DIE OPENBARING VAN DIE SKRIF OOR DIE LAASTE DAE

Hierdie onderwerp dek so 'n groot veld dat dit onmoontlik is om in ‘n  kompakte bestek soos hierdie selfs net melding te maak van die verskillende fasette wat met die “laaste dae” verband hou.  Daarom sal ons probeer om slegs 'n paar van die belangrikste tendense te behandel wat in die breë denke in kerklike en christelike kringe na vore kom. Die begrip “laaste dae” op sigself het verduideliking nodig. Die sogenaamde “laaste dae” is 'n periode wat reeds in die Skrif aangekondig word en tog het daar intussen omtrent 2000 jaar verloop en nog steeds het die einde nie aangebreek nie. Volgens Heb 1:1 het die laaste dae aangebreek met die koms van Y'shua na hierdie aarde.  Hand 2:17 sê dat Yahweh sy Sees in die laaste dae uitstort en sien die gebeure  in Hand 2 minstens as 'n gedeeltelike vervulling van hierdie profesie wat oorspronklik in Joël 2 opgeteken staan.  Joël 2, aan die ander kant, gebruik nie die begrip “laaste dae” nie, maar plaas die hele profesie in die konteks van “die dag van Yahweh” - daardie dag wanneer Yahweh enersyds sy toorn oor die sonde van die wêreld gaan   uitstort en andersyds die finale verlossing vir sy volk gaan bring. Dit wil dus voorkom of die Skrif met “laaste dae” verwys na die tydperk voor die finale koms van die Seun van die mens - 'n tydperk wat eintlik alreeds met die eerste koms van die Messias aangebreek het, maar waarvan die klimaks waarskynlik êrens in die nabye toekoms lê.  Die enigste  manier om hierdie geweldige lang tydperk wat met die begrip “laaste dae” gedek word, te verstaan, is om dit in die konteks van 2 Pet 3:8 te plaas: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie ... dat een dag by Yahweh soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”

 

Toe sy dissipels Hom uitgevra het oor sy tweede koms en oor die voleinding van die wêreld (Matt 24:3), het Y'shua aangedui dat daar sekere kentekens sal plaasvind wat vir die gelowiges as leidrade sal dien dat die einde naby is. Die meeste hiervan is baie bekend (bv. misleiding, valse leraars, oorloë, gerugte van oorloë, botsings tussen nasies, hongersnood, pessiektesaardbewings, vervolging van die gelowiges, struikeling van gelowiges, verraad en haat deur “gelowiges”, gelowiges wat in hulle liefde “afkoel”, vermeerdering van wetteloosheid, en die verkondiging van die ware evangelie oor die hele wêreld). Ons kan nie op elkeen van hierdie dinge ingaan nie, maar die leser kan egter gerus 'n studie van hierdie lysie maak en veral kennis neem van die feit dat tipies hedendaagse verskynsels soos die toename in wetteloosheid (letterlik: teenkanting teen die wet) en verdeeldheid tussen gelowiges ook tel onder die “tekens van die tye”. Dit blyk egter dat die Skrif (hier in Matt 24, maar ook op ander plekke) konsekwent is daaroor dat daar direk voor die einde 'n periode gaan aanbreek wat as die Groot Verdrukking (Matt 24:21; Mark 13:19; Openb 7:14) of die Groot Benoudheid (Jer 4:31; 30:7; Dan 12:1) of die Groot Weë of Barensnood (Jes 13:8; Jes 26:18; Jes 66:8) of die Groot Afval (2 Tess 2:3; 1 Tim 4:1; Dan 11:32) of die Groot Verleiding (2 Tes 2:10; Openb 13:13,14; Dan 7:25) beskryf kan word.

