DIE SKRIFTUURLIKE BESKOUING VAN DIE DOOD

Alhoewel ons manier van dink oor die dood waarskynlik nie ons ewige bestemming gaan beïnvloed nie, is daar weliswaar ook rondom hierdie onderwerp groot hoeveelhede "suurdeeg" wat oor eeue heen die kerk binnegedring het en grootskaalse misleiding en verwarring tot gevolg gehad het. Indiwidue en families wat met die dood van 'n geliefde gekonfronteer word, word dikwels onverwags in 'n situasie gedompel waar hulle met talle vrae rondom die dood worstel en tot hulle verbasing uitvind dat die clichés en trooswoorde van hulle vriende nie klop met die uitsprake van die Skrif nie. Daar is baie aspekte wat 'n mens in die algemeen by die onderwerp "dood" kan insluit, maar ons wil ons hier beperk tot slegs een belangrike aspek, nl. die vraag "Wat gebeur volgens die Skrif met 'n gelowige wat gesterf het?"

Die verse in die Skrif wat oënskynlik 'n antwoord op hierdie vraag bied, kan in twee kategorieë verdeel word: (1) Die wat daarop dui dat gelowiges wat sterf onmiddellik (sonder hulle liggame) hemel toe gaan, en (2) Die wat daarop dui dat almal wat sterf (ook gelowiges) in 'n toestand van slaap verkeer tot met die opstanding. Dit is duidelik dat slegs een van hierdie twee moontlikhede reg kan wees en slegs 'n eerlike studie van die Skrif in sy geheel sal aandui watter standpunt die waarheid verteenwoordig.

Kom ons kyk eers na daardie gedeeltes wat lyk of dit die standpunt van die "onsterflikheid van die siel" ondersteun, met ander woorde Skrifgedeeltes wat aanduidings bevat dat gelowiges wat sterf, onmiddellik hemel toe gaan. Een van die gedeeltes in die Skrif wat seker die meeste in hierdie verband aangehaal word, is Luk 23:43. In die Ou Afrikaanse Vertaling (1954) word hierdie vers as volg weergegee: "En (Y'shua) antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees". In The Scriptures (1998) lees dieselfde vers as volg: "And Y'shua said to him, "Truly, I say to you today, you shall be with Me in Paradise". Daar is wesenlik net een verskil tussen die twee vertalings en dit is die posisie van die komma: In die een vertaling staan die komma vóór "vandag" en in die ander vertaling staan dit ná "vandag". Dit lyk na slegs 'n geringe wysiging, maar die implikasies is verreikend ... die vraag is net: watter vertaling is korrek? Omdat die oorspronklike Griekse teks geen kommas bevat het nie en die res van Luk 23 ook geen ander leidrade bied nie, kan ons nie onmiddellik 'n antwoord op hierdie vraag gee nie en moet ons ons laat lei deur die getuienis van ander gedeeltes van die Skrif.

Die res van die Skrif leer dat die Paradys onder meer die plek is waar die Boom van die Lewe te vinde is (Openb 2:7) en volgens Openb. 20-22 is hierdie Boom van die Lewe deel van die nuwe hemel en nuwe aarde wat gelowiges eers ná die duisendjarige vrederyk gaan beërwe. Dit moet ook in gedagte gehou word dat Y'shua volgens die res van die evangelies nie op die dag van sy teregstelling hemel toe gegaan het nie, maar dat Hy drie dae en drie nagte "in die hart van die aarde" deurgebring het om sodoende aan die vereistes vir die teken van Jona (Matt 12:40) te voldoen. Daarna het Hy uit die dood opgestaan om aan die wil van die Vader, asook die profesieë van die Skrif uitdrukking te gee (vgl. die manier waarop Petrus die profesie van Ps 16:10 uitlê in Hand 2:25-32, asook Paulus se beskrywing van die dood van Y'shua in Efes 4:9,10). Dit was nie 'n skyndood waarin sy liggaam in die aarde, maar "Hy" in die hemel was nie.

