IN DIE GREEP VAN KERSFEES

alternate textHierdie tyd van die jaar word absoluut oorheers deur ‘n geruis en ‘n gegons en ‘n geskarrel oor Kersfees. Verwagtings word daaroor by kinders geskep, vakansies en familiesaamtrekke word daar rondom beplan, radio en televisie programme word daaroor opgestel, sang en musiek word daarby aangepas, kettingwinkels en winsjagters word daardeur bevoordeel en meeste Messiaanse gelowiges word daardeur geïrriteer. Of ons dit nou wil weet of nie: Ons is almal in die greep van Kersfees en daar is nie veel wat ons kan doen om dit te vermy nie.

Om alles te kroon het die hele wêreld boonop die afgelope week of wat asem opgehou in afwagting op die aanbreek van 21 Desember 2012 – die dag wat een of ander stokou kalender as die einde van die wêreld aangedui het. In die plaaslike koerantjie van Sedgefield, waar ons die afgelope week ‘n bietjie gekuier het, het die redakteur tong in die kies geskryf dat hy voor ‘n baie moeilike keuse te staan gekom het. Moet hy sy Kersfees inkopies voor die 21 ste Desember doen of daarná? As hy dit voor die tyd doen, kan hy al sy geld spandeer en selfs op skuld koop, want niks is beter vir ‘n negatiewe bankbalans as die aanbreek van die einde van die wêreld nie. Maar hoe kan hy seker wees? Sê nou net dit is na alles NIE die einde van die wêreld nie. Hoe maak hy dán om sy skuld terug te betaal? Dan is dit dalk beter om te wag tot die 22 ste of die 23 ste van die maand voor hy sy inkopies doen en moet sy mense maar met goedkoper geskenkies tevrede wees. Dis nou te sê as almal nog hier is teen die tyd dat die geskenke uitgedeel moet word!

So lees ek ‘n artikel wat iemand onlangs oor Kersfees geskryf het en die kommentaar daarop deur mense van reg oor die wêreld. Een persoon met die naam Rose het haar kommentaar gister ingestuur, dit wil sê op die 21 ste Desember 2012 en sy sluit af met die volgende: 12-21-2012 and still goin’ strong. Miskien is daar baie mense wat ná gister ‘n sug van verligting slaak en vandag wil sê: “22 nd of December 2012 and still goin’ strong”. Te minste is één van die twee dinge wat mense hierdie maand in ‘n ystergreep gehad het, nou agter die rug! Nou is dit nog net die groot “K” wat voorlê …

In die einste artikel waarop Rose kommentaar gelewer het, geskryf deur een of ander geleerde teoloog van Australië, word ‘n klompie interessante dinge oor Kersfees gesê. Onder andere dat die “vroeë kerkvaders” die 25 ste Desember as die Messias se geboortedag beskou het omdat hulle graag wou glo dat die konsepsie wat gelei het tot sy geboorte, en sy dood, op dieselfde dag van die jaar plaasgevind het. As mens vanaf 25 Desember nege maande terug beweeg kom jy uit by ‘n dag teen die einde van Maart, begin April wat, volgens die kerkvaders, die dag van Pesag kon gewees het – die dag waarop die Messias ongeveer dertig jaar later gesterf het.

Daar is natuurlik geen aanduiding in die Skrif dat daar só ‘n verband tussen die dag van konsepsie en die die dag van dood, in die geval van die Messias bestaan nie. Een van die persone wat kommentaar gelewer het op die artikel, het daarop gewys dat dit meer sin sou maak as die dag van die Messias se geboorte (nie die dag van konsepsie nie) op dieselfde dag as die dag van sy dood plaasgevind het. As motivering het hy ‘n aanhaling uit die Talmud gegee: “The Almighty fills the righteous’s years from month to month and from day to day” – Meaning that the righteous die on the date they were born on.” Maar selfs hierdie argument het geen grond om op te staan as mens dit met die gegewens in die Skrif vergelyk nie. Feite is dat die Skrif nie die geboorte van die Messias aan ‘n spesifieke dag verbind nie en ook geen opdrag gee dat sy geboortedag as afsonderlike fees gehou moet word nie.

