DIE GROOTSTE PLAAG WAT DAAR IS

alternate textDie Torah porsie van hierdie week (Ex 6:2 – 9:35) beskryf die eerste sewe van die tien plae en daar is ʼn sterk beklemtoning van tekens en wonders: Aanvanklik kon Farao se towenaars die tekens selfs nadoen – die staf wat in ʼn slang verander, die water van die Nyl wat in bloed verander en selfs die plaag van paddas wat uit die waters van Mietsrayiem te voorskyn gekom het. Die towenaars van Farao kon dit nadoen en was só gefokus daarop om te bewys dat hulle net so magtig was soos Mosheh se Elohiem, dat hulle nie eens agter gekom het hulle maak die plae vir hulle eie mense net nog erger nie. Méér bloed en méér paddas! En net die volgende vers sê vir ons dat Farao vir Mosheh en Aharon laat roep en vir hulle sê: “Bid tot Yahweh, dat Hy die paddas van my en van my volk wegneem.” Sy eie towenaars kan paddas maak maar hulle kan dit nie wegneem nie. Sy eie gode kan kastig groot tekens doen, maar as daar uitkoms nodig is, moet daar tot die Elohiem van Mosheh gebid word. ʼn Mens kan nie help om so ligweg in jou mou te lag nie. En ʼn mens kan nie help om aan Psalm 2 en Psalm 37 te dink nie. “Hy wat in die hemel woon, lag; Yahweh spot met hulle … Yahweh lag oor die afvallige, want Hy sien dat sy dag kom.”

Om verder tot die ironie van die futiele pogings van Farao en sy towenaars by te dra, kom ons by die derde plaag, die plaag van luise of muskiete of een of ander klein insek wat in hierdie gedeelte met stof in verband gebring word – en die hele Egipte is oortrek daarvan. By verre die kleinste lewende wese wat deel van die 10 plae uitgemaak het. En skielik is die towenaars magteloos. Hulle kan slange voortbring en bloed en paddas, maar nie luise nie. ʼn Ou Joodse rabbi het eenkeer gesê: “A demon has no power over an object smaller than a barley grain.” Miskien was hy reg. Satan kan nog ʼn mens manipuleer en hom selfs beset, en ʼn dier en ʼn padda en selfs ʼn sprinkaan, as mens kyk na die voorspellings oor die eindtyd volgens Openbaring 9. Maar kan Satan en sy handlangers – die towenaars en die waarsêers en die “miracle workers” van hierdie wêreld – beheer uitoefen oor ʼn luis of ʼn muskiet? In die verslag oor die tien plae blyk dit nie so te wees nie.

In hierdie hele leesstuk oor die plae is daar veral twee temas wat gereeld aangeraak word: die tema van wonderwerke en die tema van gebed. Die wonderwerke wat reeds vóór die plae uitgevoer is en die tien plae self, wat eintlik niks anders as ʼn reeks wonderwerke was nie. En dan die tema van gebed: Kort-kort sê Farao vir Mosheh dat hy moet bid tot Yahweh dat Hy tog die plae moet laat ophou. Dus kan die wonderwerke gesien word as die handeling wat die plae aanbring, terwyl gebed gesien kan word as die handeling wat die plaag weer wegneem. As mens kyk na die godsdienstige wêreld daarbuite, is daar vandag net so ʼn groot klem op wonderwerke en gebed soos wat daar was in Exodus 7, 8 en 9. Vir een of ander rede word mense gefassineer deur wonderwerke en gebed. Die sogenaamde “Signs and Wonders” beweging is vandag nog net so in aanvraag soos dit in die tagtiger en negentiger jare was, met figure soos John Wimber, Benny Hinn en Rodney Howard Brown aan die voorpunt. Deesdae is daar selfs méér name en méér groepe – ook in Afrika en Suid-Afrika – en die massas word daarheen getrek soos wat motte na ʼn kers toe aangetrek word.

Ook gebed is vandag nog steeds een van die mees sentrale fokuspunte, wanneer dit kom by die groot godsdienstige bewegings van die wêreld. Dink aan die talle oproepe tot gebed wat deesdae sommer via Sms of Whatsapp of Facebook onder die aandag van al wat leef of beef gebring word elke keer as daar ʼn krisis is wat dreig om hand uit te ruk. Soms kry mens die gevoel sommiges dink gebed is soos ʼn towerstaffie wat jy swaai, elke keer as jy of jou mense regtig in die moeilikheid is. Dink aan die getrouheid waarmee Moslems oor die wêreld heen hulle gebede beoefen – veral Vrydae oor die middaguur. Ek weet nie of almal daarvan bewus is nie, maar die Moslems het nie minder nie as ses gebedstye per dag, wat verander soos wat die tyd van die sonsopkoms verander. Dink aan die sentrale plek van die Westelike Muur in Jerusalem en die groot moeite en koste wat mense sal aangaan, net om voor daardie muur te gaan staan en te bid, of een of ander aksie uit voer wat op ʼn manier aan gebed verbind word. Ek sê nie dat gebed verniet of tevergeefs is nie; of dat mens die oproepe tot gebed rondom jou moet ignoreer nie. Maar is dit nie ironies dat in ons leesstuk hierdie week, Farao die groot kampvegter vir gebed is nie. En dat, ten spyte van al die wonderwerke wat plaasgevind het, Farao tot die einde toe nog sy hart verhard het. Die punt is net: wonderwerke kan ʼn doel dien op sy bepaalde tyd, maar wonderwerke gaan tien teen een nie jou hart verander nie en jou nie by Yahweh uitbring nie. En gebed behoort ʼn belangrike rol in die lewe van elke gelowige in te neem, maar gebed is nie ʼn towerstaffie nie en dis ook nie ʼn kortpad of ʼn plaasvervanger vir ʼn egte en lewende verhouding met Yahweh nie.