'n Gedeelte wat ook in hierdie verband aangehaal word, is Hand 7:59 waar Stefanus voor sy dood uitroep: "Meester Y'shua, ontvang my gees." Het Stefanus die verwagting gehad om direk na sy dood by Y'shua te wees? Ons weet nou reeds dat alhoewel Y'shua presies dieselfde woorde voor sy dood uitgespreek het (Luk 23:46), Hy nie hemel toe gegaan het na sy dood nie, maar drie dae en drie nagte in die hart van die aarde was. Ons weet ook dat mense in die Ou Testament dit so verstaan het dat enige mens wat sterf (gelowige, sowel as ongelowige) se liggaam (en siel) na die aarde gaan, terwyl sy gees terugkeer na Yahweh wat in die eerste plek sy gees of lewensasem in hom geblaas het (vgl. Gen 2:7; Job 33:18; Ps 16:10; Ps 146:4; Pred 12:7). Daar is niks in die Nuwe Testament wat hierdie verstaan van die dood weerspreek of verander het nie. Dit lyk dus nie of Stefanus se (onmiddellike) verwagting enigsins verskil het van die verwagting van mense uit die Ou Testament wat die dood in die gesig gestaar het nie. Dat hy (as 'n gelowige wat bekend was vir sy geloof - Hand 6:5) egter 'n verwagting gehad het van die opstanding uit die dood wanneer die Messias weer kom, ly geen twyfel nie - hy was immers deel van die groep dissipels wat die boodskap van die opstanding uit die dood onbevrees aan hulle tydgenote verkondig het (vgl. Hand 4:2).

Nog 'n ou gunsteling in die wye spektrum van tekste oor die dood is Joh 11:26 "Elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie". Baie is van mening dat hierdie teks genoegsame bewys lewer dat gelowiges nie "werklik" sterf nie, aangesien hulle na hulle dood onmiddellik die ewige lewe binnegaan. Die konteks toon aan dat dit nie die bedoeling is nie. Vers 26 moet saam met vers 25 gelees word: "Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe". Dit is duidelik dat hierdie twee verse òf van twee soorte dood praat òf van twee soorte gelowiges. Vers 25 praat van gelowiges wat gaan sterf, maar uiteindelik tog gaan leef. Vers 26 praat van gelowiges wat nooit gaan sterf nie. Dit kan wees dat Y'shua in vers 25 van die normale dood ( of "eerste dood" - Openb 20:4) praat en in vers 26 van die ewige dood (of "tweede dood" - Openb 20:6). Dit kan egter ook wees (en dit lyk na 'n sterker moontlikheid) dat Hy in vers 25 verwys na gelowiges wat voor die tweede koms van die Messias sterf en wat verseker sal opstaan wanneer Y'shua weer kom, terwyl Hy in vers 26 verwys na gelowiges wat nog sal lewe wanneer die Messias weer kom en dus tot in ewigheid nie sal sterwe nie - dit wil sê dieselfde onderskeid wat Paulus in 1 Tess 4:16-17 ook maak.

Twee ander gedeeltes wat ook dikwels aangehaal word, is 2 Kor 5:6-8 (veral die woorde "ons verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Meester in te woon") en Fil 1:23 ("ek het verlange om heen te gaan en met die Messias te wees"). Alhoewel sommiges dit so wil interpreteer, sê nie een van hierdie verse dat die dood van die gelowige onmiddellik gevolg word deur 'n fisiese teenwoordigheid by Y'shua nie. 2 Kor 5:4 toon duidelik waarop Paulus in hierdie gedeelte sinspeel. Waarna hy uitsien en waarop hy hoop is die dag waarop hy "oorklee" (of beklee) sal word, oftewel die dag wanneer "die sterflike deur die lewe (of die onsterflike) verslind" sal word. Watter dag is dit? In die lig van 1 Kor 15:51-54 (waar hy dieselfde terme "sterflikheid", "onsterflikheid" en "beklee" gebruik) is daar geen twyfel dat dit die dag is van die opstanding van die gelowiges nie. Die feit dat beide 2 Kor 5 en Fil 1 die indruk wek van 'n ononderbroke oorgang van die realiteit van die dood na die realiteit van die opstanding, is te verstane: die gelowige wat sterwe (of "slaap" - vgl. 1 Kor 15:51 en 1 Tess 4:15) het geen bewussyn van enige tydsverloop nie - daarom ervaar hy ook geen onderbreking tussen die dag van sy dood en die dag van die opstanding tot 'n nuwe lewe nie.

Watter lig werp die gelykenis van die Ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31) op hierdie onderwerp? Dit is 'n bekende feit dat gelykenisse gewoonlik slegs één sentrale waarheid verkondig en dat die fynere detail van 'n gelykenis bloot gebruik word om die storie "in te kleur", nie om "dogma's" of "doktrines" te verkondig nie. Die gelykenis van die Ryk man en Lasarus wil die waarheid tuisbring dat daar beslis 'n lewe (met beloning en straf) na die dood is en dat diegene wat dit glo, se lewens daarvan sal getuig. Die bedoeling van die gelykenis is daarom geensins om besonderhede te gee oor "the temperature of hell and the furniture of heaven" nie - ook nie oor die vraag wat presies met 'n mens gebeur direk nadat hy gesterf het nie. Skrifverklaarders het vasgestel dat die mense in die tyd van Y'shua reeds bekend was met 'n fiktiewe verhaal oor 'n ryk man en 'n arm man, waarvan beide se bestemming in die hiernamaals net mooi die teenoorgestelde was van dit wat hulle op aarde belewe het. Y'shua sluit bloot by hierdie bekende verhaal aan om die belangrikheid van die opstanding na die dood en gehoorsaamheid aan die Skrif te beklemtoon.

