‘N NAAM MAAK ‘N VERSKIL

Ek het onlangs ‘n gepubliseerde briewewisseling oor ‘n omstrede saak tussen twee persone met groot belangstelling gevolg.  Met elke nuwe brief was dit asof die pap net nog ‘n klein bietjie dikker aangemaak word as in die vorige - asof die venyn van die argumente met elke opvolgbrief met ‘n paar kerwe toegeneem het.  Nogtans het beide partye hulle met groot selfdissipline by die kernsaak  gehou, en hulle aanvalle nie persoonlik gemaak nie ... TOTDAT een van die twee die fout gemaak het om reg aan die einde van sy brief sy opponent - sonder enige verduideliking - as “Danny” in plaas van “Daniel” aan te spreek.  Met die volgende brief is die sluise behoorlik oopgetrek en het die veronregte “Danny” in die krasste moontlike taal sy misnoë oor die blatante naamskending te kenne gegee - net om in die volgende brief te hoor dit was omdat hy in sy vorige drie briewe telkens sy opponent se naam verkeerd gespel het - iets wat as ‘n openlike klap in die gesig beleef is.

Niemand van ons hou daarvan as mense ons name sommer vir enige rede verdraai of selfs net verkeerd uitspreek nie.  Meeste van ons sal dit, uit respek, ook nooit met iemand anders doen nie - tensy ons baie kwaad is vir daardie persoon.  Die vraag het die afgelope tyd soos ‘n refrein in my binneste opgekom: Waarom verdraai en vervals en vermeng ons die Naam wat bo elke ander naam is - die Naam van die enigste Skepper van hemel en aarde?  Waarom volhard Bybelvertalers en denominasies en gelowiges oor geslagte heen om sy geopenbaarde, persoonlike  Naam, YAHWEH, te vermy en Hom bloot as “Here” aan te spreek?   Het ons dan nie vir Hom respek nie?  Beteken dit dan vir ons niks as Hy uitdruklik in die Woord uitstippel dat YAHWEH sy “gedenknaam van geslag tot geslag” is nie - ja,  “the Name by which I am to be remembered from generation to generation” (Eks 3:15 - NIV)?

Baie sal my op hierdie stadium onderbreek en wil weet waarom hulle dan nog nooit die naam YAHWEH in hulle Bybels teëgekom het nie.  Dis juis op hierdie punt dat die waarheid moet UIT: Die naam, YAHWEH, staan op meer as 6800 plekke in die oorspronklike dokumente van die die Ou Testament, maar die oorgrote meerderheid van Bybelvertalings het dit byna deurgaans met “die Here” vertaal!   “Here” (Afrikaans) of  “Lord” (Engels) is die normale vertalings van die Hebreeuse woord “adonai” of die Griekse “kurios” - beide woorde beteken “heerser”, “meester” of “eienaar”.  Dis ‘n skokkende feit dat “adonai” en “kurios” in die algemeen as BESKRYWENDE NAME van byna elke denkbare  afgod in die tyd van die Ou en Nuwe Testament gebruik is. 

Teen die tyd dat Bybelvertalers begin het om YAHWEH met “Here”, “Lord”, “Herr”, ensovoorts te vertaal, was hulle ten volle daarvan bewus dat hierdie vertalings ‘n heidense afgods-konnotasie gehad het wat geslagte reeds bestaan het.  Hulle was in die tweede plek ook ten volle daarvan bewus dat “Here” nie ‘n unieke eienaam of persoonsnaam soos YAHWEH was nie, maar dat dit bloot ‘n vae en algemene beskrywing van YAHWEH as Meester of Heerser was.  In die derde plek was hulle (en is hulle nog steeds) ten volle bewus van die feit dat die gebruik om YAHWEH se Naam met “Here” te vertaal, sy ontstaan te danke het aan ‘n Joodse (en onskriftuurlike) tradisie wat ‘n paar eeue voor die geboorte van Y'shua, die Messias, ontstaan het. 

