Kommentaar op 'n Artikel wat aandui dat nie-Joodse Gelowiges vandag nie meer die Sabbat moet onderhou nie, maar die Sondag as Gedenkdag van die Messias se Opstanding moet vier

Die kommentaar wat hier volg is nie bedoel om 'n persoonlike aanval in die openbaar te loods nie. Enkele uittreksels uit 'n studiestuk word aangehaal en ontleed met die uitsluitlike doel om antwoorde in die Skrif te probeer vind op argumente wat dikwels gebruik word om die Sabbat in diskrediet te bring. Hopenlik is daar gelowiges wat wonder oor wat hulle houding teenoor die Sabbat behoort te wees, wat hierby baat sal vind

1. "die Sabbat was vir Israel en nie vir ander volke gegee nie" - dis waar, maar dieselfde geld van bykans elke ander gebod, belofte en seëning waarvan ons in die Skrif lees. Selfs die belofte dat daar 'n Messias sou kom is net aan Israel gegee, maar omdat dit die Vader se plan was om al die volkere van die aarde DEUR Israel te seën, kan ons ook deel verkry aan die Messias en elke ander belofte (en die voorwaardes wat aan hierdie beloftes gekoppel word!) wat die Messias kom bevestig het. As die vyfde gebod (oor eerbied vir ouers) en sesde gebod (oor moord pleeg) vandag nog vir ons geld, waarom nie ook die vierde gebod nie?

2. "dit gaan nie vir (Yahweh) om die dag nie, maar om die beginsel van die dag" - Ons het geen reg om so 'n uitspraak te maak, as die hele Skrif duidelik uitstippel dat dit die sewende dag is wat afgesonder en geseën is. Nêrens in die hele Skrif is daar enige aanduiding dat mense die keuse gehad het om enige dag van die week as rusdag in te ruim nie. Hierdie argument is 'n argument wat teoloë graag gebruik, maar wat indruis teen die Skriftuurlike beginsel dat Yahweh 'n spesifieke dag uitgesonder het en dat al die profete, die Messias self en die apostels hierdie spesifieke dag as rusdag gehou het.

3. "Met die instelling van die Sondag ... is die skeppingshandeling van een uit elke sewe dae (ge-)honoreer" - Nêrens in die Skrif word daar van die "instelling van die Sondag" gepraat of na so 'n gebeurtenis verwys nie. Die "instelling van die Sondag" is iets wat lank na die aardse bediening van die Messias gebeur het, onder leiding van kerk- en staatsleiers wat doelbewus van die Jode en "Joodse gebruike" wou wegbeweeg en 'n saak daarvoor probeer uitmaak het dat Skrifgedeeltes soos Ps 118:24 en Openb 1:10 na die Sondag verwys. Die res van die Skrif ondersteun egter glad nie so 'n standpunt nie.

4. "die regte gebruik van die Sabbat (teenoor die "verkeerde gebruik" van byvoorbeeld die Fariseërs) word deur (Y'shua) aangedui ... dit was ook (Y'shua) se gewoonte om op die Sabbat die Woord te verkondig" - 'n vraag wat ons vir onsself moet uitmaak is of dit reg is dat diegene wat hulleself "dissipels" van Y'shua noem, in 'n belangrike opsig afwyk van hierdie "regte gebruik" van die Sabbat en die "gewoonte" wat die Messias as voorbeeld nagelaat het. As dit sy bedoeling was dat sy volgelinge in hierdie opsig nie ten volle sy voorbeeld moes volg nie, waarom het Hy nooit so iets te kenne gegee nie? Dit is duidelik dat ons in ons onderhouding van die Sabbat nie die gebruike en die mensgemaakte insettinge van die Fariseërs moet navolg nie, maar die voorbeeld van die Messias.

5. "(Y'shua) het nie gesê dat die Joodse Sabbat tot aan die einde sou voortduur nie" - As ons van die "Joodse Sabbat" wil praat, moet ons ook van die Joodse Messias, die Joodse Psalms en die Joodse Skrif praat. In Lev 23:3 word die Sabbat egter duidelik die Sabbat van Yahweh genoem, en nie die Sabbat van die Jode nie. Die waarheid is dat die Messias nie gesê het dat die Sabbat NIE tot aan die einde sou voortduur nie. Die profeet Jesaja het duidelik gesê dit sál (Jes 66:23) en in sy profetiese rede oor die eindtyd het Y'shua geïmpliseer dat daar reg aan die einde nog 'n waaksame groep gelowiges sal wees wat die Sabbat sal hou (Matt 24:20).