Bogenoemde (en ander) Skrifgedeeltes word dikwels links en regs ingespan om te "bewys" dat gelowiges na hul dood hemel toe gaan, terwyl die gesamentlike getuienis van die res van die Skrif hoegenaamd nie so 'n siening ondersteun nie. Enige persoon wat onbevooroordeeld deur die Nuwe Testament lees, sal duidelik sien dat die grootste enkele bron van hoop vir die gelowiges was die verwagting van die koms van die Messias terwyl hulle nog lewe, of so nie, die verwagting van die opstanding uit die dood by sy koms (vgl. Matt 24:24-44; Luk 14:14; Luk 20:35; Joh 5:29; Joh 11:24; Hand 23:6; Hand 24:15; Hand 26:6; Rom 5:2; Rom 8:23-24; 1 Kor 15:12 e.v.; Efes 1:18; Fil 3:11; 1 Tess 2:19; 1 Tess 4:13-14; 1 Tess 5:8-9; Tit 2:13; Heb 6:2; 1 Pet 1:3; 1 Pet 1:13; 2 Pet 3:12; ens.). Dieselfde hoop en verwagting behoort vandag nog steeds elke gelowige se lewe te beheers. Deur te verkondig dat gelowiges direk na hul dood hemel toe gaan, word hierdie hoop wat so oneindig baie vir gelowiges oor die eeue heen beteken het, drasties afgewater en word die waarheid van die dood as onafwendbare straf op die sonde van die mens boonop misken (vgl. Gen 2:17; Gen 3:19; Eseg 18:4; Rom 3:23; Rom 6:23). Y'shua as eersteling van die wat ontslaap of "geslaap" het (1 Kor 15:20), het nie die realiteit van die (eerste) dood kom verminder nie - nee, Hy het my en jou opstanding uit die dood kom waarborg, sodat die dood nie die laaste sê het en as "oorwinnaar" uit die stryd tree nie (1 Kor 15:21-23; 32; 42; 54-55).

Die Skrif is so konsekwent in sy beskrywing van die dood as 'n toestand van "slaap" (en dus algehele onaktiwiteit) dat dit onverstaanbaar is dat talle in die christelike kerke dit vir so lank misgekyk het. Die volgende is net 'n paar gedeeltes wat hierdie waarheid bevestig: Deut 31:16; 2 Sam 7:12; 1 Kon 1:21; Job 7:21; Ps 13:4 (3); Dan 12:2; Matt 9:24; Joh 11:11; Hand 7:60; 1 Kor 11:30; 1 Kor 15:6,18,51; Efes 5:14; 1 Tess 4:13-15; 1 Tess 5:10 en 2 Pet 3:4. Die persoon wat "slaap" nadat hy gesterf het kan volgens die Skrif nie praat of dink of lofsing of getuig of planne beraam nie (vgl. Ps 6:6(5); 30:10(9); 146:4; 88:12(11); Pred 9:10 en Jes 38:18). Dit beteken egter glad nie dat hy of sy nooit weer so iets sal kan doen nie. Diegene wat "in die Messias" gesterf het (1 Kor 15:17-22) sal geheel en al, gees siel en liggaam, "bewaar" word tot by sy wederkoms (1 Tess 5:23) - byna soos wat 'n kosbare "pand" bewaar word (2 Tim 1:12). Die beste nuus van alles is dat hulle "in heerlikheid" en "in krag" en "in onverganklikheid" opgewek sal word (1 Kor 15:42,43) - nie met 'n natuurlike liggaam van vlees en bloed nie, maar met 'n geestelike liggaam wat die beeld van die hemelse dra (en nie van die aardse nie - 1 Kor 15:44-49). Die opstanding van Y'shua het vir jou en my 'n onverwelklike erfenis gewaarborg wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word (1 Pet 1:4,5). Kom ons verbly ons in hierdie heerlike hoop sonder om elemente daarby te voeg wat nie klop met die boodskap van die Skrif nie.