OORWINNING OOR ONS VYANDE

alternate textSommige van die temas wat die grootste moontlike impak op ʼn mens se lewe kan hê, word in hierdie week se Parashah aangeraak. Temas soos trou en egskeiding en huweliksontrou (adultery) en verkragting en prostitusie en om te moet deel met die hartseer van ʼn rebelse en onhanteerbare kind, en selfs die dood, word in die vyf hoofstukke van Devariem (Deut) 21 tot 25 aangeraak. Die Torah leer ʼn mens om nie weg te skram van die moeilike temas van die lewe nie. As daar ʼn probleem of ʼn krisis of ʼn situasie is wat ʼn huis of ʼn gemeenskap of selfs ʼn hele nasie beïnvloed, dan behoort daardie probleem volledig onder oënskou geneem en hanteer te word. Ons behoort nie stil te bly oor, en weg te skram van dinge wat die diepste wese van mense se lewens raak nie – maak nie saak hoe sensitief of selfs plofbaar daardie spesifieke tema vir sommige mense mag wees nie.

Die feit dat iemand wat deel is van ons groep, op die oomblik in ʼn hospitaal in ʼn stryd om lewe en dood gewikkel is, is in hierdie opsig vir almal van ons van belang. Nóú, meer as ooit tevore, behoort ons oor die dood en oor die stryd waarmee dit dikwels gepaard gaan, te praat. Ons behoort nie weg te skram van die moeilike tema van die dood nie. Waarom nie? Omdat die dood net so deel van die lewe is as wat geboorte en asemhaal en trou deel van die lewe is. Ons is geskape met ʼn ingebore weerstand teen die dood en dis hierdie weerstand wat maak dat ons van nature stry teen die dood en dat ons onsself en ander rondom ons wil beskerm en dat ons ʼn inherente drang het om te oorleef in hierdie wêreld. Volgens die Skrif het ons nie net ʼn drang om te oorleef nie, ons het ook ʼn verantwoordelikheid om te oorleef en seker te maak dat ons nie dobbel met ons eie lewe of die lewens van die mense rondom ons nie. Die Skrif leer egter ook dat daar ʼn tyd is om gebore te word en ʼn tyd om te sterf (Pred 3:2). Ons behoort nie te wag totdat ons die dood direk in die gesig staar voordat ons oor die dood begin dink en onsself vir die dood begin voorberei nie. Juis omdat ons vir Yahweh ken en in sy Seun glo wat uit die dood opgewek is en weet dat die dood nie die laaste sê het, hoef ons die dood nie met vrees en bewing tegemoet te gaan nie. Die dood is finaal. Die dood het ʼn geweldige impak op huise en families. In sommige gevalle gaan die dood met bittere lyding en stryd gepaard. Maar as gelowiges kan ons ons oog vestig op die opstanding en die ewige lewe – nie as “a pie in the sky when you die” nie; ook nie as ʼn outomatiese “oorstap” uit hierdie lewe na die “strate van goud” in die hemel nie, maar as ʼn wonderlike vooruitsig en erfporsie wat niemand van ons kan wegneem nie. Deur die dood word ons van ons dierbares en van ons aardse sekuriteite en ons bekende omgewing weggeskeur, maar as gelowiges word ons nie van Yahweh en van sy Beloftes en sy Verlossing geskei nie. En juis hierdie wete is óns grootste troos – ons wat moet vrede maak met die moontlike dood van ʼn medegelowige wat vir ons kosbaar is.

Om terug te keer na die Parashah van hierdie week – een van die groot (en traumatiese) temas wat aangeraak word in hierdie gedeelte, is die tema van oorlog en stryd. Heel aan die begin van die Parashah kom dit na vore (Deut 21:10 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en Yahweh jou Elohiem hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer …) en ook heel aan die einde (Deut 25:19 As Yahweh jou Elohiem dan vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat Yahweh jou Elohiem jou as erfenis sal gee …). Dis asof hierdie twee uiterstes die hele Parashah omspan: (1) Om uit te trek teen jou vyande en (2) Om rus te hê van jou vyande. Meeste van ons ken nie juis die volle impak en afgryslikheid van oorlog (in die heel letterlike sin van die woord) nie. Maar meeste van ons kén die stryd waarvan Efes 6:12 praat (“Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”). Meeste van ons ken die wisselwerking van, aan die een kant uit te trek teen die vyand en die geestelike magte wat ons lewens probeer verwoes en, aan die ander kant, om rus en kalmte en oorwinning van Bo af te ontvang.

