WAAR IS DIE WOORD VAN YAHWEH?

alternate text‘n Vraag-en-antwoord ondersoek aan die hand van Jer 16:19 tot Jer 17:14, wat saamgelees word met Parashot “Behar” en “Bechukotai” (Lev 25:1 – 27:34).
Jer 16:19 – 17:14 word van weerskante af “ingesluit” deur twee pertinente verwysings na die Woord van Yahweh: Jer 16:1 (“Die woord van Yahweh het tot my gekom en gesê…”) en Jer 17:15 (“Daar sê hulle vir my: Waar is die woord van Yahweh? Laat dit tog kom!”). Hierdie laaste vraag “Waar is die Woord van Yahweh?” is die vertrekpunt vir 23 verdere vrae wat hieronder min of meer in alfabetiese volgorde weergegee word:

Jer 16:19 O Yahweh, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid.
AAN WIE HOU EK VAS IN MY DAG VAN BENOUDHEID?
Jer 16:19 Tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom.
BY HOEVEEL ONNODIGE PLEKKE GAAN EK NOG SOEK VIR ANTWOORDE?
Jer 16:19 Net leuens het ons vaders geërf, nietige afgode … niks wat voordeel kon bring nie.
DEUR WATTER LEUENS PROBEER EK TEVERGEEFS OM VOORDEEL TE TREK?
Jer 16:20 Sal ‘n mens vir hom afgode maak wat tog geen magtiges is nie?
EER EK DALK DINGE IN MY LEWE WAT NOOIT YAHWEH SE PLEK KAN INNEEM NIE?
Jer 16:21 Hulle sal weet dat my Naam Yahweh is.
FLUISTER EK NOG DIE NAAM WAT LATER DEUR ALMAL ERKEN GAAN WORD?
Jer 17:1 Die sonde van Yehudah is … gegrif op die tafel van hulle hart.
GRAVEER EK DINGE OP MY HART WAT DIE GEES VAN YAHWEH BEDROEF?
Jer 17:2 Hulle altare (is) afgesonderde boomstamme, groen bome, en hoë heuwels.
HOU EK VAS AAN ASPEKTE VAN DIE SKEPPING, TEN KOSTE VAN DIE SKEPPER?
Jer 17:3 My berg (en my) veld (het jy gemaak tot) jou rykdom, jou skatte en jou grondgebied.
IDENTIFISEER EK DIE SEËN EN GAWES EN VOORSIENING VAN YAHWEH IN MY LEWE?
Jer 17:4 Jy sal uitval – en dit deur jouself – uit jou erfenis wat Ek jou gegee het.
JAAG EK MET ALLES WAT IN MY IS, DIE GROOT ERFENIS NA WAT EK ONTVANG HET?
Jer 17:5 Vervloek is die een wie se hart van Yahweh afwyk.
KAN EK BEKOSTIG DAT MY HART IN IETS BUITEN YAHWEH VERSTRENGEL RAAK?
Jer 17:6 Hy sal nie sien as die goeie kom nie.
LEWE EK SOOS EEN WIE SE OOG GEOEFEN IS OM DIE GOEIE TE SIEN AS DIT KOM?

Jer 17:7 Geseënd is die man wat op Yahweh vertrou, en wie se vertroue Yahweh is.
MEET EK MY SEËN AAN VERTROUE OF AANSKOUE?

Jer 17:8 Hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en daar sy wortels uitskiet.
NABY WATTER LEWENSBRON IS DIE BOOM VAN MY LEWE GEPLANT?
Jer 17:8 Hy sal nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen.
OP WATTER MANIER REAGEER EK AS DINGE WARM EN ONGEMAKLIK WORD?
Jer 17:8 In ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.
PLA DIT MY DAT EK IN TYE VAN SWAARKRY SOMS OPHOU OM VRUG TE DRA?
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
REGVERDIG EK MY VERKEERDE OPTREDE DEUR MY EIE HART TE VERTROU?
Jer 17:10 Ek, Yahweh, deursoek die hart en toets die niere.
SKAAM EK MY OOR DINGE IN MY EIE HART WAT NIE VIR YAHWEH VERBORGE IS NIE?
Jer 17:11 Moenie soos ‘n voël wees wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het nie.
SPEEL GIERIGHEID EN MATERIALISME ‘N TE GROOT ROL IN MY LEWE?
Jer 17:12 ‘n Troon van grootheid, verhewe van die begin af, is ons afgesonderde plek.
TWYFEL EK ENIGSINS AAN DIE GROOTHEID EN VERHEWENDHEID VAN YAHWEH?
Jer 17:13 o Yahweh, Verwagting van Yiesraél! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan
UIT WATTER ELLENDES HET DIE VERWAGTING VAN ISRAEL MY NIE AL GERED NIE?
Jer 17:13 Hulle wat Yahweh, die fontein van lewende water, verlaat, sal tot niet gaan.
VAN WANNEER AF WEET EK DAT HY DIE FONTEIN VAN LEWENDE WATER IS?
Jer 17:14 Maak my gesond, Yahweh, dan sal ek gesond word.
WATTER DEEL VAN MY LEWE HET DIE GENESENDE AANRAKING VAN YAHWEH NODIG?
Jer 17:14 Verlos my, Yahweh, dan sal ek verlos word; want U is my lof.
YWER EK DAAGLIKS VIR HOM WAT MY KAN RED EN WAT AL MY LOF VERDIEN?