WEES STERK EN VOL MOED

alternate textHierdie week se voorgestelde Torah lesing bestaan slegs uit Deuteronomium (Devariem) 31 en dis nie moeilik om die sentrale tema in hierdie hoofstuk te identifiseer nie: Wees sterk en vol moed, want Yahweh sal met jou wees. In die hele Skrif tref ons die oproep “Wees sterk” of “Wees sterk en vol moed” altesaam 22 keer aan. In die boek Deuteronomium kom dit drie maal voor en al drie hierdie verse is in Deuteronomium 31 (vers 6, 7 en 23) – plus ‘n vierde keer wat basies dieselfde boodskap oordra: “Jy mag nie bevrees of verskrik wees nie” (v8). In hierdie selfde hoofstuk is daar boonop ‘n verdere aspek wat baie opvallend is: Die belofte van Yahweh dat Hy met sy volk sal wees, dat Hy voor hulle uit sal trek, dat Hy hulle nie sal verlaat nie en dat Hy vir hulle die oorwinning sal gee, kom nie minder nie as 10 keer in hierdie hoofstuk voor (‘n hoofstuk wat net uit 30 verse bestaan)!

Hy trek voor jou oor (v3);
Hy sal die nasies voor jou uit vernietig (v3)
Yahweh sal hulle aan julle oorgee (v5)
Yahweh sal saam met jou trek (v6)
Hy sal jou nie begewe of verlaat nie (v6)
Dit is Yahweh wat voor jou uit trek (v8)
Hy sal met jou wees (v8)
Hy sal jou nie begewe of verlaat nie (v8)
Ek sal hulle inbring (v20)
Ek sal met jou wees (23)

Die ironie is dat, ten spyte van hierdie 10 kragtige beloftes en die 4 oproepe van bemoediging (om sterk te wees en vol moed te wees en nie bevrees te wees nie), beide Yahweh en Mosheh in hierdie hoofstuk voorspel dat die volk hulle rug sal draai op die Een wat vir hulle hierdie beloftes gee en hulle só bemoedig – en dat hulle sal afwyk van sy weë:

Toe sê Yahweh vir Mosheh: Hierdie volk sal opstaan, en hulle sal met die vreemde magtiges van die land hoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het (v16).
Hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander magtiges en hulle dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek (v20).
Want ek ken julle rebelsheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, rebels was teen Yahweh – hoeveel te meer dan na my dood! (v27)

Ons het die voordeel van tydsverloop sodat ons vandag kan terugkyk op die geskiedenis om te sien of dit wat beide Yahweh en Mosheh in Deuteronomium 31 voorspel het, toe werklik gebeur het. En dis duidelik dat dit dubbel en dwars gebeur het! Die volk hét toe agter ander magtiges aan gehoereer. Keer op keer het hulle Yahweh verlaat. Male sonder tal het hulle die verbond verbreek en Yahweh se gebooie verontagsaam. Hulle het hulle getroue Bemoediger verag. So gereeld soos klokslag het hulle weggeskram van die Een wat belofte na belofte tientalle kere herhaal het. Selfs toe dit duidelik geword het dat Hy elke enkele belofte gehou het en hulle vyande voor hulle uit verdryf het en al hulle vrese besweer het en wonderwerke voor hulle oë gedoen het, kon hulle nie die versoeking weerstaan om ‘n ander koers te kies en Yahweh se woorde te verwerp nie.

In die Skrif word die begrip “moed” (in die uitdrukking “wees sterk en vol moed”) dikwels met die woord “hart” in verband gebring. Die Engelse woord “courage” is afgelei van die Latynse woord “cor” wat “hart” beteken. Iemand wat moed verloor word dikwels beskryf as iemand wat sy hart op een of ander manier verloor. Toe Josef se broers van Egipte af moes vertrek om vir Benjamin te gaan haal, het hulle ontdek dat iemand geld in hulle sakke gesit het (hulle het nie geweet dat Josef dit gereël het nie). Gen 42:28 sê dat hulle harte hulle “verlaat” het toe hulle dit agtergekom het. In 1 Sam 17:32 sê Dawid vir Saul dat die soldate se harte tog nie moet “sink” of “neerdaal” as gevolg van die verskrikking van Goliat nie. In Jeremia 4:9 praat die profeet oor die toekomstige Dag van Yahweh en sê hy onder meer dat die hart van die koning en die hart van die heersers sal “vergaan”, en dat die priesters verskrik sal wees en die profete verstom sal staan. In Esegiël 21:4-7 word daar onder meer verwys na die tyd wanneer Yahweh se swaard uit sy skede sal uitgaan teen alle vlees, van die suide tot die noorde. In hierdie tyd, sê die profeet, sal elke hart “versmelt”, en al die hande sal slap word en elke gees sal verstomp en al die knieë sal wegvloei soos water.