 

Die tydsduur van hierdie periode word in sommige gedeeltes profeties gelykgestel met die tydsduur van die Groot Droogte in die tyd van Elijah, nl. drie en 'n half jaar of 42 maande of 1260 dae (vgl. Openb 11:2; Openb 11:3; Openb 12:6; Openb 12:14; Openb 13:5; Dan 7:25). Sommige gedeeltes dui daarop dat die volle periode moontlik sewe jaar kan wees - dus twee agtereenvolgende periodes van drie en 'n half jaar (vgl. Dan 9:27 - dit is egter glad nie 'n uitgemaakte saak dat die laaste van die sewentig “sewetalle” of “jaarweke” in Daniël noodwendig dui op die periode reg voor die koms van die Messias nie). In ieder geval moet dit hier in gedagte gehou word dat ons met profetiese tydsaanduidings te make het en dat die tydseenhede waarvan hier gepraat word nie noodwendig dieselfde lengte het as dae, maande en jare soos wat ons dit ken nie. Die feit dat daar meer as dertig gedeeltes in die Ou Testament is wat die begrip “Dag van Yahweh” gebruik om 'n profetiese dag te beskryf waarop daar op die oog af ver meer gaan plaasvind as wat in een “gewone dag” ingepas kan word, versterk die vermoede dat die profetiese “dae” van die Skrif nie (altyd) gewone dae is nie. Boonop is daar in 'n hoofstuk soos Openb 11 'n opvallende parallel tussen die drie en 'n halwe “jaar” waartydens die twee getuies gaan optree en die drie en 'n halwe “dag” waartydens hulle lyke gesien sal kan word.  Selfs al aanvaar ons dat hierdie tydperk van verdrukking letterlik op drie en ‘n half jaar vasgestel is, kan ons nog nie met sekerheid sê hoe lank dit gaan duur nie, want Y'shua het uitdruklik verklaar dat “ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mat 24:22).

 

Belangriker as die vraag presies hoe lank die periode van Afval of Verdrukking of Misleiding gaan wees, is die vraag: Gaan die gelowiges deel wees van hierdie gebeurtenis, of nie?  Gaan daar 'n “wegraping” voor die Groot Verdrukking of die Groot Misleiding plaasvind, of nie? Gaan daar 'n onderskeid wees - nie net tussen gelowiges en ongelowiges nie, maar ook tussen gelowiges en gelowiges?  Gaan sekere gelowiges bo ander gelowiges uitgesonder word en van hierdie aarde verwyder word voordat die werklike moeilike tyd aanbreek?  Deur bloot daardie gedeeltes te bestudeer wat oor die Groot Verdrukking praat en te probeer vasstel of hierdie periode ware gelowiges insluit of nie, kan daar alreeds redelike duidelikheid oor hierdie kwessie verkry word. As die getuienis van die Skrif bo alle twyfel daarop dui dat ware gelowiges gaan deel uitmaak van die Groot Verdrukking, kan die argument van 'n “wegraping” voor die Groot Verdrukkings immers nie ondersteun word nie.

 

As vertrekpu:nt sou ons hier net weer kon verwys na Mat 24:22 waarna reeds hierbo verwys is en wat duidelik impliseer dat hierdie periode “verkort” gaan word omdat dit 'n moeilike tyd vir gelowiges sal wees - hulle sal met ander woorde deel uitmaak van die gebeure van hierdie tyd.  Dit word bevestig deur die res van Mat 24 en talle ander Skrifgedeeltes.  “Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak...” (Matt 24:19); “wie volhard tot die einde toe sal gered word” (Matt 24:13); “wanneer julle die gruwel van die verwoesting sien staan (Matt 24:15); “bid dat julle vlug nie in die winter plaasvind nie” (Matt 24:20); “as hulle dan vir julle sê: Hy is in die woestyn ...” (Matt 24:26); “en dadelik na die verdrukking van daardie tyd ... sal al die stamme van die aarde die Seun van die mens sien ...... en Hy sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke” (Matt 24:29-31). “Aan hom (die dier uit die see) is mag gegee om dit 42 maande lank te doen (dit is: om godslasteringe uit te spreek) ... dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges ... (Openb 13:5-7). Hier is geen onduidelikheid nie: (1) Daar gaan 'n periode van verdrukking wees (2) Die gelowiges gaan dit self deurmaak en moet daarop voorbereid wees, en (3) Die Seun van die mens gaan op 'n sigbare wyse, na die periode van verdrukking, verskyn en eers dán sal Hy sy uitverkorenes versamel.

 

Paulus skryf aan die Tessalonisense: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms (“parousia”) van ons Meester Y'shua die Messias, en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie - deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees - asof die dag van Messias al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teenstander wat hom verhef bo al wat Elohom genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van Yahweh as die Almagtige sal sit en voorgee dat hy die Almagtige is” (2 Tess 2:1-4).