6. " 'vervul' (in Matt 5:17-19)... beteken om vol te maak, van krag te maak, geldig te maak, af te handel, beëindiging van 'n tydperk of taak" - Die Hebreeuse woord wat die Messias hier gebruik het (wat met "vervul" vertaal word) is heel waarskynlik afkomstig van die stamwoord "maleh" of "malah" (alm) wat onder meer "fulfil", "accomplish", "confirm" en "overflow" beteken. Hierdie woord word onder meer in Num 32:10-12; Deut 1:36; Jos 14:8-9; Jos 14:14; 1 Kon 2:27; 2 Kron 36:21 en Ps 20:4-5 gebruik en in elkeen van hierdie gedeeltes het dit die betekenis van "om die woorde of opdragte van Yahweh heelhartig (of: oorvloediglik) uit te voer". Die konteks van Matt 5:17-19 toon ondubbelsinnig aan dat die Messias dieselfde bedoeling gehad het en dat dit hier NIE die betekenis het van "om af te handel" of "om te beëindig"nie - vgl. vers 19: "Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele." Dit is direk TEEN die uitdruklike leer en bedoeling van die Messias as ons volhou dat Hy die geldigheid van die wet afgehandel of beëindig of het.

7. Kol 2:16-17 toon aan dat die Sabbat, wat 'n skaduwee van die toekomstige was, moes verdwyn met die koms van (die Messias) - 'n Letterlike vertaling van hierdie twee verse is as volg: "Moenie dat enige iemand julle oordeel in spys en in drank nie, hetsy met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of 'n Shabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam van die Messias." Die primêre bedoeling van hierdie twee verse is nie om bloot te sê dat die feeste en sabbatte 'n skaduwee van die toekomstige dinge is nie, maar dat gelowiges nie moet toelaat dat enige iemand behalwe die liggaam van die Messias vir hulle voorskryf oor wat hulle op 'n fees of 'n nuwemaan byeenkoms of 'n sabbat moet eet en moet drink nie. Feeste en nuwemane en sabbatte is weliswaar 'n "skaduwee" van die toekomstige dinge, maar omdat hierdie toekomstige dinge nog nie plaasgevind het nie, is die skaduwee(s) bedoel om ons gereeld daaraan te herinner. Net soos wat mense nie hulle eie skaduwees kan "afskud" nie, net so kan die toekomstige dinge nie sonder hierdie skaduwees tot stand kom nie.

8. In Rom 10:4 word (die Messias) die einde van die wet genoem - Die Messias word hier nie bloot die einde van die wet genoem nie, maar "die einde van die wet tot geregtigheid". Uit die konteks kan gesien word dat die Jode voorheen hulle eie geregtigheid probeer verwerf het deur die wet te onderhou en dat die Messias 'n einde hieraan gemaak het. Geregtigheid word nou toegereken (sonder verdienste) aan die wat in die Messias glo, deurdat mense wat voorheen nie Yahweh se ewige beginsels van geregtigheid nagekom het nie, vergifnis ontvang deur die bloed van die Messias. Hierdie mense (gelowiges in die Messias) word egter nie onthef van die verantwoordelikheid om steeds Yahweh se geregtigheid na te streef nie. Trouens, deur hulle verbintenis met die Messias en deur die innerlike werking van die Gees van Yahweh, ervaar hulle 'n nuwe, innerlike motivering om die Vader te behaag en sy opdragte te gehoorsaam (Rom 6:1-2; 14-15).