Elkeen van ons kan identifiseer met wat hier oor die mens se hart gesê word. Wie van ons was nie al in situasies waar dit letterlik gevoel het of ons hart ons verlaat het nie? Veral wanneer die een of ander terugslag ons getref het of slegte tyding oor ons pad gekom het. Wie van ons het nie al soos die soldate wat voor Goliat te staan gekom het, gevoel dat ons harte tot in ons skoene sink nie? ‘n Taak wat soos ‘n berg voor ons staan. ‘n Verhouding wat onberekenbare skade gely het. ‘n Familielid wat ons diep bedroef het. ‘n Finansiële terugslag wat die potensiaal het om ons te ruïneer. ‘n Fout wat ons gemaak het wat katastrofiese gevolge het. In ons daaglikse handel en wandel het ons almal te make met situasies waarin dit vir ons voel of ons harte wegkwyn, vergaan en versmelt.

Daar is ‘n egter ‘n aspek van ons harte wat ons maklik uit die oog kan verloor en waaraan die Skrif ons op meer as een plek herinner. En dit is die feit dat ons harte nie so sterk en so suiwer is as wat ons dink nie. Jeremia 17:9 stel dit onomwonde: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe (The Scriptures: “desperately sick”) is dit; wie kan dit ken?” Hierdie waarheid word elders in die Skrif bevestig: Jer 16:12 “Kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie.” Gen 6:5 “Toe sien Yahweh dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, voortdurend net sleg was.” Gen 8:21 “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.” Spr 28:26 “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” Mar 7:21 “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed en dwaasheid.”

Dit is in die lig van bogenoemde dat ons ‘n vers soos Spreuke 3:5 baie, baie ernstig moet opneem: “Vertrou op Yahweh met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Een van doe grootste lesse wat ons moet leer as ons Yahweh se pad wil stap, is dat ons Yahweh moet vertrou. Ons moet op sy woorde ag slaan, nie op die woorde van mense wat ons probeer wysmaak dat sy woorde iets anders sê as wat dit sê nie. Ons moet leer om na Yahweh se hart te luister, nie na ons eie harte nie. Ons eie harte en ons eie idees en ons eie insigte gaan ons op ‘n dwaalspoor bring. Die Skrif sê dit onomwonde. Mag ons dan nie ons eie idees hê nie? Mag ons dan nie dinge hê waaroor ons sterk voel en sterk standpunt inneem nie? Natuurlik mag ons. Maar ons moet ons idees by Yahweh en by sy Woord kry. Ons moet ons idees kry op daardie plek waar ons tyd maak en moeite doen om Yahweh se hart te leer ken. Hy het belowe dat hy sy wette in ons verstand sal inprent en dit op ons harte sal skryf. Ons moet ons idees en opinies vorm wanneer ons na Y’shua kyk en die voorbeeld wat Hy nagelaat het, in die wete dat Hy met sy hele hart op Yahweh vertrou het en die hart van sy Vader geken het en dit wat Hy van sy Vader se hart geken het aan andere probeer oordra het.

Nou kan ons verstaan waarom Mosheh só klem daarop gelê het dat die volk sterk en vol moed moes wees. Sodat hulle harte altyd na Yahweh sou neig en sou smag en sodat hulle harte nooit van Hom sou afwyk nie. Die praktyk skets egter vir ons ‘n ander prentjie. Hulle harte HET van Hom af weggedraai. Sonde en rebelsheid en afsydigheid het die oorhand gekry. Net soos wat dit dikwels met elkeen van ons ook gebeur. Bekering en vergifnis en versoening het ‘n absolute noodsaaklikheid geword. Yom Kippur kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie. Ons harte het nodig om aangeraak en genees te word. Dis onmoontlik om vol moed te wees as ons ‘n kwaal van rebelsheid en ongehoorsaamheid in ons harte het. Dis onmoontlik om sterk te wees as ons harte vertroebel is deur sonde en mislei is deur die valsheid van hierdie wêreld. Kom ons gebruik hierdie klompie dae tot by Yom Kippur om ons harte opnuut te spieël aan die Woord en aan die instruksies van die Een wat ons harte beter as enige iemand anders ken. Kom ons skeur ons harte, as dit nodig is, en bekeer ons opnuut weer tot Yahweh ons Elohiem (Joël 2:13a). Onthou: Hy is goedgunstig en barmhartig, stadig om kwaad te word en groot van goedertierenheid (Joël 2:13b). En kom ons gryp in die geloof opnuut na sy Seun, Y’shua – Hy is die groot Priester wat oor die huis van Elohiem aangestel is – ons kan tot Yahweh toetree met ‘n waaragtige hart en met volle geloofsekerheid, as ons harte deur sy Seun gereinig is van ‘n slegte gewete en ons liggame gewas is met rein water (Heb 10:21-22).