 

[Net 'n enkele  woord oor die “teenstander” of “die seun van die verderf” wat in hierdie Skrifgedeelte vermeld  word.  Dis hierdie figuur wat allerweë beskou word as die “Antichris” of “antimessias” (letterlik: “teen die Messias” of “valse Messias, wat met die ware Messias verwar word”). Al was die gees van die antimessias van die vroegste tye al aan die werk in hierdie wêreld (in verskillende gestaltes - vgl. Matt 24:24 en 1 Joh 4:3), is daar ‘n groot Antimessias wat in die toekoms (tydens die Groot Verdrukking) op die toneel gaan verskyn (vgl. Dan 7:24-26; Dan 8:23-25; Dan 9:21; Dan 11:36-40). Dit is hy wat die gruwel van die verwoesting in die heiligdom  sal oprig (Matt 24:15); wat sal voorgee dat hy die Allerhoogste is (2 Tess 2:4); wat die groot verleier is (2Joh 1:7); wat teen Yahweh, teen sy Naam en teen sy tabemakel sal laster (Openb 13:6); wat saam met die valse profeet sal aandring dat 'n merk op mense se regterhand en voorhoof aangebring word (Openb 13:16); wat groot en magtige tekens sal doen (Openb 13:13) en wat die heiliges tot die dood toe sal vervolg (Openb 13:7). Sy vervolging van die heiliges is egter beperk tot'n tyd, tye en 'n halwe tyd (vgl. Dan 7:25 en Openb 12:14- is dit drie en ‘n half jaar?)]

 

Die “broeders” (ware gelowiges!) hoef dus geensins te twyfel of die wederkoms al plaas gevind het of nie - die “afval” (of verdrukking) moet eers plaasvind, tesame met die optrede van die “seun van die verderf” - voordat dit nie gebeur nie, sal die Messias nie kom nie, al is daar mense wat so 'n boodskap probeer verkondig. Sommiges gebruik hier 'n alternatiewe vertaling om 'n vroeë wegraping standpunt te regverdig:  in plaas van “eers moet die afval kom”, vertaal hulle as volg: “eers moet die verwydering plaasvind”. Die konteks van 2 Tess 2 regverdig egter nie so 'n vertaling nie. Dis duidelik dat Paulus (net soos Y'shua in Matt 24) vir sy lesers 'n aantal tekens wil gee waaraan hulle sonder enige twyfel sal weet of die Messias al gekom het, en indien nie, hoe naby sy koms wel is. Die hele argument val egter plat as die “wegraping” die eerste teken aan gelowiges is dat die “dag van Christus” nog nie aangebreek het nie. Hoe kan die wegraping ‘n teken wees vir hulle wat self “weggeraap” word?

 

Die waarheid is: Die Skrif weet niks van 'n wegraping van gelowiges (of 'n seleksie van gelowiges) voor die dag van die koms (“parousia”) van die Seun van die mens nie. 1 Tess 4 sê dat Y'shua op die dag van die “parousia” met 'n geroep, die stem van 'n aartsengel, en die geklank van die basuin van Yahweh van die hemel af sal neerdaal. Dis op daardie dag dat diegene wat as gelowiges in die Messias gesterf het, sal opstaan en dis op dieselfde dag dat die gelowiges in die Messias wat nog lewe, in die wolke “weggevoer” of “opgevang” of “weggeraap” gaan word om daarna vir ewig by Hom te wees (vgl. 1 Tess 4:15-18). Wat gaan dan gebeur? Hierdie dag van die wederkoms van die Messias, die dag van die gelowiges se vereniging met Hom (2 Tess 2:1), word ook genoem “die dag van die Messias” (Fil 2:16; 2 Tess 2:2) of “die dag van Y'shua” (1 Kor 1:6; 1 Kor 5:5; 2 Kor 1:14; Fil 1:6). In die Ou Testament staan dit bekend as “die dag van Yahweh”. Behalwe dat dit die dag van die verlossing van die gelowiges is, is dit ook die dag van die uitstort van Yahweh se toorn oor die sonde van hierdie wêreld en sy mense (vgl. Jes 13:6-9; Joël 1:15; Joël 2:1,11; Sef 1:14,15; Sag 14:1-3). Dis op hierdie dag dat die goddeloses en die nasies van hierdie wêreld met die grimmigheid van die Allerhoogste te make gaan kry (vgl. Openb 19:11-15). Dis hierdie twee “teenoorgestelde” gebeurtenisse op dieselfde groot “dag” (‘n dag wat moontlik langer gaan duur as die normale dae wat ons ken) wat Paulus in gedagte gehad het toe hy geskryf het dat Yahweh ons nie bestem het tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur Y'shua die Messias (1 Tess 5:9). Daar is 'n duidelike verskil tussen die periode van die Groot Verdrukking (wat voor die koms van die Messias plaasvind) en die uitstort van die toorn van Yahweh (wat na die koms van die Messias plaasvind).