Hierdie tradisie (wat later as die “ineffable name doctrine” bekend gestaan het) het bepaal dat YAHWEH se Naam te “heilig” was om uit te spreek en dat die uitspreek van sy ware Naam sou neerkom op ‘n skending van die derde gebod (“Jy mag die Naam van YAHWEH jou Elohim [*] nie ydellik gebruik nie ...”).  Iemand wat dus die Skrifte lees en die naam YAHWEH teëkom, is deur hierdie Joodse tradisie verplig om “Elohim [*]” (letterlik “magtige” of “magtiges”) of “adonai” (letterlik “heersers” of “my heerser”) te lees, ondanks die feit dat daar YAHWEH in die teks gestaan het!

Toe ‘n groep Joodse geleerdes (bekend as die Masorete) baie eeue later klinkers bygevoeg het by die Hebreeuse woorde van die Ou Testament (wat aanvanklik slegs uit medeklinkers bestaan het), het hulle YAHWEH se Naam willens en wetens - ter wille van die “ineffable name doctrine” - verdere skade berokken.  Hulle het wel die medeklinkers, JHWH, behou, maar tussenin die klinkers van “adonai” of “Elohim [*]” ingevoeg.  Die resultaat was ‘n woord wat in Hebreeus werklik onmoontlik was om uit te spreek en wat daarom noodgedwonge as “adonai” of “Elohim [*]” gelees moes word.  Die woord “Jehovah” wat vandag in sommige vertalings voorkom en wat in sommige kerklike kringe gebruik word, is afgelei van hierdie verdraaide weergawe van YAHWEH se Naam (in werklikheid ‘n mengelmoes tussen JHWH en “adonai”) en is beslis nie die korrekte uitspraak van die Vader se Naam nie. 

Die vraag is dus nou: Is dit vir YAHWEH belangrik dat ons sy werklike Naam sal gebruik?  Die versoeking is groot om eenvoudig en botweg te antwoord: “Natuurlik is dit - wie gee ons die reg om sy Naam te verander?!!” ... maar kom ons kyk eers wat sê die Skrif.  Miskien is die derde gebod ‘n goeie plek om mee te begin - dieselfde gebod wat indirek tot die naamsverandering gelei het.  “Jy mag die Naam van YAHWEH jou Elohim [*] nie ydellik gebruik nie, want YAHWEH sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Deut 5:11).  Dis interessant dat die Hebreeuse woord wat in hierdie vers met “ydellik gebruik” vertaal word (“shav”) ook in die negende gebod gebruik word: “En jy mag geen valse (“shav”) getuienis teen jou naaste spreek nie” (Deut 5:20).  In die negende gebod het ons dus ‘n alternatiewe vertaling van “shav”, naamlik “vals”.  Dus sou ons die derde gebod as volg kon vertaal:  “Jy mag die Naam van YAHWEH jou Elohim [*] nie VERVALS nie, want YAHWEH sal die een wat sy Naam vervals, nie ongestraf laat bly nie” ...”  

Kom ons kyk of dit in lyn is met wat in die res van die Skrif staan:   Jes 42:8: “EK is YAHWEH, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee nie.”   Jes 52:5,6:  “...en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster.  Daarom sal my volk my Naam leer ken ...”  Jer 16:20,21 (NAS): “Can man make gods for himself? Yet they are not gods!  Therefore behold, I am going to make them know‑‑ This time I will make them know My power and My might; and they shall know that My name is YAHWEH.”  Mal 2:2: “As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer te bewys nie, sê YAHWEH van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge in ’n vloek verander.”

Jer 23:27 is ‘n aangrypende vers: “Is hulle (d.i. die valse profete) daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl? (NAS:  “... as their fathers forgot My name because of Baal”).  Volgens die Strongs woordeboek kan “Baal” vertaal word met “master”, “owner” of “lord”.  Dit lyk my ons verkeer in dieselfde dilemma as die mense in Jeremia se tyd: deur die toedoen van valse leringe het ons YAHWEH se Naam vergeet omdat ons dit ingeruil het vir Baal se naam (Here)!  Geen wonder nie dat Hosea profeteer: “En in dié dag, spreek YAHWEH, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl (d.i. “My Here”) nie.  Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie” (Hos 2:15,16).  Ek dink ons het vandag volledig by die vervulling van hierdie profesie gekom.  Dit het tyd geword dat ons weer soos Abraham (Gen 12:7), Moses (Eks 3:15), Dawid (Ps 116:13) en Eliyah (1 Kon 18:24) die Naam van YAHWEH begin aanroep.