ʼn Mens hoef nie van die more tot die aand met sg. “geestelike oorlogvoering” besig te wees en op al die moontlike gestaltes van ons groot Vyand, Satan, te fokus nie. Ons behoort nie méér op ons Vyand as op ons Bron van krag en inspirasie en verlossing te fokus nie. Die feite is egter dat daar ʼn stryd is en dat ons toegerus vir hierdie stryd moet wees en, soos Shaúl geskryf het, nie met die vyand se planne onbekend moet wees nie (2 Kor 2:11). Verder leer die Torah ons dat ons nie moet stilbly en moet swyg oor ʼn groot tema soos die Stryd waarin ons elke dag staan nie. Kom ons kyk dus na sommige van die duidelike perspektiewe wat die Skrif vir ons in hierdie opsig gee. Die heel beste manier waarop ons onsself kan toerus vir die stryd, is om die Woord van Yahweh te leer ken en die waarhede aangaande die stryd en die oorwinning in ons harte te bêre:

Ex 23:22 Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. AS ONS GEHOORSAAM IS, SAL HY VIR ONS STRY.

Lev 26:44 Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en verag Ek hulle nie, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is Yahweh hulle Elohiem. AL IS DIE STRYD HOE VEL, YAHWEH ONTHOU ALTYD SY VERBOND.

1 Sam 2:1 Toe het Gannah gebid en gesê: My hart jubel in Yahweh, my horing is hoog in Yahweh; my mond is wyd oop oor my vyande, want ek verheug my in u verlossing. AL HET ONS HOEVEEL VYANDE, ONS KAN ONS VERHEUG EN BLY WEES OOR SY VERLOSSING.

Ps 41:11 Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het: dat my vyand oor my nie juig nie. YAHWEH SE LIEFDE WAARBORG DAT ONS VYAND NIE DIE OORHAND KRY NIE.

Ps 61:3 Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand. YAHWEH (EN SY NAAM) IS ʼn STERK TORING TEEN DIE VYAND.

Ps 119:98 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. ONS HET DIE OORHAND OOR ONS VYANDE VANWEË DIE INSIG VAN YAHWEH SE TORAH.

Jes 29:5 Maar die skare van jou vyande sal word soos dun stof, en die skare van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal totaal onverwags gebeur. YAHWEH IS IN STAAT OM ONVERWAGS ONS VYANDE SOOS FYN STOF UIT TE DUN.

Jer 1:19 En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, sê Yahweh, om jou uit te red. AS HY VIR ONS IS, SAL DIE VYAND ONS NIE OORWIN NIE.

Miga 7:8 Wees nie bly oor my nie, o my vyand! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, Yahweh is ‘n lig vir my. AL LAAT DIE VYAND ONS VAL, BLY YAHWEH ONS HULP EN ONS LIG.

Luk 19:43-44 Want daar sal dae kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter. DAAR SAL BESLIS DAE KOM DAT DIE VYAND JOU SAL OMSINGEL EN PROBEER VERNIETIG.

Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. AL LY ONS HOE SWAAR EN ERVAAR SELFS VERDRUKKING, WEET ONS Y’SHUA HET DIE WÊRELD OORWIN.

1 Kor 15:26 DIE LAASTE VYAND WAT VERNIETIG WORD, IS DIE DOOD.

Efes 4:27-30 en gee aan die duiwel geen plek nie … En bedroef nie die Afgesonderde Gees van Elohiem nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. WANNEER ONS AAN YAHWEH SE WOORD ONGEHOORSAAM IS, GEE ONS PLEK AAN DIE DUIWEL EN STEL SO ONS VERLOSSING IN GEVAAR.

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan Elohiem; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. ONDERWERPING AAN ELOHIEM EN WEERSTAND TEEN DIE DUIWEL IS SOOS TWEE KANTE VAN DIESELFDE MUNTSTUK.

1 Pet 5:7-8 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. ONS BEHOORT DIE TWEEDE DEEL VAN DIE OPDRAG NA TE KOM, SONDER OM DIE EERSTE DEEL NA TE LAAT!