Ons lees in die eerste 11 hoofstukke van Exodus van 10 plae wat plaasgevind het. Maar eintlik is daar 11 plae wat in die eerste 11 hoofstukke van Exodus beskryf word. Die tien plae waarvan ons weet en dan die grootste plaag van almal – die ergste ding denkbaar wat met ʼn mens kan gebeur. En dit is dat jy nie vir Yahweh ken nie. Sommige van die ou rabbi’s het gesê daar eintlik drie groepe plae was en dat Yahweh by elkeen van hierdie drie groepe ʼn dieper rede gegee het waarom hy deur sy kneg Mosheh sulke groot wonderwerke gedoen het. ʼn Rede wat verder en dieper strek as om bloot vir Farao te oorreed om die volk te laat trek. (1) Vir die eerste groep van drie plae kry ons die dieper rede in Ex 7:17: “Hieraan sal jy weet dat Ek Yahweh is”. (2) Vir die tweede groep van drie plae kry ons die dieper rede in Ex 8:22: “Sodat jy kan weet dat Ek Yahweh in die land is” en (3) Vir die derde en laaste groep (vier plae) kry ons die dieper rede in Ex 9:14: “Dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde soos Ek is nie”.

Wat Yahweh in die eerste plek begeer – nie net vir sy eie mense nie, maar ook vir die volkere van die aarde – is dat almal sal weet dat Hy Yahweh is. Hy is nie maar net ʼn onbekende, identiteitlose magtige nie. Hy is nie maar net een tussen baie ander nie. Jou paaie kruis nie met Hom en dan bly jy dieselfde nie. Nee, Hy is Yahweh, die gedugte Elohiem van Avraham Yietsgak en Yaákov en ʼn ontmoeting met Hom dop jou hele lewe op sy kop. En Hy wil hê mense moet wéét dat Hy Yahweh is en dat Hy dit kan doen – meer as wat hy wil hê mense moet ʼn skietgebedjie opstuur elke keer as hulle in die nood is. Verder wil Hy ook hê dat almal moet weet dat Hy Yahweh in die land is. Hy is nie onbetrokke en onaktief en afwesig van dit wat hier op aarde gebeur nie. Hy is nie maar net Yahweh in die hemel nie. Hulle wat só te kere gaan as daar ‘n groot wonderwerk plaasvind, moet net ʼn slaggie hulle oë oopmaak en sien hoeveel wonderwerke daar daagliks in hulle lewe plaasvind. Want Hy, Yahweh is ook in ons land en in ons midde en in ons lewens – aktief besig om voortdurend sy grootheid aan ons te demonstreer. As jy eers met hierdie Yahweh te make gekry het – sy Naam ontdek het, sy unieke manier van werk leer ken het, sy grootheid in jou eie lewe gesien het, dan sal jy ook weet soos Ex 9:14 dit stel, dat daar niemand op die hele aarde soos Hy is nie. En dít sal jou lewe verander – meer as wat “signs and wonders” ʼn mens se lewe kan verander en meer meer as wat gebed op die straathoeke of op sosiale media – a la die Fariseërs in Y’shua se tyd – ʼn mens se lewe kan verander.

Dis is asof die leesstuk oor die tien plae ons oë net weer ʼn slaggie kom oopmaak vir die hierdie grootste van alle plae – die plaag wat dáárin bestaan om al die regte geluide te maak en die “credentials” van ʼn godsdienstige mens te hê, maar Yahweh nie regtig van ganser harte te soek nie en die krag van sy Naam nie regtig te ken nie. Wat Yahweh in die eerste plek by ons wil sien is ʼn dimensie van geloof en intieme kennis, gebalanseer met die gesonde tipe vrees vir Yahweh – nie ʼn dimensie van kerklikheid en godsdienstigheid en “showmanship” nie. Daarom, nadat Hy die derde “dieper rede” in Exodus 9:14 bekend gemaak het (“Dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde soos Ek is nie”), sê hy deur sy kneg Mosheh vir Farao in Exodus 9:16: “Maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.” Asof dit nie genoeg is dat die Parashah met sy Naam begin het nie (6:3 “Het Ek my nie met my Naam aan Avraham, Yietsgak en Yaákov bekend gemaak nie?”), word dit nou ook met sy Naam afgesluit: “Die diepste rede waarom al hierdie dinge voor jou oë (in jou eie land en onder jou eie mense) gebeur het, is dat die mense my Naam oor die hele aarde kan verkondig …” Ons mis iets ontsettend groots as ons hierdie dimensie van die grootheid van Yahweh se Naam nie raaksien nie. Mense wat vandag na die Skrif kyk, is gepla met so baie dinge. Maar hulle slaag nie daarin om die grootste van al die plae raak te sien nie en dompel hulleself in geestelike armoede deur weg te beur van die Naam bo alle ander name. Hoe geseënd is ons nie as hierdie plaag by ons verbygaan het en die Naam van Yahweh – en die implikasies daarvan om hierdie Naam te ken – waarlik vir ons betekenis gekry het!