Die Parashah van hierdie week (Num 16-18) gaan daaroor dat Korag, Datan en Avieram (en 250 ander) na vore gekom het om die outoriteit van die priesters wat Yahweh aangewys het, te bevraagteken. Korag was nie tevrede daarmee dat Aharon die priester mag wees, maar dat hy as ‘n Leviet, nie die rol van ‘n priester mag inneem nie. Met die gebeure wat daarop gevolg het – die aarde wat byna letterlik die rebelle en hulle families ingesluk het; die vuur wat die 250 verteer het; die plaag wat ‘n verdere 14700 van die ontevredenes gedood het en die staf van Aharon wat uitgebot het om te bevestig dat hy die een is wat deur Yahweh as priester aangestel is – het die boodskap baie duidelik deurgekom: Yahweh is die soewereine Koning en aan sy bevoegdheid en outoriteit behoort ons vir geen oomblik te twyfel nie! Aan die een kant kan ‘n mens daarteen protesteer en sê: Maar hoekom laat Hy toe dat slegte dinge met sy volgelinge gebeur? Hoekom lyk dit asof sommiges voorgetrek word? Hoekom gebruik Hy metodes wat ‘n mens soms glad nie kan verstaan nie? Of, aan die ander kant, kan ‘n mens uit jou hart uit dankie sê vir die feit (1) dat hierdie Koning absoluut regverdig is, maar ook vol van medelye en goedhartigheid, (2) dat hierdie Koning, anders as alle aardse konings en leiers, ons nie na die uiterlike nie, maar na die innerlike beoordeel, en (3) dat hierdie Koning, ook anders as ander konings, in die woorde van Psalm 10:16, Koning vir ewig en altyd is. Wat beteken dit as ons Hom as ons Koning erken?
Volgens 1 Sam 12 (die bykomende lesing vir hierdie week) beteken dit veral drie dinge: Dat ons Hom sal vrees en sal eer, dat ons na sy woorde sal luister en dat ons Hom sal dien deur te doen wat Hy sê. Maak nie saak of ons self ‘n volgeling of ‘n leier is nie. Dit is presies wat Shemuél vir die volk gesê het toe Shaúl as eerste koning oor die volk aangestel is: 1 Sam 12:14 “As julle maar Yahweh vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie rebels is teen die mond van Yahweh nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, Yahweh julle Elohiem maar volg!” Soms sê mense hulle wil die Vader eer, maar hulle maak nogtans nie erns met al sy woorde nie. Die vraag is: Bedoel hulle dit as hulle sê Yahweh is hulle Koning? Soms sê mense hulle hoor (gereeld) sy stem, maar dan doen hulle nog steeds nie wat hy sê nie. Dalk moet ons eers oefen om te doen wat Yahweh duidelik en ondubbelsinnig in sy Woord vir ons sê (sonder om te wag vir hoorbare stemme of nagtelike visioene), en dit aan ons Koning oorlaat om, soos Hy wil, op ander tye, dalk totaal onverwags, ook met ons te praat – hetsy dit hoorbaar of onhoorbaar is. Daar is in elk geval ‘n groot misverstand daarbuite oor wat dit beteken as die Skrif sê mense het na die stem van Yahweh geluister. As ‘n mens al die gedeeltes bestudeer, vind jy uit dat in verreweg die meeste gevalle in die Skrif verwys die woorde “luister na sy stem” NIE na die hoorbare stem van Yahweh nie, maar na sy woorde wat VOORHEEN uitgespreek is en wat opgeteken is en wat van een geslag na ‘n ander geslag oorgedra is.
Om Yahweh as Koning te erken, volgens Psalm 29, beteken dat ‘n mens kan staatmaak daarop dat Hy vir jou sterkte gee en dat Hy vir jou seën met vrede. Ps 29:10-11 “Yahweh sit as Koning tot in ewigheid. Hy sal vir sy volk sterkte gee, Yahweh sal sy volk seën met vrede.” Om Hom as Koning te hê beteken NIE dat alles altyd reg sal verloop nie. Dit beteken nie dat geen krisis jou sal tref nie. Of dat jy nooit benoud en beangs en verward en selfs in pyn sal wees nie. Maar midde-in dit alles kan jy weet jy het ‘n Koning wat belowe het dat Hy sterkte en vrede sal gee. Al twee hierdie dinge werk binne-in ‘n mens – dis nie in die eerste plek iets wat met jou omstandighede te make het, maar met jou kapasiteit om jou omstandighede te bowe te kom, en ongeskonde, en selfs ‘n beter mens, aan die ander kant uit te kom. Dis dieselfde soort kapasiteit waarvan Jes 40:29 praat: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” Om so ‘n Koning te hê is ver beter as een wat vir jou rykdom en sukses en gesondheid belowe, maar wat niks kan doen aan jou binnekant – daar waar die kwaliteit van jou lewe ten diepste gevorm word nie.