 

As ons die volgorde van Openbaring 19, 20 en 21 aanvaar as die letterlike volgorde van gebeure na die koms van die Messias (en daar is talle aanduidings in hierdie drie hoofstukke, sowel as elders in die Skrif dat dit wel die geval is), dan word Y'shua se koms en die gepaardgaande openbaring van sy redding en sy toorn gevolg deur 'n duisend jaar van vrede (omdat Satan gebind word) en gelowiges se heerskappy as konings en priesters, hier op aarde, saam met Y'shua as Koning van die konings en as Heerser van die heersers. Daar is talle profesieë in die Ou Testament oor ‘n toekomstige tydperk van ongekende vrede en voorspoed, met Israel en Jerusalem as fokuspunt (bv. Jes 11:6-9; Jes 29:18-24; Jes 54:1-17; Jes 60:1-22; Jes 61:1-11; Jes 65:17-25; Jes 66:10-24; Eseg 36:9-38; Eseg 37:1-28; Amos 4:1-14; Amos 5:1-15; Sag 8:1-23; Sag 9:9-17; Sag 14:921). Uit die geskiedenis is dit duidelik dat hierdie profesieë nog nie hul finale vervulling gehad het nie. Natuurlik is daar talle onderafdelings” van hierdie profesieë wat in die loop van die geskiedenis vir indiwiduele gelowiges in 'n voorlopige sin waar geword het (en daarom ook groot geestelike betekenis ingehou het), maar die finale klimaks en die ware vervulling van hierdie profesiee lê ongetwyfeld in die toekoms.

 

Die enigste manier waarop hierdie profesieë verklaar kan word, met inagneming van die konteks van die Skrif in sy geheel, is deur dit te verstaan as beloftes van dieselfde (duisendjarige) vrederyk wat in Openb 20 beskryf word -‘n heerlike vooruitsig vir almal wat “die getuienis van Y'shua en die Woord van Yahweh” vasgehou het, “wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie” (Openb 20:4). Vanuit hierdie oogpunt gesien, is daar 'n besondere openbaring opgesluit in die beskrywing, “dag van Yahweh”: Al is dit 'n “dag” waarin Hy onder meer sy toorn op hierdie wêreld gaan uitstort, is dit vir die gelowige ook die aanbreek van 'n “dag” van vrede, 'n “dag” van rus - ja 'n sabbatdag waarin die heiliges of afgesonderdes,  net soos die Skepper reg aan die begin, van al hulle werke gaan rus. Net soos die werk van die Skepper tydens die Skepping, het die Almagtige ses “dae” (ses milleniums) bepaal waarin die mens sy brood sou eet “in die sweet van sy aangesig” (Gen 3:19). Maar op die sewende “dag” (millenium) breek daar 'n periode van rus aan vir hulle wat voor Hom gewandel het en sy aangesig gesoek het. Die “dag van Yahweh” (of “die dag van die Here”, soos sommiges verkies om te sê) is en was nog nooit die eerste dag van die week (Sondag) nie. Die enigste dag wat Yahweh ooit uitgesonder en geheilig het, was die sewende dag van die week. Want in sy volmaakte beplanning vir hierdie wêreld het Hy 'n groot, sewende “dag” bepaal - die hoogtepunt van die ganse geskiedenis van die mensdom, waarin daar 'n totaal nuwe betekenis aan die konsep van “rus” gegee sal word (vgl. Heb 4:3-11). Wat 'n heerlike belofte en vooruitsig lê nie vir ons hierin opgesluit nie!