Ons het vroeër daarop gewys dat feitlik die hele wêreld in die greep van Kersfees is en dat daar nie veel gedoen kan word om aan die kloue van hierdie greep te ontkom nie. Daar is egter iets wat ons kan doen en wat ons behoort te doen, as ons aan die Skrif getrou wil bly. Ons behoort die breë riglyne van die Skrif wat op Kersfees van toepassing is, ernstig op te neem en ‘n vaste standpunt hieroor in te neem in ‘n wêreld wat glad nie baie gretig is om van sy “merrie krismis” tradisies afstand te doen nie. Wat is die duidelike riglyne van die Skrif in hierdie verband?
1.Volgelinge van Yahweh mag NIKS met afgodediens te make hê nie. 1 Kor 10:14 Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens. Selfs die mees geswore ondersteuners van Kersfees moet erken dat nie net die datum van 25 Desember nie, maar ook tradisies soos die kersboom, sinterklaas en die gee van geskenke, deurtrek is van heidense elemente en voorheen pens en pootjies déél van afgodediens was. Waarom moet die Messias se geboorte daaraan gekoppel word?

2.Volgelinge van Yahweh besef dat daar nie iets rein uit iets onrein na vore kan kom nie en dat daar duidelik tussen rein en onrein onderskei moet word. Job 14:4 Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie! Lev 10:10 en julle moet onderskeid maak tussen wat afgesonder en wat onafgesonderd, en tussen wat onrein en wat rein is. Telkens wanneer hierdie onderskeid uitgewis word of vervaag, lei dit tot sonde, smart en ellende.

3.Volgelinge van Yahweh weet dat die Skrif geen opdrag gee dat ons die Messias se geboorte moet onthou nie – wel ‘n duidelike opdrag dat ons sy dood moet onthou. Luk 22:19 Daarna neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit as herinnering aan my. Die viering van geboortedae speel geen groot rol in die Skrif nie en die enkele kere dat dit wel genoem word, loop dit uit op ‘n fiasko (in Gen 40 word die bakker doodgemaak, in Job 1 word Job se familie uitgewis, in Matteus 14 word Johannes die Doper onthoof).

4.Volgelinge van Yahweh maak erns met daardie feeste wat in die Skrif “die feestye van Yahweh” genoem word. Lev 23:4 Dit is die feestye van Yahweh, die afgesonderde byeenkomste wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. 2 Kron 2:4 … op die Shabbatte en op die nuwemane en op die feestye van Yahweh onse Elohiem – ‘n ewige verpligting op Yiesraél. Hulle wat die feestye van Yahweh in alle erns onderhou het geen begeerte (en ook nie regtig die tyd) om hulle met mensgemaakte en ander, tradisie-belaaide feeste op te hou nie.

5.Volgelinge van Yahweh distansieer hulle nie van die volk van Yahweh en van die opdragte en riglyne wat hulle ontvang het nie. Rom 11:17-18 En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. Die Messias en sy direkte volgelinge het nie ‘n afsonderlike (nie-Joodse) geloof met tradisies losstaande van die gebruike van Israel tot stand gebring nie.

6.Volgelinge van Yahweh behoort nie mee te doen aan ‘n fees wat ontaard het in ‘n verskoning vir uitbuiting, materialisme, selfsugtige begeertes en dronkenskap nie. 1 Tim 6:10-11 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van Elohiem, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, ware toewyding, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Maak nie saak hoe edel ‘n mens se motiewe is nie – die negatiewe kant van kersfees is ‘n realiteit en elke man (en vrou) van Elohiem behoort daarvan weg te vlug.

7.Volgelinge van Yahweh hou nie hulle eie “opregte” hart voor as ‘n verskoning om dinge te doen wat nie klop met die Vader se hart nie. Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? In plaas daarvan om gedurig te sê “Die Vader ken my hart”, moet ons vir onsself meer en meer die vraag afvra: “Ken ek die Vader se hart en wat doen ek om sy hart beter te leer ken?”