Om Yahweh as Koning te erken, beteken dat jy nou Iemand het wat met jou teenstanders sal afreken. Ps 44:4-6 “U self is my Koning, o Elohiem! Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan. Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie.” Die sleutel hier is dat ons ons Koning moet VERTROU om vir ons die oorwinning oor ons vyande te gee. Van nature is ons geneig om ons vyande met menslike metodes te probeer oorrompel – met ‘n pyl en boog in die een hand, ‘n swaard in die ander en ‘n hele klomp ander wapens wat ons in ons rugsakke ingepak het of in ons wapen-arsenaal gaan wegbêre het – gereed om dit enige oomblik te gebruik. Wapens soos aggressie en weerwraak en beledigings en geskinder en onttrekking en ‘n hele string ander bedenklike metodes waarmee ons hoop om van ons vyande ontslae te raak. Laat ons egter nooit vergeet nie: Dis net deur Yahweh dat ons ons teenstanders kan omstoot. Dis net in sy Naam dat ons ons vyand kan vertrap. Wat beteken “in sy Naam”? Dit beteken ‘n paar dinge. Eerstens, staan terug en roep sy Naam oor die situasie uit en sê vir Hom: Yahweh, doen asseblief wat U belowe het. Tweedens, moenie metodes gebruik wat nie sy Naam waardig is nie. Tree op binne die raamwerk van sy geregtigheid en sy goedgunstigheid. Moenie volgens die skema en die patroon van hierdie wêreld te werk gaan nie – sodoende sal ons vurige kole op hulle hoofde plaas – “As jou vyand honger het, gee hom iets, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop” (Rom 12:20).
Om Yahweh as Koning te erken, beteken om twee, groot sekuriteite in jou lewe te hê – sy huis en sy gebaande weë. Ps 84:3-5 “Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, Yahweh van die leërskare, my Koning en my Elohiem! Geseënd is hulle wat woon in u huis … Geseënd is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.” Yahweh se huis, in ons konteks vandag, is die plek waar mense saamkom en hulle geborgenheid (die swaweltjie en haar kleintjies!) daarin vind om hulle geestelike offers voor Yahweh te bring (u altare!) en sy Naam saam aan te roep (Yahweh, my Koning en my Elohiem). As ons dit nie het nie, ontbeer ons die grootste enkele sekuriteit wat Yahweh vir sy volgelinge bedoel het. Let daarop dat daar in Hebreeus ‘n grammatikale verband tussen “huis-(H)bayiet”, “bou-(H)bana”, “steen/hoeksteen-(H)even”, “seun-(H)ben” en “dogter-(H)bat” bestaan. Yahweh se gebaande weë, sy Woord, die beginsels van sy Woord en daardie waarhede van sy Woord wat sommiges oor die eeue heen eenkant toe geskuif het, is die volgende groot sekuriteit wat ons Koning vir ons gegee het. As ons dit nie het nie, sal ons onbestendig in al ons weë wees (Jak 1:8), alewig hink op twee gedagtes (1 Kon 18:21), soos onnosele duiwe sonder verstand rondfladder (Hos 7:11), soos mense wees wat hulle met wind besig hou (Hos 12:1); soos mense wat hulle buik met die oostewind vul (Job 15:2); onvaste siele wees wat maklik verlok word (2 Pet 2:14); deur golwe omgedop word (Efes 4:14), mense wie se sinne bedorwe geraak het (2 Kor 11:3), maklik ons verstand verloor en verskrik word (2 Tes 2:2); deur holruggeryde en oudwyfse fabels van stryk af gebring word (1 Tim 4:7); onbetroubaar ten opsigte van die geloof wees (2 Tim 3:8), rondgeslinger word deur vreemde leringe (Heb 3:9) en allerlei verderflikhede navolg (2 Pet 2:2). Yahweh, wat vir ewig Koning is, is die enigste Een wat ons van só ‘n leefstyl kan verlos!
Die feit dat Joh 19 as Messiaanse gedeelte saam met die Parashah van hierdie week ingedeel word, is baie insiggewend. In Joh 18 en 19 alleen kom die woord “koning” 12 keer voor en meeste van die kere het die omstanders hierdie titel op ‘n sarkastiese manier gebruik om Y’shua tydens daardie paar uitmergelende ure voor sy dood mee te koggel. “Is U die koning van die Yehudiem?” (18:33); “Is u dan tog ‘n koning?” (18:37); “Wees gegroet, Koning van die Yehudiem!” (19:3); “Toe sê hy vir die Yehudiem: Daar is julle Koning!” (19:14); “Moet ek julle Koning laat sterf aan ‘n folterpaal?” (19:15); ensovoorts. Wat so te sê niemand in hierdie twee hoofstukke besef het nie, is dat daar minstens twee profesieë was wat direk op die gebeure van daardie dag van toepassing was: Sag 9:9 “Verheug jou oorvloediglik, o dogter van Tsion! Juig, o dogter van Yerushalayiem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin” en Ps 110:1-2 “Yahweh het vir my (Dawid se) meester gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete. U magtige septer sal Yahweh uitstrek uit Tsion en sê: Heers te midde van u vyande.” Enkele dae tevore het Y’shua letterlik op die rug van ‘n jong esel Jerusalem binne gery. En enkele weke hierna sou Hy letterlik sy plek gaan inneem aan die regterhand van Yahweh, as Koning wat deur Yahweh self gesalf en bemagtig is, om die aanvoorwerk te doen vir die aanbreek van die ewige koninkryk wat Yahweh van die grondlegging van die wêreld af in posisie gestel het. In die tussentyd is ons teen wil en dank nog deel van die koninkryk(e) van die wêreld. Maar die belangrikste van alles is: Ons oog is gerig op die ewige Koning en ons kan nie wag vir die aanbreek van daardie dag wanneer die koninkryk van die wêreld die eiendom van ons Meester sal word en van sy Messias, en wanneer Hy as Koning sal heers tot in alle ewigheid (Opb 11:15).