9. "dit spreek vanself dat hierdie teken van onderskeid (d.w.s. die Sabbat, wat net aan Israel gegee is) moes verdwyn toe al die volke begin deel het in die seëninge" - Dit spreek alleen vanself as ons uitgangspunt is dat Yahweh met twee verskillende verlossingsplanne werk - een vir die Jode en een vir die nie-Jode. Die Skrif laat ons egter nie toe om so 'n uitgangspunt in te neem nie. Die Vader het EEN plan van verlossing, EEN soort geregtigheid en EEN Verlosser wat hierdie plan en hierdie geregtigheid kom illustreer het. Dit word onder meer duidelik in die verhaal van Rut, die Moabitiese vrou, wat haar losser gevind het toe sy haar by die Elohiem van Israel geskaar het ("waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u Elohiem is my Elohiem" - Rut 1:16). Ook in 'n gedeelte soos Jesaja 56:1-7 waar dit duidelik uitgestippel word dat mense uit ander nasies wat hulle by Yahweh aansluit en onder meer die Sabbat hou, 'n naam sal ontvang wat beter is as seuns en dogters. Dieselfde waarheid word deur Paulus se beeld bevestig van die wilde olyfboomtakke wat op die oorspronklike olyfboom (Israel) ingeënt word (Rom 11), asook Efes 2:11-22 waar gelowiges uit ander nasies "medeburgers van die afgesonderdes en huisgenote van Elohiem" genoem word. Die "vyandskap" wat die Messias volgens Efes 2:15 tot niet gemaak het, is nie die wet of die Torah in sy suiwer vorm nie, maar die "wet van die gebooie wat in insettinge bestaan". Die Griekse woord wat hier met "insettinge" vertaal word, is "dogma", afgelei van "dokeo" wat beteken "lyk", "dink", "verbeel" en dui op die opinies en interpretasies van mense (in hierdie geval die Jode wat hulle eie mensgemaakte wette en doktrines by die Torah van Yahweh gevoeg het). Die woord "dogma" verwys in die Skrif nooit na iets wat die Vader self gesê het nie.

10. Die Skrif toon aan dat, na die opstanding van (die Messias), Sondag as "spesiale" dag gevier sou word - 'n Mens moenie probeer om die Skrif iets te laat sê wat dit in werklikheid nie sê nie - talle kerkleiers (uit verskeie kerklike tradisies of agtergronde) het oor die jare en eeue al erken dat die Sondag as "spesiale" dag gehou word, nie omdat dit so in die Skrif aangedui word nie, maar omdat die vroeë kerk besluit het om aan hierdie dag groter prominensie as aan die ander dae van die week te verleen. Ps 118:23-24 verwys duidelik nie na die dag van Y'shua se opstanding nie, of na enige dag wat weekliks gevier sal word nie, maar na die "dag van Yahweh" waarna talle ander gedeeltes in die Skrif (Ou en Nuwe Testament) ook verwys. Openb 1:10 verwys ook na hierdie dag en die hele Openbaringboek is eintlik 'n beskrywing van wat voor en op hierdie "dag" sal gebeur. Ons het geen gronde uit die res van die Skrif om te sê dat die "dag van Yahweh" of die "dag van die Meester" na die weeklikse Sondag verwys nie. 'n Mens wonder hoe die vroeë kerkvaders daarby uitgekom het dat die opstanding van die Messias weekliks gevier moet word, maar dat sy dood, wat tog immers ten nouste aan sy opstanding verbind is, slegs een maal per jaar gevier moet word. Die Messias het nie op die dag van sy opstanding aan sy "vergaderde kerk" verskyn nie. Toe Hy aan die dissipels verskyn het, was dit reeds aand - dus die begin van 'n nuwe dag volgens die tydsbegrip van daardie tyd. Hand 20:7 verwys na 'n byeenkoms van die gelowiges vir 'n spesifieke rede: Sha'ul (Paulus) sou die volgende dag vertrek en dit was die laaste geleentheid om tyd saam met hom deur te bring. Volgens die tydsbegrip van daardie tyd het hierdie byeenkoms heel moontlik oor twee dae gestrek, omdat dit onwaarskynlik is dat hulle eers na sononder bymekaar sou kom om brood te breek. "Brood breek" is iets wat die vroeë gelowiges daagliks gedoen het (vgl. Hand 2:46) en beteken nie noodwendig Nagmaal nie (anders het Sha'ul Nagmaal gehou saam met heidene op 'n Romeinse skip in Hand 27:35). 1 Kor 16:1-2 verwys nie na 'n gemeentelike byeenkoms nie, maar na 'n praktiese reëling wat aan indiwiduele gelowiges voorgehou word ("elkeen van julle moet self opsy sit ..."). Geldsake was nie bedoel vir die Sabbat nie en die eerste dag van die week was dus 'n meer geskikte dag om geld opsy te sit vir hierdie insameling (wat eers later sou plaasvind).

Hierdie kommentaar is nie geskryf om 'n "punt" te maak of 'n argument te wen nie, maar met die uitsluitlike bedoeling dat gelowiges wat opreg is in hulle wandel met Yahweh, sal toelaat dat hulle verstaan van die Skrif deur die Gees van Yahweh bepaal word en nie deur wanvoorstellings wat mense (soms uit onkunde) as die "waarheid" aan ons probeer voorhou nie.