Ek weet hierdie is nie ‘n maklike boodskap om te verteer nie.  Daar kan egter by ons geen twyfel wees dat dit die WAARHEID is en dat YAHWEH absoluut verkies dat ons sy Naam sal ken en sal gebruik nie.  Dis die Naam wat Hy vir Homself gekies het - ‘n Naam wat in die Woord as “awesome” (Deut 28:58), “exalted” (Ps 148:13) en “glorious” (1 Kron 29:13) beskryf word.  Dis in hierdie Naam dat daar vir ons hulp opgesluit lê (Ps 124:8); dis hierdie Naam wat vir ons ‘n sterk toring is (Spr 18:10); dis hierdie Naam wat sy teenwoordigheid waarborg (1 Kon 9:3); dis in hierdie Naam dat ons oorwinning en deurbrake behaal (Ps 118:10-12); dis hierdie Naam wat ons moet aanroep wanneer ons Hom waarlik wil loof en prys (Ps 145:1,2; Ps 148:13); dis hierdie Naam wat ons lewens met vreugde vervul (Ps 5:12); dis na hierdie Naam dat daar ‘n begeerte en ‘n hunkering in ons siel is (Jes 26:8); dis in hierdie Naam dat elke verloste kan roem en vertrou (Ps 20:8); dis in hierdie Naam dat ons in die laaste dae sal wandel en wat ons van die goddeloses sal onderskei (Miga 4:5) en dis oor hierdie Naam dat die nasies van die aarde ons sal uitken en vir ons sal vrees (Deut 28:10) en uiteindelik ook sal vervolg (Luk 21:12 - die Naam van ons Messias, Y'shua, word in ‘n afsonderlike artikel behandel).

Op suiwer Skriftuurlike gronde is dit heeltemal in die haak om aanspreekvorme en beskrywingsvorme vir YAHWEH te gebruik soos Vader, Meester, Skepper en Elohim [*], solank ons in gedagte hou dat nie een hiervan sy unieke, geopenbaarde persoonsnaam is nie en dat hierdie benaminge binne sekere kontekste totaal iets anders kan beteken as wat ons dink en selfs na ‘n afgod kan verwys.  Satan is slim genoeg om te weet dat hy ons in ons geloofslewe kan kortwiek deur ons daarvan te weerhou om YAHWEH se korrekte Naam te gebruik.  Hierdie openbaring van die Naam van YAHWEH beteken nie dat alles wat in die verlede met ‘n opregte gesindheid “in die Naam van die Here” gedoen en gesê is, nou nietig verklaar word nie.  Hoegenaamd nie.  In die meeste gevalle is dit uit onkunde dat die ware Naam van die Vader nie gebruik is nie.  Die Vader ken elke deeltjie van ons hart.  Noudat ons egter weet ... “as julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh 13:17).

 

[*]  Die woord “God” wat in meeste vertalings as ‘n titel vir die Allerhoogste gebruik word, is nie ‘n eienaam nie (dus is dit NIE die geopenbaarde Naam van die Almagtige nie), maar ‘n poging om die Hebreeuse woord “Elohim”, wat bloot “magtiges” of “magtige een” beteken, te vertaal.  Die woord “God” is egter op sy beurt self van heidense afkoms en is afgelei van die naam van die afgod “Gad”, wat in sommige kulture ook as “Godan”, “Goda”, “Gott”, “Guth”, “Gud” en “God” bekendstaan!  Volgens die Indogermanisches Etymologisches Wörterbuch, vol 1, van Julius Pokorny beteken die woord “ghodh”:  vereniging, ook seksuele vereniging of paring.  Behalwe die name van die afgode wat hierbo genoem is, kom die Duitse woord “gatten”, die Nederlandse “gaden” en die Engelse “beget, begat, begotten” ook van hierdie woord.  Daar is nog meer bewyse (lees “Gaan uit haar uit, my Volk” deur C.J. Koster) wat dit absoluut duidelik maak dat die woord “God” van heidense oorsprong is en daarom verkies ons om hierdie woord nie met die Almagtige te verbind nie.