele in besit kan neem.