Waarom Yahweh en nie Yahuwah nie?

ZM, Hluhluwe

Na alles wat ek getik het, besef ek dat wat ek eintlik meer inligting oor wil hê is die volgende …..”die klemtoon in die uitspraak v Naam vd Vader id laaste deel vd woord lê…..” En die res vd paragraaf (in die Inleiding tot Woord en Getuienis). Maw hoekom julle Yahweh verkies bo Yahuwah….

KOMMENTAAR

As ek net kortliks kan antwoord op jou vraag oor die uitspraak van die Naam: Ons het omtrent 15 jaar gelede al die betekenis van die Naam ontdek en oor die jare baie studie en navorsing hieroor gedoen en ook met ‘n groot verskeidenheid van standpunte te make gekry oor die sogenaamde “korrekte” uitspraak van die Naam – sommiges hiervan baie eksklusief en rigied (“As jy nie die Naam op so-en-so manier uitspreek nie, kan jy nie gered word nie!”) en ander meer verdraagsaam en selfs meer wetenskaplik. Die slotsom waartoe ek uiteindelik gekom het is dat dit baie moeilik is om vandag, meer as 5000 jaar nadat ons die eerste rekord het van mense wat hierdie Naam aangeroep het, presies te rekonstrueer hoe hierdie Naam so lank gelede uitgespreek is. Taal is nie staties nie en ondergaan normaalweg baie veranderinge, met verloop van tyd en, behalwe dit, is dit vir ons as Afrikaans- en Engelssprekendes byna ontmoontlik om sekere Hebreeuse woorde presies “reg” uit te spreek. In die meer wetenskaplike benadering tot die Skrif en die tale waarin die Skrif aan ons oorgelewer is, is daar ‘n redelike konsensus oor die uitspraak wat (benaderd) as “Yahweh” weergegee kan word, asook baie vroeë bewyse dat die naam ongeveer 2000 gelede (naastenby) só uitgespreek is. Ons het dus die keuse gemaak om by hierdie uitspraak te hou en dit nie te verruil vir ‘n ander uitspraak wat dalk, oor ‘n jaar of vyf, weer as “foutief” bestempel mag word nie. Ek hoop dat dit vir jou meer duidelikheid oor ons standpunt in hierdie verband sal gee.